Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: Covid-ledigheid ‘lei tot kapings’

Ledigheid is die duiwel se oorkussing, het Knormoer van kindsbeen geleer. En nou, met die Covid-19-pandemie wat wêreldwyd mense forseer om tuis te sit, blyk dit soveel meer waar te wees.

Uit Amerika word berig dat groot stede ’n skielike toename in motorkapings ervaar het sedert die pandemie verlede jaar mense gedwing het om tuis te bly.

In Chicago het kapings verdubbel, terwyl in die Maryland-staat dit met 150% opgeskiet het.

Die Finse jaer Hannu Mikkola (78), wat op sy dag talle titels in sy Audi Quattro Sport gewen het, is verlede naweek oorlede.

Die groot bekommernis vir die owerhede is glo die feit dat die kapers meestal tieners is: Kinders wat verveeld tuis sit.

Die dilemma is velerlei. Skole is toe, en tronke het talle gevangenes wat op ligte strawwe daar sit, vroeër vrygelaat om oorbevolking teen te werk. Maar nou, met die pandemie, is daar minder toesig oor dié kinders.

’n Opmerking van ’n polisielid is aangehaal wat daarop neerkom dat die tieners die motorkapings soos ’n rekenaarspeletjie benader, en ervaar. Hulle pluk ’n geweer uit en huiwer nie om te skiet nie. Dis net ’n motor, en nog ’n skoot.

Die pandemie se gevolge strek veel wyer as net mense wat siek geword het.

  • Knormoer wil intussen die Yanks aanraai om Suid-Afrika te kontak vir raad met kapings. Soos met talle ander duistere goed, is ons die kampioene hierin.

My kultuur op jou kardeur

’n Interessante en potensieel hoogs plofbare gesprek het pas in Amerika afgeskop oor die gebruik van inheemse stamname vir motorvoertuie.

Chuck Hoskin, leier van die Cherokee-stam, het verlede maand ’n brief aan Jeep geskryf waarin hy gevra het dat die vervaardiger moet ophou om sy sportnutse die Cherokee en Grand Cherokee te noem.

“Ek is seker dit word goed bedoel,” het Hoskin gesê, “maar dit eer nie ons stam om ons naam op die agterklap van ’n voertuig te plak nie.”

Stellantis, die nuwe oorhoofse eienaar van Jeep, het intussen ’n Zoom-gesprek met Hoskin hieroor gevoer.

Die uiteinde is nog nie bekend nie. Maar dié gewilde gebruik van ’n vroeëre era, soos wat talle bofbal- en voetbalspanne ook vir dekades al Indiaanse name vir hul eie gewin inspan, lok vandag al meer vrae uit.

“Leer liewer ons taal ken. Ons tradisies, ons kultuur, en ons geskiedenis,” het Hoskin gesê.

Dis ’n baie moeilike onderwerp vir Knormoer. Volkswagen gebruik Touareg vir sy sportnuts, en Citroën het hom die gramskap van Pablo Picasso se familie op die hals gehaal toe hy sy minibussie die C3 Picasso genoem het.

  • Die teenpool is natuurlik die Chinese naamgee-struktuur. ’n Nuwe stadsontwikkeling by ’n hoëspoed-treinstasie word genoem . . . Nuwe Hoëspoedtrein Stad. Hier’s ’n Knormoer-konstante: Naamgee was nog nooit enige amptenaar se sterkpunt nie.

Nog lewe in die binnebrandenjin?

Met Europese en Amerikaanse wetgewers wat fluks daarmee vorder om petrol- en dieselvoertuie uit stede te verban, skop die motorbedryf hier en daar nog vas.

Net onlangs het Porsche gesê hy het ’n biobrandstof ontwikkel wat feitlik CO2-vry is. En nou het Brittanje se motorowerhede ook die groen lig vir die sogenaamde E10-petrol gegee om in Brittanje gebruik te word.

Dié brandstof benut 10% bio-etanol, wat met suiker en plantmateriaal gemaak word. Toetse het gewys die gebruik hiervan kan die land aan 750 000 ton CO2 per jaar help bespaar: die ekwivalent daarvan om 350 000 voertuie van die pad af te neem.

Dis hoeveel motors Suid-Afrika in ’n jaar verkoop.

  • Knormoer reken e-voertuie moet nie as die enigste panasee vir die bestryding van lugbesoedeling gesien word nie.
Meer oor:  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.