Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: Dink mooi oor regmaak-plan
Vies kêrels en fris boarms – as dit jou smaak is, is daar ’n handelaar in New York wat jou sal betaal om al die Fast & Furious-films by hom te kyk.

Daar is ’n drukgroep in die motorbedryf wie se gekerm so lastig raak soos daai vlieg wat om jou kop draai as jy teen ’n steilte uitdraf of -trap.

Right2Repair wil hê ons moet ons voertuie kan gaan diens by enige tegnikus in die land. Nie slegs by die goedgekeurde handelaar (wanneer die voertuig se diensplan nog geldig is) soos tans die geval is nie.

Jy moet ook enige onderdele kan gebruik, sê hulle. Nie slegs die motorvervaardiger se eie produkte nie.

Die groep is nou al ’n paar jaar lank besig met sy betoë. Soveel so dat dit nou al by die Mededingingstribunaal gaan draai het, wat nou voorgestel het dat die motorbedryf sy verpligte diensvoorwaardes moet wysig sonder dat die koper sy waarborg of diensplan sou verbeur.

Die voorstel is nog nie bindend nie, maar dit is nou werklik naby aan ’n rubberstempel.

Knormoer het nou al met ’n paar vervaardigers hieroor gesels. Sommige is slegs invoerders, ander het fabrieke hier waar hulle duisende werkers in diens het. Plus nog die verwante bedrywighede wat onderdele soos deur- of instrumentpanele bou.

Die klagte is strykdeur: Julle speel met vuur. Die vervaardigers belê miljarde in plaaslike aanlegte gegrond op sekere aannames in hul sakeplan. Om dit nou by die venster uit te gooi omdat ’n drukgroep daarna vra, is absurd.

Die formele motorbedryf bied nie net werk aan duisende Suid-Afrikaners nie. Dit dra ook ’n paar miljard rand by tot die staatskas.

Knormoer sê die minister sal mooi moet dink om nie die kind saam met die badwater uit te gooi nie.

Daar is goeie, tegniese redes waarom duur onderdele vir motors voorgeskryf word.

  • Kyk sommer na Eskom se kragstasies om te sien wat gebeur as ’n agterplaas-mekênniek vir gereelde instandhouding ingespan word.

Wilde waaghalse

In ’n tragiese ongeluk in die Mojave-woestyn net buite Los Angeles is ’n eksentrieke waaghals verlede week oorlede toe die vuurpyl waarin hy gesit het, tydens ’n toetslopie sonder sy valskerm terug na die aarde getuimel het.

Knormoer verneem Mike Hughes (64) het vas geglo die aarde is plat. In ’n poging om dit te bewys, wou hy in ’n vuurpyl net hoog genoeg na die ruimte bo die aarde opskiet (sonder om in ’n wentelbaan te gaan) om dan sy bevindings te bevestig.

Hiervoor moes hy sy tuisgeboude vuurpyl eers stelselmatig beproef. Aan die vuurpyl was ’n groot valskerm vas. Wanneer hy sy hoogste punt bereik het, moes die valskerm ontplooi sodat hy veilig terug na die aarde kon sweef. Wat kon verkeerd loop?

Wel, in ’n video wat op You­Tube versprei is, kan ’n mens sien hoedat Hughes se vuurpyl opstyg, maar dan skielik sy valskerm verloor.

Die vuurpyl bly versnel totdat dit sy hoogtepunt bereik, waarna dit weer terugval na die aarde.

  • Niemand hou van ongelukke nie. Maar Knormoer kan nie help om te dink dit was ’n lawwe plan om ’n lawwe teorie te steun nie. Dit moes nooit so ver gevorder het nie.

Psst, hou jy van fliek kyk?

Knormoer sien Yonkers Honda, ’n handelaar in New York, wil iemand ’n koel R15 000 betaal om te kom fliek kyk by hom.

Wel, natuurlik is dit nie so eenvoudig nie. Dis agt flieks van die Fast & Furious-franchise plus nog ’n soortgelyke een. Jy moet al nege in ’n week kyk, en dan ’n vraelys oor elkeen invul. Plus nog gereeld plasings maak van jou prettige kyk-ervaring op jou Facebook- en Twitter-rekening.

Nege flieks, werkboeke en plasings in net een week.

Sjoe, dis harde werk vir R15 000.

  • Maar dan sou Knormoer sê al hoe hy Fast & Furious-flieks sal gaan kyk, is as hy betaal word.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.