Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: E-voertuie steek diesels stil verby

Soos daardie eerste skok van nugterheid in jou eerste werkjaar as jy aan die inkomstediens die helfte moet teruggee, het die motorbedryf ook pas ’n magiese ritueel van volwassenheid ondergaan.

In September in Europa is vir die eerste keer tot nog toe meer e-voertuie as dieselmotors verkoop. Dis nogal iets. Onthou, so onlangs as vyf of tien jaar gelede was diesels goed die helfte van alle verkope. Trouens, in Frank­ryk was driekwart van alle nuwe voertuie wat verkoop is, diesels.

Wat het dan gebeur? Die wonder van die wortel-en-stok-benadering. As stok het jy die owerhede wat petrol- en dieselmotors in hul binnestede wil verbied; as wortel is daar subsidies op e-voertuie se pryse.

Volkswagen se ID.3 was in September Europa se gewildste e-voertuig.

Dié kombinasie het gemaak dat vervaardigers enersyds gedwing is om ’n rits nuwe, beter en meer bekostigbare e-voertuie op die markvloer te plaas, terwyl kopers weer meer lokaas het om ’n EV pleks van ’n diesel te koop, veral vir pendel.

Knormoer moet darem net ’n hand in die lug steek en sê wa-wa-wag ’n bietjie. Daai “elektriese voertuie” is nie net suiwer e-voertuie nie. Dit sluit hibriede motors in, wat basies ’n petrolmotor is met ’n help-my-trap-battery.

’n Mens sou kon aanvoer dat as die owerhede hul versoeters wegneem, die mark weer kan normaliseer. Een ding waarmee die stok-en-wortel wel help, is om verbruikers se koppe te help swaai. As jy nie iets rêrig nodig het nie, gaan jy dit nie sommer probeer nie.

  • Behalwe natuurlik vir akteurs, mense in die advertensiebedryf en daai vreemde ene wat kuns geswot het. Hulle sal jy altyd met jou hê.

Wat kopers wil hê

Die tweede oudste vraag, naas Adam se “Wat wil vroue hê?”, is dié van die motorbedryf: “Wat wil die kopers hê?” Wanneer dit kom by die nuwe wêreld van e-voertuie, krap die vervaardigers behoorlik kop.

Die ballonvormige Prius en Leaf het kliphard “gesinsmodel” geskree, en nooit juis swart rubberstrepe op verkoopsvloere gelaat nie.

Toe kom Tesla, en hoewel peperduur, lyk en ry sy plat, sportiewe rygoed veel beter.

Maar dalk is dit Volkswagen wat die goue aar raakgeboor het. Die groep se nuwe ID.3 – ’n langlyf-Golf – was in September die beste verkoper in Europa wat e-voertuie betref.

Wat als vir Knormoer baie sin maak. Kopers soek pendel-rygoed, nie ’n duur sportnuts of ’n bussie wat “konsensieus” skree nie.

  • Wat was Toekoms-Adam se eerste woorde aan Toekoms-Eva? “Ek het jou Leaf.”

Druk net die knoppie

Knormoer is ruimhartelik opgewonde dat sy aanlyn versoek om sy motorlisensie te hernu, nou al vir vyf maande in die “ons werk daaraan”-mandjie lê.

Dit val glad nie vreemd op nie. Knormoer het al eelte van al die gestaan by die munisipale kantore se tou vir hernuwings. Nou kyk hy of die internet-tou net so geduldig kan wees.

Intussen flap die minister van vervoer se baadjiepante soos hy die nuwe Aarto-wetgewing wil instel en sommer ook die bloedalkoholperk tot zero wil verlaag.

Meer wetgewing wanneer jy die basiese goed nie eens kan regkry nie, is natuurlik die antwoord.

Verontagsaam bestuurders die bestaande 0,05 mg-perk? Maak die reël net strenger! Sukkel ons om dronkbestuurders saans aan te keer? Maak die alkoholperk zero! Dít gaan mos nou al wat oortreder is ’n wetsgehoorsame burger laat word.

  • Knormoer is gelukkig ’n nederige ou met ’n fyn humorsin, want anders weet hy nie hoe ’n mens sou kon oorleef het tussen sulke onbeholpenheid nie.
Meer oor:  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.