Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: Einde van die Mondeo-man

Die einde van ’n era het toe vir Mondeo-man aangebreek.

Ford se eertydse staatmaker vir die middel- en werkersklas het vandeesweek finaal van die produksielyn in Valencia, Spanje, gerol. In sy plek kom daar, reg geraai, ’n sagte sportnuts.

Die Mondeo was op sy dag die vlagdraer vir die middelklas-gesin met twee kinders wat ’n staatsalaris verdien. Daardie man wat weeksdae swoeg en Saterdag sy klub ondersteun.

Dis net (plat) digitale skerms waar jy kyk in Mercedes se futuristiese kajuit van sy nuwe EQS, sy nuwe weelde-e-motor.

Mondeo-man het in die vroeë 2000’s ’n bepaalde verwysingspunt geword in Britse politiek, as sinoniem vir die breë publiek.

Sedert Ford die Mondeo in 1993 bekend gestel het as die opvolger vir die Sierra, het hy 5 miljoen huiseienaars gekry.

Waarom het Ford besluit om die Mondeo te staak? Dis doodeenvoudig: Niemand wil vandag meer ’n groot sedan koop nie. Trouens, Ford sê vandag se verkope is maar 20% van wat dit in 2000 was.

Terwyl Ford die wit vlag gehys het met die Mondeo, is daar nog goeie nuus vir diegene wat hou van lang, groot sedans.

Volkswagen gaan nog ’n volgende geslag van sy Passat bou, al is dit net in stasiewa-gedaante. Peugeot het ook nog sy 508, en Opel sy Insignia.

Hier’s egter die goëlbal: In China is die groot sedan nog lank nie dood nie. Soveel so dat Ford nog steeds voortgaan om sy Mondeo in sy aanleg daar te bou.

  • Soos ’n 13de tjek kom en gaan alles. Nes die Toyota Camry het die Cortina en Mondeo generasies geïnspireer en mobiliteit gegee. Dit was goed gewees.

En daar gaan Dippenaar!

Noudat die Formule Een- en MotoGP-seisoen die naweek weer afgeskop het, en ons weer vasgenael sit om te sien hoe “ons man Brad Binder” vaar, kon Knormoer nie verhelp om aan sy eie skandes terug te dink nie.

So twee dekades gelede het die MotoGP-reeks mos ook ’n Suid-Afrikaanse draai kom maak. Nogal op Welkom, ek sê.

Knormoer was toe nog redelik nuut in die motorfietswêreld, en kyk grootoog hoe die wêreld se topjaers om die baan blits. Op die kassie luister ons na ’n Britse aanbieder-span wat die name die een ná die ander aframmel.

Een van die jaers was Sete Gibernau, wat die Britte uitgespreek het as Djippenah. Waarop die jong Knormoer toe terstond heel verras – en nie bietjie trots nie – vir sy vrinne uitroep: “Kyk, daar’s ’n Dippenaar van Welkom wat voor jaag!”

  • Maar werklik, dit kan tog nie so vergesog wees nie. Enigeen wat al ’n Saterdagaand by Welkom se Hoefyster gesit het, sal weet daai kêrels ken van ry.

Gooi ’n oog na die boog

In hierdie dae waar e-voertuie al hoe meer prominensie kry, wil Knormoer net graag ’n toekomsvoorspelling maak. Vyftig randjies, enigeen, vir ’n waagkans?

Al die nuwe voertuie kry nou ’n digitale skerm. Voor die bestuurder, en in die instrumentpaneel. Dit lyk pragtig. Dis futuristies, elegant en prakties.

Al probleem net is dat die skerms almal plat is. Soos ’n venster. Die tegnologie is nog nie daar om aan ons ’n gebuigde skerm te gee nie. Wat nogal ’n uitdaging aan ontwerpers gee, want het jy al gesien hoe baie kurwes het ’n moderne motor se dêsj?

  • So, volgende op die lysie van nuwe uitvindings gaan ’n gebuigde raakskerm wees. Jy kan Knormoer nou al jou R50 gee.

Die peperduur ’Stang

Hier’s ’n les vir al die dagdromer-sosialiste in die regeringsbanke en skuldbult-voorstede.

Knormoer se buurman het ’n jaar of wat gelede sy ’67-Mustang se instrumentpaneel na Amerika gepos om deur Carol Shelby geteken te word. Oom Shelby is intussen oorlede, en Knormoer se buurman het daai einste ’Stang pas vir R2,9 miljoen verkoop.

  • As jy vindingryk is, kan jy goeie geld maak in die kapitalisme. Maar ook net daar.
Meer oor:  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.