Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: ‘Ek sê, Vingers, hierdie ouens lyk mos gevaarlik’

Daar sit jy al weer met die dilemma. Jy’s die kaptein oor tien by die Mall en binne is die skelms besig om die bank te beroof.

Geen probleem nie, sê Tata. Ontmoet sy nuwe MBPV.

Reg, wie boesem die meeste vrees in? Tata se nuwe MBPV (links) moet boewe in lughawens en win­kels die skrik op die lyf jaag. Regs is die Suid-Afrikaanse Max 3 van die SVI-groep in Pretoria.

Die MBPV – kort vir Micro Bullit-Proof Vehicle – is ’n potsierlike kêreltjie wat lyk soos ’n hyskraan se kajuit op stelte, met ’n stel wiele wat soos sprinkaanbene onder sy pens uitsteek.

Tata sê weens al hoe meer terreuraanvalle op treinstasies, lughawens en winkelsentrums, het hy besef die Indiese weermag benodig ’n personeeldraer wat binnenshuis kan skelms jaag.

Die MBPV is batterygedrewe, so die kaptein kan stilletjies agter die naaste AK-47-draer stelling inneem. En dan kan hulle losbrand vanuit die geweerluike.

Tata sê die MBPV kan handwapens weerstaan. Maar beter nog, elke wiel kan afsonderlik gedraai word. Wat hom werklik vernuftig maak waar ook al die kaptein oor tien homself en die troepe by die Mall wil posisioneer.

  • Intussen het Knormoer ’n kiekie van SVI se Max 3-pantsermotor aan Tata gepos. Net dat hulle moet sien hoe lyk mooi maar steeds funksionele, industriële ontwerp. Dis ’n plesier & all, kêrels.

Mag ek aan jou bout vat?

Knormoer wil nou nie links of regs kyk nie. Maar daar is twee dinge wat vir hom baie mooi is.

Die eerste is as die dominee Sondag van die kansel af sê: “O, Jerû-û-û-salem!” En dan is dit tog so gaaf as ’n welgeskape jong dame self onder haar motor inskuif en die enjin met die moersleutels takel dat die ghries spat.

Neem nou die nuwe TikTok-sensasie en Hollywood-aktrise Sydney Sweeney. Skaars 23 jaar oud en Sweeney het pas vir haar ’n Ford Bronco aangeskaf en toe besluit hy kan nog lekkerder ry.

Haar video’s op sosiale media lok kykers vir die vale. Jy sien onder meer hoe Sweeney­ onder haar Bronco inrol en dan aan’t woel raak soos sy sommer self die ratkas omruil.

  • Knormoer kan net ’n tjoep omruil. Hy’s tog gewillig om hand by te sit as daar ’n los bout rondlê.

Sowjet-held vir ’n e-motor

Verlede week, toe die Sweedse vervaardiger Volvo sy nuwe planne met e-mobiliteit met die wêreld se motorjoernaliste gedeel het, het Knormoer se gedagtes wyd gevlieg.

’n Kollega het jare gelede die Russe se lansering van hul eie maantuig, die Boeran, in Kazakstan bygewoon. Hy moes eers Moskou toe en toe vlieg hulle met ’n militêre skroefvliegtuig af na die vlaktes van Kazakstan.

Die lansering verloop vlot en al die joernaliste bondel terug in die groot Antonof. En daar sukkel die Antonof om op die kort grond-aanloopbaan spoed te kry.

Ná die soveelste poging roep ’n Britse joernalis effe senuagtig uit: “Isn’t the plane too heavy?”

Waarop ’n Rus antwoord: “Yes, plane too heavy. But! Pilot hero of Soviet Union!” En daarmee is die argument besweer.

  • Knormoer vermoed die vervaardigers bou vandag e-motors met dieselfde blinde geloof.
Meer oor:  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.