Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
KNORMOER: En nou, die hommel-tjommel!

Raaitou, jy wil jou land se trae verkope van e-voertuie ’n bietjie aanhelp, maar hoe gemaak?

Dié elektriese tweesitplek-hommeltuig het pas ’n toetslopie in Singapoer suksesvol afgelê. Volgende is ’n sessitplekker wat self vlieg, sê sy eienaar.

Maklik, sê Haar Majesteit se onderlinge. Kom ons gee aan alle batterygedrewe motors ’n groen nommerplaat!

Knormoer kan sien waarheen hierdie gesprek gaan loop. Die bedoelings is edel. Al die ouens met die groen plate sal gratis op tolpaaie in Londen kan ry. En gratis in die stad parkeer. Sommer ook die busbane kan benut.

Dit nou om as ’n lokmiddel te dien om e-verkope op te jaag.

Maar nou sê die politiekkorrektes wa-wa-wag eers ’n bietjie. Hoe moet die ouens voel wat nie ’n e-voertuig kan bekostig nie?

Die Britte gaan nou vir drie maande ’n reeks openbare konsultasiesessies hou om ’n koers vorentoe te bepaal: wie seergemaak gaan voel, hoeveel dit gaan kos, en hoeveel groen verf daar op die nommerplaat moet wees.

  • Rêrig. Dalk moet die Britte vir Eddie Jones in die parlement kry om hul administratiewe sake te bestuur.

Zu schnell, mein Himmel!

So van die owerhede gepraat wat nie weet waar hul Maandag van hul Saterdag is nie. Knormoer sien die ouens in kaftans en plakkies het in die Duitse parlement gevra dat die land se snelweë ’n spoedperk moet kry.

Soos jy weet is Duitsland die laaste bastion waar daar geen spoedperk op sy snelweë geld nie. Jy kan op die ikoniese autobahns so vinnig ry as wat jy wil.

Die Groen Party het egter ’n mosie ingedien dat daar ’n nuwe spoedperk van 130 km/h ingestel moet word. Dit alreeds is ’n toegewing van die Groenes se kant af. In 2013 het hulle met dié nonsies begin deur vir ’n perk van 80 km/h op snelweë te vra.

Wel, Knormoer is met graagte die boodskapper van goeie nuus. Die Duitsers het verlede week gestem, en die uitslag was 498 teen die mosie en net 133 ten gunste.

Wat die Groenes nie in ag neem nie, is dat die autobahns tans reeds heel goed gereguleer is. Slegs 60% van die 12 800 km- netwerk is onbeperk.

Die res het reeds elektronies beheerde spoedperke, wat geldig is tydens swak weer of rondom beboude gebiede.

Dit is bloot sinvol, en die stelsel werk goed.

  • Knormoer geniet dit altyd om daar, in ’n verantwoordelike samelewing, op hul snelweë die lepel te trap. So iets sal nie met ons onvolwasse padgedrag kan werk nie.

Taxi? Nee, die tjopper, dankie

’n Entrepreneur in Singapoer het verlede week ’n groot sug van verligting gegee toe sy lugtaxi suksesvol bo die stad se besige strate rondgewoer het.

Florian Reuter is ’n Duitser met ’n plan. Sy maatskappy Volo­copter wil binne twee jaar ’n mikrovliegtuig bou waarmee besige sakemanne vanaf hul huis vertikaal soos ’n helikopter kan opstyg, en dan binne minute na hul kantoor kan vlieg.

Stap twee gaan wees om die lugtaxi op sy eie te laat vlieg – sonder dat daar ’n vlieënier agter die stokke sit.

Die Volocopter is tans net ’n klein tweesitplek-minitjopper wat soos ’n groot hommeltuig lyk. Dit het 18 klein skroewe wat in ’n sirkel bo die tuig vasgemaak is, en als werk met batterykrag.

Die klein, kompakte aard en battery-motor maak hom baie meer prakties vir private stadsgebruik as ’n gewone helikopter.

Reuter sê as hy nou genoeg beleggers kry, gaan hy ’n groter tjopper bou wat ses mense kan vervoer, en dié gaan ook self kan vlieg.

Knormoer hou dié spulletjie van die kant af dop. ’n Mens kan dit nie bloot net afskryf as ’n grap of dagdrome nie. Battery-tegnologie het nou al so gevorder dat hierdie helikopters ’n haalbare alternatief vir raserige petrol-helikopters is.

  • Maar hoe gaan ’n mens so ’n nuwe gedoente noem? Dalk ’n hommel-tjommel? As jy ’n voorstel het, laat Knormoer weet.
Meer oor:  Motors  |  Hommeltuie  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.