Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: En nou, ’n haastige Corolla!

Knormoer was heel aangenaam verras toe hy die Amerikaners se kortlys vir hul Motor van die Jaar-kompetisie sien.

Sowel hul kort- as langlyste bevat slegs tipiese gesinsvoertuie. Geen wilde takhare soos ’n M5 of ’n 911 nie.

Ryperd! Mahindra se netjiese Pikup Karoo-bakkie het ’n doringboom as kenteken. Optimisties vir ’n Karookind, reken Knormoer.

Die Yanks se kompetisie verskil in ’n paar aspekte van ons model. Daar is twee kategorieë, vir gesinsmotors (sedans en luikrûe) en sportnutse.

Maar die grootste verskil is in daardie saamstel van die lang- en kortlyste gesetel. Die Yanks manipuleer dit. Dus, hulle maak doelbewus seker dat dit net “gewone” rygoed bevat.

Die Suid-Afrikaanse weergawe volg meer van ’n puristiese benadering. Enige nuwe motor mag oorweeg word, hetsy dit ’n Polo of M5 is.

Knormoer sien die Yanks hou Joe Sixpack van Oklahoma tevrede deur bekende rygoed in te sluit soos die Corolla, Jetta, A-klas en Mazda6. Aan die sportnutskant is dinge ook heel bedees: X5, Santa Fe, RAV4.

Dis als gewone motors. Knormoer kan verstaan dat ’n kompetisie ’n puristiese benadering wil volg. Dis jou goeie reg. Maar snap jou gehoor dit? En, as hulle dit nié verstaan nie, het jy nog relevansie by juis die mense wie jy van raad wil bedien?

  • Knormoer gaan dit net saggies hier laat.

O, Boesmanland

Knormoer kry mos soms daardie heimwee waar hy net die kar wil vat en die lang pad na die vlaktes wil invaar. Die reuk van die veld, ’n nat grondpad, muskiete wat jou heelnag wakker sing.

Kennelik is dit ’n gevoel wat menige stadsjapie ook deel. En dieselfde aar wat Mahindra nou in sy bemarking wil raakboor.

Skuif dus reg die bril vir die nuwe Mahindra Pikup Karoo,

’n spesiale weergawe van die

Pikup-bakkie. So aan die kant van die bakkie se lyf staan daar mooi geskryf: Karoo. Om nou sy vlakte-DNS bekend te maak.

Maar wag, wat is dit wat daar neffens die naam geverf is? A, dis mos ’n doringboom.

O aarde. Het niemand vir mnr. Singh by bemarking laat weet jy kry nie doringbome in die Karoo nie? Die naam kom juis van die Khoisan-woord af wat dorre land beteken, wat dit presies is. Boonop, ry jy deur die Karoo, sal jy sien daar is net karoobossies. Niks bome nie.

  • Hoor nou vir Knormoer: ’n Bemarker is soos ’n July-perd sonder ’n jokkie. Hul idees hol weg dat die kluite spat.

Die mooiste ren

Knormoer hoor die mense sê Oktober is die mooiste maand. Maar eersdaags kan Mei hom verbysteek – as die nuwe W-reeks begin.

Dié reeks is ’n nuwe renformule geoormerk slegs vir vroue- renjaers. Die plan is om 18 jaers aan ’n renseisoen in Europa te laat deelneem, met Formule 3-motors, om hulle gereed te maak om aan Formule Een te kan deelneem.

Sedert 1976 het nog nie een vroue-renjaer in ’n F1-ren weggespring nie. Daar is wel kort-kort ’n vroue-toetsjaer in sommige spanne.

’n Lys van 50 kandidate is reeds opgestel, en drie hiervan is Suid-Afrikaners. Knormoer hou duim vas dat Tasmin Pepper, Ivana Cetinich en Fabienne Lanz sal deurdring na die finale 18.

  • Gooi mielies, girls!

Hei-ho, Corolla!

Onthou nog hoedat Knormoer vertel het van Toyota se planne om ’n Camry TRD-weergawe te bou? Einste warm Camry het nou verlede week sy buiging op die Los Angeles-skou gemaak.

Die reaksie was glo so goed Toyota wil die TRD-behandeling na sommer al die ander modelle uitbrei. Beginnende met die Corolla . . .

  • Knormoer moet erken, hy kan sy kop glad nie hierom kry nie. Die gesinsmotor van naam, nou ’n blitsbuks? Maar as dit die kinders vinniger by die hokkieveld kan kry, waarom nie?
Meer oor:  Corolla  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.