Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: Formule E: Prentjies, Kaapstad

Twee stukkies battery-nuus het Slaapstad pas ’n vonk gegee.

Aan die een kant het die metro pas die regte bekom om ’n ronde van die Formule E-reeks volgende jaar in sy Groenpunt-strate aan te bied.

Onthou jy nog die Olimpiese Spele in 1992 in Barcelona toe die duik-items hierdie ikoniese beelde opgelewer het? Kaapstad moet ook in “prentjies” begin dink as hy sportbyeenkomste wil aanbied.

En toe, so lepellê met die renmotornuus, sê die metro hy het pas ook sy eerste elektriese busse vir sy metrodiens in gebruik geneem. ’n Eerste vir die land.

Roffel die tromme. Die busstorie is vir Knormoer die gaafste. Oorsee word e-busse reeds geruime tyd en op groot skaal ingespan. Soos met die Covid-19-inentingsprogram is ons egter ’n bietjie agter.

Knormoer dink e-busse is ’n puik idee. Jou middestede is waar die grootste konsentrasie van voertuie, en dus vuil uitlate, is. Kry jou pendelaars uit hul gesinsmotors en in die busse. Dit verminder klaar die uitlaatgasse. As die busse boonop batterygedrewe is, is dit ’n wen-wen-oplossing.

Die ren-resies vir batterymotors is egter ’n boksprong in ’n leë swembad in. As ’n ren-reeks is dit reeds uiters verdag, want die voertuie word sentraal gemanipuleer wat hul kraglewering betref. Daar is ook nie veel tegniese differensiasie tussen die vervaardigers nie.

Hier is wat Knormoer sien gebeur het. Die stadsvaders se koppe is warm gepraat deur ’n paar gladdemond bemarkers.

  • En nou sit ons met ’n irrelevante reeks wat dieselfde paadjie as die WRX-reeks gaan stap. Onthou enigeen die WRX-reeks?

’n Kishou vir Kaapstad

Maar net op hierdie trant van goeie en slegte besluite wil Knormoer gou sy raad aan die Kaapse stadsvaders uitdeel. Gratis en verniet.

Vergeet obskure ren-byeenkomste soos karretjies wat dwars om ’n grondbaan gly of e-renmotors. Die gewaande gewildheid daarvan word net deur ’n klein, raserige klompie petrolkoppe aangevuur.

As jy werklik slim wil wees, kry ’n ronde van die WTA-tennisreeks vir vroue in die stad.

Bou ’n paar kleibane langs die Kaapstad-stadion – die busroetes bestaan reeds en dis die deel van die stad waar die middelklas graag gesien wil wees.

Dan bied jy jou toernooi in Maart aan. Maart is perfek – die stad speel reeds gasheer vir die Argus- en die Epic-fietstoer en die Twee Oseane-marathon is net om die draai in April. Plus, die weer in Maart is perfek vir tennis – smiddae en saans. Het jy al die Rome-toernooi gesien?

Laastens pas Maart ook perfek by die internasionale kalender in. Die Europese kleibaantoernooie begin vanaf Maart om as voorbereiding te dien vir die hoogtepunt van die Franse Ope in Mei.

Die vrouespelers gaan toustaan om hier te kom speel. Jou kleibaan maak jou toernooi uniek en jou ligging voor die berg bied aan jou oorsese uitsender (en kyker) die TV-prentjies waarna hulle soek. Onthou Barcelona se duikplank-tonele op die Olimpiese Spele in 1992?

’n Vrouetoernooi bied ook gelyker mededinging. In die mans­toernooie moet jy die topdrie name hê. In vrouetennis kan enigeen vandag wen. Vir ’n week lange toernooi gaan die middelklas elke dag stad toe stroom. Nie die petrolkop van straatrenne wat Saterdag sy brannas wil insmokkel nie.

  • Dit sal werk. Maar dit voel Knormoer roep teen die Suidoos.

Europa se kopseer

Knormoer sien in Europa is daar gevaarligte wat flikker vir die streek se planne om petrol- en dieselvoertuie te verban.

Slegs drie lande – Nederland, Frankryk en Duitsland – dra 70% van die Europese Unie (EU) se herlaaipunte. Die syfers korreleer inderdaad perfek met die ekonomiese sterkte van die onderskeie lidlande. Waar Nederland amper 30 000 punte het, het Griekeland net 275.

  • Dis fantasties om petrol- en dieselvoertuie te verban. Maar dan moet jou e-infrastruktuur sekerlik dié stap kan steun?
Meer oor:  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.