Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: Franse skop vas oor e-krag

Knormoer was nog altyd agterdogtig oor mense wat paddaboudjies en slakke as nagereg beskou. Dis g’n wonder nie. Verlede week sê die Franse minister van vervoer, Elizabeth Borne, die land hou voet by stuk oor sy planne om geen petrol- of dieselvoertuie meer vanaf 2040 te verkoop nie.

Haastig om die voortuin klaar te sny? Honda se Mean Mower V2 bied straks die antwoord.

Dis nogal radikaal. Toe Borne se kollega, Nicolas Hulot, twee jaar gelede as minister van omgewingsake gesê het Frankryk het homself dié ideaal as mikpunt gestel, het almal die Franse afgelag.

Hulot het laas jaar toe bedank, juis omdat die pas van aanpassing na ’n groen beleid volgens hom te stadig was. Nou sê Borne nee wat, sy gaan voort hiermee.

Dis nogal ’n ding. Daar is nog nie soort-vir-soort-plaasvervangers vir petrolvoertuie nie. Sy noem wel dat die regering gaan help met insentiewe om infrastruktuur soos kragpunte by woonstelblokke en winkels en kantore op te rig.

  • Fantasties. Nou wonder Knormoer net, met die swaai in Frankryk na regs, hoe lank voor ’n nuwe regering al dié planne in die hoek gaan parkeer?

Myne is joune is syne

Soos wat die politici ál flinker die omgewingstamboer gaan slaan, wonder Knormoer nie te veel oor hoe die volgende e-voertuig gaan lyk nie. Nee, sy grootste kommernis is dat ons eersdaags almal in eenderse, generiese motors gaan ry.

Op-win-dend.

Kyk maar, dit begin alreeds te gebeur. Fiat wil met Renault saamwerk. Toyota en Subaru gaan saam e-voertuie bou. BMW, Mercedes en VW gaan volg.

Meer samewerkings, meer gedeelde batterye, ratkaste, motors. Eindelik gaan jou e-voertuig net in voorkoms verskil van jou buurman s’n van ’n ander handelsmerk. Die binnegoed is als dieselfde.

Maar wat, as dit die politici gelukkig gaan hou.

  • Hier’s ’n stukkie raad aan daardie slim ouens wat babas soen en beloftes maak as ’n beroep beoefen: Hou by wat jy ken, en los karre uit.

Pa, kan ek ’seblief die gras sny?

Dis daardie takie wat jy as kind soos huiswerk vermy het. Maar nou het Honda nuwe woema aan die gedagte van grassny op ’n Saterdag gegee.

Die Japanse vervaardiger het die 1 000 cc-enjin van sy Fire-blade-superfiets in ’n grassnyer gesit, die plastiekwiele met renbande geruil, enne, ’n propperse renjaer gevra om die stokke te vat. Toe Jess Hawkins ’n knipoog en biersluk later verby 160 km/h bars, het die stophorlosie op 6.29 sekondes gestaan. Dis vinniger as wat ’n GTI tot 100 km/h jaag, en ’n nuwe rekord – vir grassnyers.

Die Honda Mean Mower V2 is dalk nou die grootste droom vir elke man sedert kaptein Wilma Deering vir Buck Rogers die koue skouer gegee het. Maar Knormoer verkies sy Fireblade steeds in tweewiel-formaat, met of sonder lemme.

  • En gepraat van, ja, die Mean Mower moes eers wys hy kan gras sny alvorens hy met sy rekordaanslag op die Lausitzring in Duitsland gekom het.
Dis goeie nuus. Enige verligting is altyd welkom in ’n ekonomie wat tans soos ’n kat in ’n waterpoel sit.

Verkeerde kant van die rand

Knormoer sien die nuusblaaie was vandeesweek geesdriftig oor ’n moontlike verlaging in die brandstofprys aanstaande maand.

Dis goeie nuus. Enige verligting is altyd welkom in ’n ekonomie wat tans soos ’n kat in ’n waterpoel sit.

Knormoer wil net ’n bietjie realisme vir die uitasem skrywers bring. Daardie verligting gaan kortstondig wees.

Die rand het hom die afgelope twee weke soos die skurk in ’n aksiefliek gedra. Daardie oomblik waar die held hom timmer, hou vir hou, dis nou waar die rand hom vandag bevind.

  • As die owerhede nie ’n be­leids­aan­passing aanbring nie, gaan min verander. Het jy al jou oorsese bankrekening?
Meer oor:  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.