Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: Gaan Renault se plan werk met Alpine?

Jannewarie het skaars afgeskop of Knormoer sien die motorbedryf is in rep en roer.

Een van die dinge wat Knormoer se aandag getrek het, is ’n nuwe bemarkingsveldtog wat pas deur Volkswagen in Europa van stapel gestuur is.

Vanjaar is die jaar wat die groep werklik die krane gaan oopdraai met sy e-voertuig-strategie. Sy nuwe ID.3-luikrug het einde verlede jaar die mark bereik, maar in ’n Covid-19-jaar was dit nie ideaal vir bemarking nie.

Renault se retro-geïnspireerde Alpine 110 sukkel met verkope.

Dus, vir 2021 (wanneer sy ID.4-sportnuts ook na die mark kom) het VW nou ’n reeks infografikas saamgestel waarin hy al die groot vrese van e-motor-eienaarskap pak.

Dit sluit in die bekende aspekte soos reikafstand, lae batteryvlakke, vinnig ry op die snelweg, winter-ry, ensomeer.

Die grafikas is op ’n eenvoudige, prettige manier opgestel. Niemand wil dom lyk voor ander nie, veral nie as jy ’n direksiebaas is nie. Maar almal het vrae oor e-voertuie. Hoe dus gemaak om dit te vra, sonder om dom te lyk? Dis nou waar die grafikas ter sprake kom.

  • Knormoer is nie ’n e-motor-aanhanger nie. Maar hy lig die hoed vir die vervaardigers wat onder dwang hierdie nuwerwetse tegnologie omarm het. En nou moeite doen om dit aan hul gehoor beter te verduidelik.

Die e-spoed tel op (oorsee)

Intussen sien Knormoer dat e-voertuig-verkope in Europa en Amerika ál meer veld wen. Noorweë het pas bekend gemaak dat hy verlede jaar meer e-motors as gewone voertuie verkoop het. En nou het Porsche gesê hy het laas jaar net meer as 20 000 Taycans van die hand gesit – meer as al die Boxsters en Caymans tesame.

In nog ’n skuif het Renault pas bekend gemaak dat hy sy Alpine-handelsmerk voortaan as ’n spesialis-sportmotorkenteken gaan inspan. Dus, net sportiewe rygoed onder daardie handelsmerk.

Maar die interessantste is dat Alpine ook slegs e-voertuie gaan bou. Hy moet ook teen 2025 alreeds winsgewend wees.

Alpine bemark tans die A110, ’n retro-model van die ikoniese ryding met dieselfde naam van die vorige eeu waarmee Renault so baie tydrensukses behaal het.

Renault se groot planne vir Alpine is dat dit die huis vir sy sportiewe modelle word. Die groep gaan selfs sy Renault F1-span volgende jaar onder die vaandel van Alpine F1 bemark en bestuur.

  • Dalk bring dit meer vreugde vir Alpine, want die retro-model sukkel om een of ander rede om dieselfde warm gevoel onder kopers los te maak as wat sy voorganger gedoen het.

Die virus slaan wyd

In ’n verrassende aankondiging verlede week het Ford se grootbaas, Jim Farley, gesê die groep gaan onmiddellik sy twee fabrieke in Brasilië finaal sluit.

Die twee aanlegte het 5 000 mense in diens gehad en onder meer die Figo en EcoSport vir die Suid-Amerikaanse markte gebou.

Farley het gesê hoewel Ford al meer as ’n eeu in die land is, het verkope die afgelope paar jaar net ál meer gedaal.

Toe Covid-19 uitbreek (en Brasilië se laat-maar-gaan-houding daarmee), het dit dinge oor die afgrond gestuur. Verkope het laas jaar met amper 30% geval.

  • Die goue les? In streng kapitalisme word daar in ’n kits oop- en toegemaak. Die fabrieke sluit vandeesmaand al.

Hoe maak jy? Só maak jy

Knormoer sien ’n Britse groep wil vra dat opleiding vir bestuurders oor hoe om met al die jongste tegnotruuks mee te werk, verpligtend by die aankoop van ’n nuwe motor gemaak moet word.

  • Vir die Suid-Afrikaanse weergawe kan hulle begin met die flikkerlig, dan die stuurwiel, en daarna die rempedaal: ’n kits-module in werking en toepassing. Plus ’n meegaande video oor wat gebeur as jy dit nie gebruik nie.
Meer oor:  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.