Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: Gits, daar’s ’n hommel in ’n hok
Dis Japan se jongste selfvlieg-hommeltuig wat so in die lug hang. Die traliewerk is om omstanders veilig te hou as die tuig, wel, sou handuit ruk.

Ai, die droom van die mens om die een oomblik in jou kar op die snelweg te sit en dan, nes die spitsverkeer te stadig raak, soos James Bond te maak en met die druk van ’n knoppie die lug in op te styg.

Ja, die vlieënde motor. Dubai is al besig om een te toets. Uber en Boeing het ook al toetsmodelle gewys. Knormoer onthou daar’s ’n kêrel in Pole ook. Of was dit Roemenië?

Iedergeval, almal wil die eerste vlieënde motor hê. Nou sien Knormoer selfs Japan het op dié soustuig geklim.

Japan, bastion van die natuurlik geaspireerde enjin, reken egter sy poging is anders as die res s’n. Hulle het regeringshulp wat aan die private ontwikkelaars gebied word.

Die tegnologiegroep NEC het pas ’n demonstrasie van sy nuwe selfvlieg-motor net buite Tokio gewys. Die tuig lyk eintlik maar soos ’n massiewe hommeltuig, met sitplek vir twee binne.

Batterygedrewe elektriese motors dryf dit aan, en dit kan homself glo ook vlieg. Danksy die vier groot skroewe wat tussen horisontaal en vertikaal kan kantel, kan hy soos ’n helikopter opstyg en dan vorentoe soos ’n vliegtuig vlieg.

Alles heel nuttig vir spitsverkeer-situasies. Maar, sê die Japanners, hul plan is eerder dat die tuig pakkies aflewer. Of noodvoorraad na vloedgeteisterde gebiede neem.

Die Japanners mik na 2030 om ’n vloot van dié selfvlieg-hommeltuie soos muskiete in die hemelruim te hê.

  • Knormoer sê geniet jou Sondagmiddagslapie terwyl jy kan. Een van die dae kom land jou ver­langse familie met hul hommeltuig in jou agterplaas. Nog voor jy die kinders kon waarsku om nie die deur oop te maak nie.

’n Blink gedagte

Knormoer sien daar’s ’n groot gefladder in die land van die Big Mac: Die nuwe Corvette gaan nie meer blink sierwiele hê nie.

Jip, Tonto en Lone, saal maar af en kap ’n dubbel-laevet-koffie in die watergat. Die wêreld is nie meer wat dit was nie.

Volgens Tadge Juechter, die hoofingenieur van Chevrolet se Corvette C8-projek, is blink sierwiele uit soos regrukplanne by Eskom.

Onder in die V8-klubsaal is die kêrels glo vies. Dit is die eerste keer in die ’Vette se 67-jarige geskiedenis dat hy met gewone wiele gaan uitkom.

Knormoer kan net sy kop skud. Hy sou dink dat die Corvette se verrigting of hantering eerder die gesprekspunt sou wees. Of die ingenieurs se besluit om van die tradisionele handratkas ontslae te raak.

  • Maar, bygesê, al ooit ’n Harley sonder chroom gesien? Die voorliefde vir iets blinks moet sekerlik ’n kultuurding wees.

Onthou nog vir Burry?

Vergun Knormoer gou die geleentheid om ’n bietjie filosofies te raak. In ’n opvolg op verlede week se waarneming dat die Stad Kaapstad hard gaan toeslaan op die minibustaxibedryf (wat sekerlik ’n gegewe behoort te wees, of is sommige bo die wet verhewe?), ontvang hy toe ’n opvolgverklaring van die Stad. Ons het van die grootste droogmakers vasgetrek, is gesê.

Dis fantasties. Want enige wet is net so sterk as wat sy toepassing op die pad en die vervolging in die hof is. Daarsonder bly dit net ’n tandelose dreigement.

’n Paar jaar gelede het die land ’n fietsryer opgelewer wat straks goud vir ons op die Olimpiese Spele kon verwerf. Burry Stander was in die fleur van sy lewe toe ’n minibustaxi maak soos wat ons gereeld sien hulle maak, enige plek in die land, en oor ’n rooi verkeerslig jaag. Binne-in hom in, terwyl hy op sy fiets besig was om te oefen.

Burry het gesterf, en die land gaan nie gou weer sy gelyke op ’n trapfiets hê nie. En dit net weens ’n simpel gewoonte.

  • Skoolkinders in bussies, en ook gewone padgebruikers, almal verdien medegebruikers wat hoflik en bedag bestuur.
Meer oor:  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.