Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: Hallo, jou electricals nog reg?

Knormoer mis die dae van reis na ’n eksotiese bestemming om ’n nuwe spog-voertuig op ’n eksklusiewe grondslag te toetsbestuur.

Hierdie gogga het al daardie pret voorlopig tot ’n einde gebring.

Maar! Dis nie heeltemal vaarwel aan die internasionale motorbekendstelling nie! BMW het verlede week ’n aanlyn sessie aangebied waar ’n geselekteerde groep joernaliste van oor die wêreld heen in hul ruskamers, studeerkamers en badkamers kon luister na die ingenieurs, en ook vrae aan hulle stel. Net soos wat op ’n formele bekendstelling sal gebeur.

Als gaaf. Wat kan verkeerd loop? Jy’t die gerief van jou huis.

Porsche het hierdie rekenaar vir Acer help ontwerp. Ons weet hy’s vinnig, maar sy woord-per-minuut-spoed is steeds van jou vernuf afhanklik.

’n Goeie internetverbinding. En Mohammed, Kharif, Abdul en Frik as mede-gaste in die Teams-sessie.

Wel, totdat jy besef dat internet-etiket klaarblyklik verskil van land tot land. Kharif en Mohammed se video-skerms is nog aangeskakel. Nes hul mikrofone. Ons sien waar Mohammed se kinders op die agtergrond stoei en Kharif se agtergrond lyk alte veel na ’n badkamer. O, aarde.

Een ou besluit om sy neus te krap. Vir die volgende kwartier.

Sy kollega in Koeweit herken hom, en groet uitbundig. ’n Oor-en-weer-gesprek vind in Arabies plaas, terwyl Klaus die ingenieur die intrinsieke voordele van die nuwe agteras probeer verduidelik.

Die gespreksleier-juffie probeer orde handhaaf, maar is uit haar diepte. Dis ook ’n potensiële politieke nagmerrie. Almal hou hul hart vas. Gelukkig het die een ou op die skerm opgehou om sy vinger in sy neus te druk. Hy bestudeer dit nou net aandagtig.

  • Dit, liewe leser, is die harde myle wat jou gunstelingjoernalis aflê om aan jou die jongste nuus aan die internasionale motorfront te bring. Hei, soos in Koeweit, krap ons waar dit jeuk.

Maar wat van die ‘zearbox’?

Knormoer kan darem nie nalaat om hierdie blink pêrel van wys­heid van Turkye met julle te deel nie.

Tydens dieselfde interwebsessie met München se beste ingenieurs is daar ’n angstige vraag van Turkye. Die joernalis wil net weet, gegewe die geraas wat sy Dacia maak vanweë swak electricals in die zearbox, of die BMW se zearbox ook sulke swak electricals gaan hê?

Die arme ingenieurs. Klaus kyk al smekende na sy kollegas. Maar Fritz boor ’n toon in die mat en Wolf staar stip na ’n kolletjie op die dak. ’n Kriek raas op die agtergrond. Klaus moet maar self die BMW se electricals verduidelik aan Turkye.

Dis vir Knormoer verstommend hoe gehalte verskil van land tot land. Dis ekonomies kragtige lande met goeie verkoopsyfers, dus kan die vervaardigers hulle nie net eenkant laat nie.

  • Knormoer reken hy gaan ’n paar joernaliste aan hul electricals beetkry as hulle weer sulke twak opdis.

Druk net die knoppie

Wat gee jy die man wat alles het? ’n Nuwe Porsche Design-skootrekenaar, natuurlik. Dis die geesteskind van die rekenaar-reus Acer, wat in samewerking met Stuttgart se bekendste sportmotorvervaardiger ’n netjiese baadjie vir sy nuwe rekenaar ontwerp het.

Die Porsche Design Acer Book RS is natuurlik g’n hierjy sompompie en woordmeul nie.

Hy tekkie soos ’n Boksburg-breker om die PowerPoint-esse en Excel-draaie. Met Acer se jongste, vinnigste verwerker en ’n deksel van koolstofvesel is jou rekenaar nie net vinnig waar hy moet wees nie, maar ook lig (1,25 kg) in die sak.

  • Sommige sou sê dit is natuurlik poëtiese simbiose. Maar as jy dít nie snap nie, is dit ook orraait. Dan pas die rekenaar perfek by jou.
Meer oor:  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.