Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer
Knormoer: Hallo, wa’s jy? O, skuus, in jou Huawei!

Knormoer is verlig om te hoor dit gaan darem nie met almal so sleg in hierdie pandemie-dae nie.

Benewens staatsdienswerkers wat ’n flukse 12%-verhoging eis (drie keer die inflasiekoers, terwyl die private sektor grootliks niks verhogings gegee het nie, en mense moes aflê), het die direksie by Lamborghini ook die hande tevrede gevryf.

Verkope vir die eerste kwartaal – 2 422 – was die allerbeste tot nog toe in dié Italiaanse sportmotorgroep se geskiedenis.

Daarvan was meer as die helfte Sant’Agata se nuwe Rambo Lambo, die Urus-sportnuts (1 382), met die Huracan ver terug tweede (753).

Stephan Winkelmann, grootbaas van Lamborghini, sê dis grootliks te danke aan ’n sterk vraag uit Amerika, Duitsland en China dat sy Urus so flink verkoop.

Teen net so R4 miljoen vir die Urus of R4,8 miljoen vir die Huracan kan jy natuurlik ook jou beskeie bydrae tot Lamborghini se mooi verkoopsyfers lewer.

  • Knormoer stel voor Lamborghini Suid-Afrika begin sommer met ’n bemarkingsveldtog by die staatsdiens.

Gehoor van die vies renjaer?

Kyk, Knormoer is nou nie iemand wat hou van veralgemenings en stereotipering nie.

Dinge soos blondines wat die meeste pret het en Kiwi-skeidsregters wat kroek waar hulle kan, is sommer praatjies vir die vaak.

Tog het ’n insident by ’n Italiaanse renstelbyeenkoms nogal die geur van dit wat ons gewoonlik van Italiaanse bestuurders dink. Die ding kom al van verlede jaar Oktober af.

Sê trieng-trieng-hallo aan die Chinese selfoonreus Huawei se nuwe e-voertuig, die SF5. Dat hy baie soos die Porsche Macan lyk, is absoluut net jou verbeelding.

Tydens ’n groot renstelbyeenkoms in die noorde van die land stamp die een kêrel toe ’n mededinger dat dié skoon van die baan tol en nie verder kon deelneem nie.

Vervies die afgestampte knaap hom toe so erg dat hy daar, langs die baan, sy motor se neus-skerm afskroef en dit na sy geswore vyand slinger net toe dié die volgende rondte verby gejaag kom.

Dis nie waar die viesgeit opgehou het nie.

Toe die ren verby is, stap hy oor na sy mededinger en dam hom met die vuiste by. Die omstanders sê so erg het die vuiste geklap dat die twee se pa’s toe sommer ook nader hol. En self begin appels swaai.

Die saak het eindelik by die FIA se tribunaal gaan draai, wat verlede week die gooier-slaner-renjaer vir 15 jaar uit enige motorsport verban het.

  • Knormoer gaan voortaan twee keer dink voordat hy enige vuiste in die lug swaai vir ’n Uno-bestuurder wat nie uit die pad kan kom nie.

Die opgewonde joernalis

Knormoer lees toe mos op die interwebs ’n verslag oor Ford se nuwe Everest Sport. Raak die skrywer ietwat meegevoer, daar.

Die Sport is net die beste ding sedert die Snackwich en SodaStream uitgevind is.

Knormoer blaai toe self deur die Ford-brosjures. Daar vertel die Blou Ovaal dat hy bloot een van die intreemodelle in die Everest-gesin geneem het (met die 2.0-liter-enkelturbodiesel-enjin), en toe van swart wiele, swart kantspieëls, ’n swart sierrooster en ’n paar Sport-plakkers voorsien het.

  • Gaters, kêrels, dat ’n plakker op die deur nou ’n Es-Joe-Wie so vinnig en lekker kan laat ry.

Stop-stop, ek’s ’n Renault

Knormoer sien die Franse vervaardiger Renault het besluit hy gaan sy voertuie se topspoed voortaan tot 180 km/h beperk. Presies wat Volvo ook gedoen het.

  • Nou, dis nie dat Knormoer voorstel jy moet teen 200 km/h jaag as jou vrou jou met die sekretaresse betrap het nie, maar om hoofseun namens die bestuurder te speel is tog pedanties. Dit klink vir Knormoer so al na daardie gesegde oor die Doppers: “Jy mag dans, maar jy mag dit net nie geniet nie.”

Of hoe?

Meer oor:  Knormoer  |  Ekonomie  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.