Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: Hei, as selfs die Russe wegkyk

Knormoer sien Hyundai is steeds vas van plan om met sy omstrede nuwe hoofkantoorgebou in Seoel voort te gaan.

Pleks van toringgeboue kan Hyundai eerder sy aandag en geld fokus op projekte soos dié RM19, ’n moontlike blitsbuks wat die Golf R kan aanvat.

Die sage kom al ’n hele rukkie aan. Destyds, in 2014, het Hyundai en Samsung – twee van Suid-Korea se grootste maatskappye – albei hul oog op ’n gesogte erf in die hoofstad se glansbuurt Gangnam gehad. (Ja, dis dieselfde Gangnam van die destydse treffer “Gangnam Style”.)

’n Bod-oorlog het tussen Samsung en Hyundai ontstaan, met die motorgroep wat eindelik gewen het – met ’n prys van R150 miljard.

Onthou, dit was net om die erf te bekom. Eiendomsagente het destyds al gesê dis meer as drie keer die waarde van die erf.

Toe Hyundai hierna sy planne by die stadsraad indien vir sy nuwe hoofkantoor, lig die wenkbroue weer. Die gebou gaan 105 verdiepings hoog wees, ’n faktor wat selfs die lugmag bekommerd gemaak het aangesien die toring van 569 m met hul radarstelsels sou inmeng.

Intussen het Hyundai die lugmag gepaai. Maar beleggers en finansiering was ’n perd van ’n ander kleur.

Om die nuwe toringgebou op te rig, gaan Hyundai ’n geraamde R45 miljard kos. Terwyl die vervaardiger na beleggers soek om dit te help finansier, het fondsbestuurders reguit gesê die omstrede projek moet gestaak word.

Knormoer bemerk ’n bietjie hubris hier. Die groep het voorheen al genoem hy wil in die topdrie van internasionale motorvervaardigers wees wat verkoopsvolume betref. Tans is Toyota, Volkswagen en General Motors in dié plekke met Hyundai in die vyfde plek.

Die Koreane doen goed: Hul motors is van goeie gehalte en hulle versprei dit wêreldwyd. Hulle gebruik hul eie staal, bou hul eie enjins en dubbelkoppelaar-ratkaste en vorder fluks met hul battery-voertuie.

  • Waarom ’n gebou van 105 vloere verder nodig is, weet Knormoer nie. Is dit nou om te wys hoe lank is jy rêrig?

Koue aanbod vir ’n warm saak

Knormoer sien Ford het die ruimhartige aanbod van R50 000 gemaak aan Kuga-eienaars in die nadraai van die omstredenheid rondom Kugas wat glo spontaan in vlamme uitgebars het.

Knormoer vermoed hier is ’n middeweg gevind.

Ford het bes moontlik besluit hy kan met sy diep sakke hakke inslaan en nog lank ’n duur saak voortsit.

Vir ’n spoedige uitslag is dié aanbod egter gemaak.

Vir enigeen wat vandag met ’n ou Kuga sit, is dit skrale troos. Watter vervangingsvoertuig koop jy met R50 000?

  • Ford wen dalk die armdruk op die tafel. Maar in die gehoor het hy klaar verloor.

Ditsem, Datsun?

Dinge lyk steeds nie so vlot soos dit moet wees by Nissan nie. Eers is sy grootbaas, Carlos Ghosn, onder ’n wolk (en in boeie) weg weens beweerde belastingontduiking. Toe kom die mislukte samesmelting met Fiat. En nou is daar die gerugte dat die Japanse groep van sy herleefde Datsun-naam ontslae wil raak.

Dis iets soos ’n tiener-kys. Dan wil Nissan hê Datsun moet waai. Dan nie. Dan net in sekere markte.

Dis trouens hoe Knormoer die storie in sy jongste gedaante verstaan: Datsun moet koebaai sê vir sy Russiese en Indonesiese markte. Maar hy kan in Indië aanbly. En dalk kom Pakistan volgende jaar by.

Suid-Afrika? Ons kry die Go (en sy stasiewa-maatjie, die Go+) uit die Indiese fabriek. Dus behoort ons steeds opgesaal te wees met ’n Datsun – slegte nuus vir motorjoernaliste, maar goeie nuus vir die res van die land.

  • Knormoer wil nie te veel sê nie. Maar kyk net mooi: As selfs die Russe nie meer kans sien vir ’n voertuig nie, moet dit nie dalk die rooi ligte laat flikker nie? Ouens?
Meer oor:  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.