Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
KNORMOER: Hei, dis rof daar buite, sê VW

Knormoer geniet altyd ’n eg Suid-Afrikaanse benadering tot die formele motorlandskap. Dink maar aan die Barnard-renmotor waarmee ’n Oos-Randse ingenieursgroep enkele jare gelede aan die Le Mans-uithouren wou deelneem: “Daar gaan die Porsche, gevolg deur ’n Ferrari, Corvette, en ’n Barnard op sy hakke!”

Bernd Perfölz (64) het in die 1980’s in Volkswagen se fabriek in Zwickau Trabants gehelp bou. Vandag werk hy aan die ID.3, VW se nuwe e-voertuig.

Ag, dis mos musiek in ’n mens se oor.

Die jongste vonkel kom in die gedaante van ’n De Beer by Renault se F1-span.

Dirk de Beer is eintlik al ’n ou kalant in F1-kringe, waar hy al vir spanne soos Sauber, Williams, Ferrari en Lotus agter die skerms gehelp het.

Sy spesialisgebied is aërodinamika, en volgens Renault sal hy boonop ekstra gewig aan hul bestuurspan verleen.

  • Dis altyd goed om Suid-Afrikaners te sien skitter oorsee. Ons wag nou net vir daardie magiese oomblik wat die kommentator sê: “En daar steek ’n Barnard ’n Ferrari verby!”

Maak vas die gordels

Kyk, Knormoer is gewoonlik maar ’n rustige ou. Jaag die hond, skel die kinders, wys vingertekens in die verkeer. Maar andersins, heel gematig.

As die wêreld se grootste motorvervaardiger dus die dag sê hier kom moeilike tye, dan moet jy weet dinge is rof.

In hierdie dae wat Peugeot en Fiat wil saamsmelt omdat die finansiële uitdagings wat die bedryf in die gesig staar net te groot is om op jou eie aan te durf, was dit rooi ligte wat vir Knormoer geflikker het toe Volkswagen sê taai tye lê voor.

Dis nie net Wolfsburg wat bekommerd is nie. Ford en Renault het albei pas waarskuwings aan beleggers uitgestuur dat hul state swakker as verwag gaan lyk.

Mercedes op sy beurt het reeds ’n verlies in die tweede kwartaal aangeteken. Die groep is nou besig met kostebesnoeiings.

Die wêreldekonomie sukkel nie te veel nie. Amerika haak sesde, China skep asem en Europa beur steeds voort. Dis eerder kunsmatige, eksterne druk – vanaf jeukerige owerhede – wat die bedryf so laat knars.

  • Kom ons hoop die gans wat die goue eiers lê word nie in die haas om groen mikpunte te bereik, nek-om gedraai nie.

Hou net die ligte aan, kêrels

Knormoer moet gereeld aanhoor hoe min geld die owerhede het om op verkeersveiligheid te bestee.

Hou maar dop, dis mos binnekort weer Kersvakansie. Die nuusblaaie gaan vol wees van die stygende padsterftesyfer. Met ’n ampsdraer wat kort-kort sê: “Dié keer gaan ons julle vasvat!”

Maar as gevra word waarom word daar nie meer verkeersbeamptes aangestel nie, is die antwoord daar’s nie geld nie.

Maar so hoor Knormoer toe verlede week van ’n groot provinsiale verkeersdepartement wat net dol is oor blink ligte.

Soos in letterlik, hoe meer ligte hoe beter. Die ding werk so. Die departement reik ’n tender uit vir nuwe noodligte wat aan al sy ambulanse, patrolliemotors en enige kar wat in sy staatsgarage staan, opgesit kan word.

Dan stel die verskaffer ’n paar ligte voor. Twee kolligte vir die buffer, en ’n staaflig (LED’s) bo-op die dak.

Nee, sê die departement. Dis ’n bietjie min. Ons soek nog ligte.

As daardie Corolla klaar uitgerus is, het hy vyf rye ligte bygekry, van onder die buffer en bo-op die enjinkap tot bo-op die dak. Dit kan draai, flits, Ellispark saans verlig en ’n hengse partytjie-atmosfeer skep.

Knormoer se bron sê dit kos so R80 000 per voertuig om al daai fênsie ligte op te sit, waar die aanvanklike voorstel slegs vir R20 000 was.

  • Gewoonlik kruip konkelaars in die donker weg. Maar Knormoer vermoed hier word die belastingbetaler sommer onder die kombuislig kaal gesteel.
Meer oor:  Volkswagen  |  Knormoer  |  Motors  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.