Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: Iacocca - ’n Karman gewilder as Pous

Knormoer was net te jonk om direk met Lee Iacocca te doen te kry – op sy dag die grootste gees van Motor Inc Amerika (soos die korporatiewe motorlandskap bekend staan).

Deur die jare het ons Chargin’ Bob Lutz van Ford gehad, Sergio Marchionne van Fiat, Carlos Ghosn van Nissan en Ferdinand Piëch van Volkswagen.

Lee Iacocca, op sy dag grootbaas van Chrysler, vertel aan die motorwêreld hoe dinge inmekaarsteek.

Groot persoonlikhede wat hul stempels op die internasionale motorlandskap afgedruk het.

Maar in die 1970’s en 1980’s was daar net een naam wat uitgestaan het. Lee Iacocca. Die man wat vakbonde ’n skiet-uit-die-heupe kêrel genoem het, en Playboy ’n sakeman nog van die ou skool.

Nadat hy sy naam by Ford gemaak het deur die kitssukses van ’n Mustang in 1964 te loods, het Chrysler hom oorgekoop toe hulle finansiële probleme ervaar het. Iacocca het Chrysler omgeswaai, nadat hy eers ’n regeringslening moes aanvra, alvorens Chrysler weer op die wenpad kon kom.

In 1985 was sy gesig op elke TV-stasie in Chrysler-advertensies. “Toe, gaan koop ’n beter kar as jy dink daar is een,” was sy gesegde aan Amerikaners.

In 1985 het ’n Gallop-peiling bevind Iacocca is die derde gewildste persoon in Amerika – net agter Ronald Reagan en Pous Johannes Paulus II.

In 1986 was hy gewilder as die Pous. Maar Reagan steeds nommer een.

Iacocca is verlede week in die ouderdom van 94 oorlede. Vader van die (Amerikaanse) minibus en die ’stang. En eerste van ’n nuwe era van persoonlikhede in die motorbedryf.

  • Die wêreld sal hom mis.

Krüger soek parkeerplek

So van groot geeste gepraat, Knormoer sien daar is roering in München se waters.

Harald Krüger, grootbaas van BMW, het pas gesê hy is bereid om sy tasse te pak. Dit nou nadat BMW in nog ’n kwartaalverslag gesukkel het om uit ’n era van swak groei en lae wins onder sy stuurmanskap te kom.

Die motorwêreld is rof. Een dag is jy die embleem op die enjinkap, die volgende die roet by die uitlaatpyp.

Knormoer was ’n paar jaar gelede teenwoordig toe Krüger tydens ’n bekendstelling in Frankfurt op die verhoog flou neergeslaan het. Hy was pas terug van ’n besoek aan China.

Die druk om sinergieë te vind en groei en wins te bewerkstellig te midde van nuwe uitdagings, moet ongelooflik wees. Veral ’n hoëprofiel-groep in die weeldemark soos BMW.

Mercedes gaan van krag tot krag. BMW, op sy beurt, moet mooi besluit waar hy sy geld bestee: enjins, dinamika, of binneruime. Nie al drie tegelyk nie.

Knormoer dink nie Krüger het noodwendig swak besluite geneem nie. Kyk hoe gewaagd was BMW met sy X6, X4, en die 5- en 3-Reeks GT’s. Nuwe, vreemde voertuie. Die GT’s was wel so-so gewild, maar met die X6 het BMW raakgevat.

Vir ’n groep soos BMW, wat op dinamika sy naam gemaak het, hou die nuwe era van elektriese voertuie egter ’n nuwe uitdaging in.

Almal gaan dieselfde batterye benut. Hoe differensieer jy – as die bouer van die puikste enjins – jouself nou?

  • Knormoer is bly hy doen net verslag hieroor. Daardie stoel moet vuurwarm wees.

Glans vir ’n plakker

Dis geen geheim daar is ’n groot gestoei om die koper se beursie tussen Ford en Toyota in Suid-Afrika nie. Die Ranger hap aan die Hilux se hakke.

Verlede week, terwyl Ford ’n paar mediagaste na die Makgadikgadi-panne geneem het, het Toyota geantwoord met ’n glansgeleentheid by die Victoria-waterval.

Die rede? Die Hilux Legend 50 (’n paar kentekens en ekstras op ’n gewone Hilux) is bekend gestel.

  • Knormoer is nuuskierig om te sien wie se pen gaan van die kaviaar drup.
Meer oor:  Motors  |  Rubriek  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.