Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer
Knormoer: Is tradisionele handelaars se dae getel?

Daar is ’n interessante tweegeveg agter die skerms in die motorbedryf aan die broei, sien Knormoer so uit die hoek van sy oog. En dinge kan nog lelik raak.

General Motors het onlangs aan sy sowat 900 handelaars in Amerika gesê hulle moet hul fasiliteite gereedmaak vir die koms van Cadillac se eerste, nuwe e-voertuig, die Lyric (’n kompakte sportnuts).

Dié “gereedmaak” behels ’n opknapping van glo $200 000, wat die handelaars elkeen self voor moet betaal. Dis nou om die nodige toerusting in die werkwinkel te hê om aan die batterygedrewe voertuig te kan werk, herlaaitoerusting op die perseel, en om verkoopspersoneel op te lei.

Dit blyk nou 150 handelaars het nee dankie hiervoor gesê. GM gaan dié handelaars nou uitkoop, om ander eienaars die kans te gee om met die e-verkope voort te gaan.

Knormoer kan verstaan waarom sommige handelaars traag kan wees vir hierdie nuwe stap.

Die oud-TV-aanbieder Richard Hammond by sy eie Land Rover Defender, met die nuwe weergawe in die agtergrond. ’n Sportnuts en ’n werkesel, noem hy die twee.

E-voertuie verg dié aanvanklike belegging, maar sodra jy daardie motor verkoop het, gaan hy nie weer geld vir jou handelaarskap inbring in die vorm van gereelde versienings nie. Batterymotors het minder bewegende dele en dus slytasie, asook vloeistowwe, as binnebrandenjins. Vir die handelaar is daar dus nie ’n aansporing om duisende van dié voertuie te verkoop nie.

Het ons hier die eerste salvo gehoor in die stryd om die oorlewing van die tradisionele motorhandelaar soos ons dit ken? Gaan handelaars en motorverkope nie maar al meer aanlyn beweeg nie?

Trouens, Knormoer sien Japan se minister van nywerheidsake sit glo tans op ’n witskrif waarmee hy die verkoop van petrol- en dieselvoertuie teen 2035 totaal wil verbied.

  • Hierdie ding is soos ’n golf: Net ’n deining daar agter diep, maar hier voor word hy ’n bruisende brander. As dit ons tref, gaan dit vinnig en hard wees.

’n ‘Moose’ geskrik

Die Sweedse tydskrif wat gereeld nuwe voertuie in sy nou reeds bekende (of berugte) elk-toets onderwerp, Teknikens Värld, het pas drie gewilde sportnutse sy slalom-toets laat doen – en al drie het dit gedop.

Goed, druip is dalk ’n sterk beskrywing. Die drie sportnutse, Toyota se RAV4, die Volvo XC40 en die Mitsubishi Outlander, kon almal die uitswaai-swenk teen so 60 km/h baasraak. Maar teen vinniger snelhede het die voertuie omgekantel.

’n Paar goed moet wel genoem word. Eerstens, dit is ’n ekstreme toets. Dit behels die skerp verandering van rigting, soos wanneer jy op die nippertjie sou uitswaai vir iets voor jou in die pad (die elk, of kind of voertuig). Die momentum van ’n groot sportnuts, plus sy hoë gravitasiepunt, maak dat dié voertuie makliker sal wil omkantel as ’n sedan.

Die voertuie het wel almal ’n stabiliteitstelsel, wat meestal help. Maar dié stelsels het ook kalibrasies. Jy wil dit nie te gou laat ingryp nie, want netnou draai jy skerp links in ’n systraat af en dan ruk en pluk die blikbrein aan jou wiele. Want hy dink jy gaan ’n ongeluk maak.

Met ’n strenger kalibrasie (die blikbrein gryp gouer in), kon die voertuie wel die toets slaag.

  • Knormoer vermoed die tydskrif het ’n nis gevind om gereeld sy naam in die media te kry. Dis goed, tot op ’n punt.

Die Disco Defender

Knormoer het dit eerste gesê, en nou noem die oud-Top Gear-aanbieder Richard Hammond dit ook: Die nuwe Land Rover Defender is eintlik net ’n Discovery met ’n Defender-kenteken op.

Hammond sê die destydse Defender was op ’n ander koper gemik. Hardebaard en rof, en gebou vir daardie toestande. Die nuweling is vir winkelsentrums be-doel.

  • Knormoer voel soos daardie ou haan op die werf. As al die jongetjies klaar gekraai het, knik hy net sy kop.
Meer oor:  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.