Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: Kalifornië slaan (weer) groen tamboeryn

Knormoer het ’n sagte plek vir Isuzu. Die KB-bakkie (deesdae die D-Max genoem) het iets van die swartskaap in hom, as jy hom met al die blink mededingers soos die Hilux, Amarok en Ranger vergelyk.

Daar is egter groot opgewondenheid deesdae in die Baai. ’n Nuwe bakkie word voorberei, en toetswerk om hom vir ons toestande aan te pas, vorder fluks.

Knormoer hoop nou net Isuzu mis nie die bos vir die bome nie. Tydens ’n aanlyn bekendstelling verlede week het die Suid-Afrikaanse filiaal groot gewag gemaak van die nuwe bakkie se sterker gesweiste laaibak en ekstra seëls by die deure om stof uit te hou.

Dis die nuwe Renault Arkana, ’n koepee-sportnuts. Terwyl dié klas ál gewilder word in Europa, sal SA ál meer voertuie uit Indië kry weens die pap rand.

Fantasties, kêrels. Maar hou net ’n oog op die mededingers. Die Amarok draai meer krag uit ’n tweeliter-diesel as jul eie drieliter van voor die Runderpes. Ditto die Ranger se diesel. Dieselfde Ranger bied ook ’n moderne tiengang- outomatiese ratkas en ’n raakskerm in die kajuit wat jou vellies se veters kan vasbind, so slim is dit.

  • Kêrels, dis mooi en oulik om ’n stofdigte kajuit te hê. Maar jy gaan nie die July wen deur net die stert in ’n vlegsel te knoop nie. Hy moet kan hol ook.

Vrede, broe’, en skoon lug

Komende van die staat wat aan ons in die 1960’s en 1970’s die hippie-beweging met sy voorliefde vir alternatiewe rookgoed gebring het, het dit Knormoer se wenkbroue ietwat laat lig toe hy Kalifornië se jongste aanslag op motors raakgesien het.

Die sonskyn-staat se goewerneur, Gavin Newsom, het verlede week gesê die staat gaan teen 2035 die verkope van enige binnebrandvoertuig verbied.

Dis nogal ’n dramatiese stap. Maar met sprokies- en droomland (Hollywood) in sy midde moes dit seker ook nie te onverwags gewees het nie. San Francisco en Los Angeles was nog altyd ’n bakermat vir alternatief denkendes en lewendes.

Volgens Newsom se verklaring kan die uitwerking op die omgewing sommer gou die blommetjies weer laat blom en die kinders laat ophou hoes.

Die beramings is dat CO2 – die gas wat die kweekhuis-effek veroorsaak wat tot aardverwarming lei – met ’n derde sal val, terwyl die sogenaamde NOx-gasse (wat mense se gesondheid in gevaar stel) met 80% verminder kan word.

Die Kaliforniese owerhede sê voertuie is vir sowat die helfte van alle skadelike gasse wat vrygestel word, verantwoordelik. Dit word egter deur ander kringe betwyfel, met ’n kleiner bydrae wat geraam word.

Hoe dit ook al sy, progressiewe state gaan ál meer op hierdie idealistiese wa spring.

Dit herinner Knormoer net aan die vurige voorstanders van sosialisme en kommunisme: teorieë wat op papier fantasties klink, totdat jy dit in die praktyk aan eie bas ervaar, en besef dis nie rêrig so lekker nie.

  • Voorspoed, ouens.

Intussen, in Korea

Knormoer is werklik opgewonde oor die nuwe Hyundai Tucson wat pas oorsee bekend gestel is. Hoewel die nuwe Tucson eers volgende jaar hiernatoe sal kom, kan hy al klaar nie meer wag nie.

Waarom? Dis die sportnuts se ontwerp. Kyk net daardie lyne en aksente. Al die fyn kenmerke. Knormoer verwag in die namiddag-lig gaan dit selfs nog beter uitstaan, as jy langs hom staan.

Interessant genoeg beplan Hyundai om die Tucson sy nuwe glansmotor in sy portefeulje te maak. Die diamant in die kroon.

Onthou, Hyundai as ’n nuwe vervaardiger het geen herkoms soos ’n S-klas, Kewer of 911 nie. Daardie uitstaan-model wat jy dadelik met die vervaardiger assosieer as jy sy naam hoor.

Mooi ontwerp speel nie altyd die grootste rol by mark-sukses nie. Kyk maar net na die Nissan Almera.

  • Maar in die Tucson se geval kan dit dalk net die deurslag gee, voorspel Knormoer.
Meer oor:  Kalifornië  |  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.