Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
KNORMOER: Koebaai, kuns van die Arteon

Een van die slagoffers van die rand en die rigting waarin kopers se smaak beweeg het, is Volkswagen se Arteon.

Knormoer verneem die Arteon word nie meer in Suid-Afrika verkoop nie. En dis ’n jammerte, want dié stylvolle sportsedan is straks die mooiste Volksie ooit.

Oorsee het daar pas ’n opgeknapte weergawe die lig gesien, en daar is boonop ’n warm R-model ook in die reeks. Kortom, die volle pakket wat die Arteon nou bied is so watertand as ’n loesing vir die Kiwi’s. Daardie mooi ontwerp, gekombineer met die 236 kW-weergawe van die groep se 2.0-liter-turbo.

Straks die hoogtepunt van die Arteon vandag is sy binneruim. Waar ’n Passat (waarvan die Arteon die spirituele opvolger is) jou in die verlede 20 jaar ouer laat voel het met ’n tikkie pankop daarby as jy inklim, straal hierdie Arteon vandag ’n sjiek gesofistikeerdheid uit.

Onthou die Ford Fusion van ’n dekade gelede? Dit was ’n soortgelyke geval. ’n Poging om ’n groot sedan hier te laat posvat, maar wat ná ’n lustelose bemarkingsaanslag en flou verkope onttrek is.

Dis gewis nie ’n maklike segment om in te speel nie. Maar dié rygoed bly puik voertuie. Dis jammer dis ons nie beskore nie.

Psst, Lewis, hoor gou dié

In ’n omgekrapte era waarin wêreldstede deurloop onder betogings, en waar selfs ’n F1-renjaer sy eie kommissie van ondersoek na rassisme in sy sport op die been gebring het, was dit vir Knormoer ietwat vreemd hoedat ’n nuwe vervaardiger dit reggekry het om so ongeskonde met sy naam kon wegkom.

Knormoer praat nou van Lords­town, die Amerikaanse vervaardiger van e-voertuie, wat pas ’n konsepmodel van ’n nuwe bakkie in Amerika gewys het.

Lordstown. Dit klink vir Knormoer mos alte veel na iets koloniaals met ’n slegte smaak in die mond. ’n Plek net vir die lords?

Intussen, by Tesla

Gehaltestudies is gewoonlik maar ’n vae wetenskap, veral as jy jou op kopers se opinies berus. Neem maar byvoorbeeld kommentare by Amazon-items wat te koop aangebied word, of by verblyfplekke. Smaak verskil, en wat vir die een puik is, is vir die ander maar net so-so.

Tog was die jongste JD Powers-navorsingstuk oor Amerikaanse voertuigeienaars heel interessant vir Knormoer. JD Powers doen twee ondersoeke per jaar. Die eerste kyk na betroubaarheid, die tweede na die gehaltepersepsie van die eienaar.

JD Powers stuur vraelyste uit aan die eienaars van nuwe voertuie. Na aanleiding van hul antwoorde, word ’n telling gegenereer, en dit word dan uitgedruk op ’n ranglys van watter vervaardiger se voertuie dan as die betroubaarste by nuwe eienaars ervaar word, of wie se indruk van die gehalte van sy nuwe ryding is die hoogste.

In die jongste ondersoek, oor gehalte, was die Chev Sonic saam met Kia en Dodge bo-aan die lys koning gekraai. Heel onder? Tesla. Dis die eerste keer wat Tesla aan die JD Powers-stuk meedoen, en dinge lyk nie goed nie.

Ter versagting: ’n Eienaar kan kla dat sy radio nie wou werk nie; of dat die CD-speler nie ’n volgende snit wou kies nie. Dus, nie noodwendig ’n voertuig wat nie wou ry of waarvan die deure wil afval nie. Maar dis nie die eerste gevaartekens wat al oor Teslas gehoor is nie.

Voertuie is gekompliseerde goed. Dit bevat duisend en tien dele waar enige klein onderdeel maklik ’n fout verder af in die ketting kan veroorsaak.

Karre bou is nie so eenvoudig nie. Dis hoekom hulle so duur is.

Meer oor:  Arteon  |  Volvo  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.