Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: Maak die halftonbakkie weer ’n terugkeer?

’n Interessante brokkie het Knormoer se oog getrek: Werkesels.

’n Aanlyn verkoper van gebruikte motors het pas ’n tabel bekend gemaak van die toptien voertuie met die hoogste gemiddelde kilometerlesings vir die afgelope 12 maande.

Nou, dit is slegs vir voertuie wat op sy webwerf te koop aangebied is (eienaars moet die kilometerlesing invul as hulle adverteer). Maar aangesien dit die grootste aanlyn bladsy is, bied dit tog ’n blik op ons mark.

Soos verwag is doelgeboude afleweringsvoertuie hoog op die lys, saam met bakkies (wat ook as afleweringsvoertuie ingespan word; kyk maar net na al die nuwe koeriergroepe in jou dorp wat opgeskiet het).

Renault het die Oroch-konsepmodel, geskoei op sy Dacia Duster-sportnuts, as ’n halftonbakkie vir Derdewêreldmarkte ontwikkel.

Maar die opvallendste is watter handelsmerk bakkie gemiddeld die meeste kilo’s agter die blad het. Nie die Toyota Hilux of die Ford Ranger, ons gewildste bakkies in die land nie. Nee, dis die ietwat onbekende Fiat Fullback. Met die eerste oogopslag was Knormoer ook onkant betrap. Ons het immers die prent in ons kop van die Hilux wat ’n werkesel is.

Onthou nog daardie TV-advertensie van die vroeë 1980’s waar ’n Duitse omie vertel: “Ek het ses Hilux-bakkies.”

Maar dink mooi – destyds se Hilux was ’n werksbakkie. Vandag is hy so duur dat hy meer in ’n leefstylbakkie ontwikkel het. Mense gebruik dit soos ’n sportnuts, om dorp toe mee te gaan of kinders af te laai.

Hierdie ander, goedkoper bakkies met ’n meer basiese afwerking vertolk nou die rol van gestroopte werkesels.

  • Dis die fassinerende aspek van motors. Dit ontwikkel en verander van rol in die samelewing, sonder dat ons dit self besef.

Breker-bakkies

Wat mense maklik uit die oog verloor, is dat motorvervaardigers inderwaarheid verbruikersgroepe is.

Hulle maak ’n kommoditeit, wat ek en jy verslind.

Die suksesvolle groepe doen meestal twee goed reg.

Eerstens is hul gehalte goed, maar tweedens sorg hulle ook dat hul produk altyd net reg vir die mark se huidige behoeftes is.

Nou, dis makliker gesê as gedaan. Renault het raakgevat in die vroeë 2000’s met sy Scenic, toe hy die eerste was om die toe nuwe aptyt vir kompakte gesinsbussies te identifiseer en puik daarin te voorsien.

Kyk ook na die Nissan Juke en Ford EcoSport, wat in die segment vir kompakte nutse die vroeë pasaangeërs was, en vandag steeds die vrugte daarvan in ’n ontploffende segment pluk.

Maar wat’s volgende?

Die vervaardigers tas ook maar maklik in die donker mis. BMW het misgevat met sy 5-reeks GT, Renault met sy Vel Satis, en Mercedes met sy R-klas.

Dit lyk asof vervaardigers ál meer hul geld op nutsvoertuie plaas, as die volgende Groot Groeisegment.

Dus, eentonbakkies, en halftonbakkies. Ons sien reeds VW wat wil vasbyt met sy Amarok, en Renault en Peugeot wat elkeen ’n bakkie na die mark wil bring.

Ford stel volgende jaar sy nuwe Maverick bekend, ’n bakkie so tussen die Ranger en Bantam. Intussen klink dit of sowel VW as Nissan ook so ’n halfton-leefstylbakkie in die oog het.

Selfs Hyundai wil so iets net onder sy nuwe Santa Cruz-bakkie vir die Amerikaanse mark aanbied.

Knormoer voorspel die segment vir klein paneelwaens, wat omskep is as gesins- en kampeervoertuie, gaan ook gou in gewildheid toeneem. VW (Caddy Camper) en Mercedes (Citan) beweeg reeds in dié segment in.

  • Met bakkies wat al meer as ’n halfmiljoenrand kos, sal dit nie vreemd wees as ons invoerders ook opgewonde oor hierdie nuus raak nie. Enige halftonbakkie rondom die R350 000-merk sal soos soetkoek verkoop.
Meer oor:  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.