Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
KNORMOER: Melkkanne vir paaie? Ja, seblief

Boere in die Vrystaat sal sê hulle weet al lankal ons paaie is van plastiek gemaak.

Maar hier is ’n gawe nuutjie wat Knormoer se ore bereik het. In KwaZulu-Natal is daar nou twee projekte aan die gang waar “plastiekpaaie” as proeflopie op hoofweë gelê is.

Natuurlik is die pad steeds van teer gebou, en nie van melkbottels en doppies nie. Maar die slim ouens met die lang wit jasse en sakrekenaars in die boonste sak het uitgevind ’n mens kan een van die bestanddele in teer met herwinde plastiek vervang, sonder om die mengsel se gehalte te benadeel.

Vir die eerste projek, wat in Augustus by Cliffdale voltooi is, is ’n stuk of 80 m lange provinsiale pad met ’n teer-en-plastiekmengsel gelê. In die tweede projek, wat verlede week op die N3-snelweg by Hammarsdale begin het, is goedkeuring vir ’n 200 ton mengsel plastiek-en-teer ontvang.

Elke pad se dravermoë verskil natuurlik, en dis waarom Raubex (wat as konstruksie-ingenieurs aan die stuur van dié gawe projek staan) die twee tipes paaie gekies het.

Die uitdagings is enersyds die duursaamheid van die binding onder swaar vragte, en dan andersyds hoe die pad hom oor tyd in ons rowwe weersomstandighede (nat, bedompig, warm en koud) sal gedra.

Knormoer gee ’n skouerklop aan Raubex se span. Dis ’n fantastiese projek – 6 770 herwonne plastiekmelkbottels is onder meer in die Cliffdale-projek gebruik. Dit haal plastiek uit die omgewing wat net op ’n munisipale ashoop sou beland het; en dit word positief tot almal se voordeel herbenut.

  • Knormoer weet net nie hoe die afgetrede melkwa-drywer gaan voel as hy eendag oor so ’n pad moet ry nie.

Skou ’n flou makou?

Knormoer sien die groot Frankfurtse motorskou, wat vandeesweek sy deure oopgegooi het, het ’n lelike hou in die ribbekas gekry: Altesaam 23 vervaardigers het hul aan dié eens grootse skou onttrek.

Die Frankfurtse skou, wat elke tweede jaar aangebied word (die alternatiewe jare word die skou in Parys aangebied), was op sy dag die motorhoogtepunt op die kalender.

Joernaliste vanoor die wêreld vlieg daarheen om te sien wat is nuut op die landskap, terwyl belangstellendes en petrolkoppe vanoor die hele Europa na Frankfurt sou reis om dit by te woon.

Maar die tradisionele motorskou se glans verdof. Knormoer vermoed tegnologie – die slimfoon en sy snelle toegang tot inligting – is die oorsaak.

Die internet op sigself het nie veel van ’n duik aan skoue se gewildheid onder vervaardigers en joernaliste gemaak nie. Dit was eers met die koms van die slimfoon wat dinge verander het.

Die slimfoon is ’n puik oordraer van inligting. Die pakmuil van die 21ste eeu, as jy wil. Enigeen wat iets wil bemark, benut die slimfoon. Danksy die internet (wat ons nou al vir 20 jaar ken) en sy moderne kinders, die app en sosiale media, kan vervaardigers hul boodskappe selfs meer doeltreffend oordra na joernaliste en potensiële kopers.

Die skou was soos die koerant. Dit was die enigste manier om fisiek iets nuuts raak te sien. Groot onkoste is aangegaan om massiewe, glansryke uitstallings by die skoue op te rig. Vandag kan al daardie koste bespaar word, en 23 vervaardigers het besluit om dit te doen.

  • Dis ’n nuwe wêreld. Kodak het dit gevoel. Koerante is midde-in dit. En nou motorskoue. Dis rof daar buite.

Een swaeltjie, kêrels

Is dit nie oulik om te sien hoe miljoene Ferrari-ondersteuners weer jubel oor die wêreld wat weer reg is nie? Twee seges op vinnige bane en die vlae wapper.

  • Knormoer wil net graag ’n Frik-aanhaling oproep: “Looks at the scoreboard!”
Meer oor:  Motors  |  Motorrubriek  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.