Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: Mercedes rol die dobbelsteen

Knormoer is gefassineer deur die nuwe EQC, die eerste elektriese motor in Mercedes se nuwe EQ-handelsmerk wat spesifiek vir sy toekomstige e-voertuie geskep is.

Mercedes se nuwe EQC is sy eerste proesel in die e-voertuig-segment. Gaan dit werk?

Die EQC is ’n middelslag-sportnuts, omtrent dieselfde grootte as die GLC. Maar pleks van ’n turbodiesel onder die neus, lê daar ’n 80 kWh-battery onder sy vloer.

Dié dryf twee elektriese motors aan, een op elke as. Die voorste motor (wat net die voorwiele aandryf) sorg vir die meeste van die rywerk. Maar as jy wil mielies gooi, sal die agterste ene soos ’n Blitsbok met ’n oop doellyn voor hom inskop.

Gaaf. Maar sal jy darem die kantoor kan haal? Heel moontlik, vir ’n dag of drie op ’n streep, sê Merc. Met ’n reikafstand van so 350 km sal jy heel mildelik oor die weg kom.

Die herlaaityd is natuurlik nog ’n tameletjie. 40 minute sal jou pap battery tot op 80% volmaak.

  • Knormoer reken as kantore en winkels kragpunte kan installeer, sal veel meer mense van dié nuwe tegnologie gebruik maak.

Spieëltjie, spieëltjie

Knormoer sien ’n spoggerige restaurant op ’n Bolandse wynplaas is pas bekroon as die land se beste eetplek.

Fantasties, kêrels. So met ’n vinnige deurblaai deur die plek se spyskaart, sien hy ook dat die pryse heelwat noord van jou plaaslike Spur en Wimpy se aanbiedings is.

Hiermee is niks fout nie. Dis ’n ander bord kos wat aan jou voorgesit word, met duurder items.

En ’n sweterige ou met ’n wit hoed en gestreepte voorskoot het dit in die oond gesit. Waarna nog ’n snaar met ’n weglêkuif die finale swart streep met die vleissous oor jou bord gevee het.

Opgeleide mense, wat ’n imposante bord aan jou voorsit.

Toe dink Knormoer. As die motorskrywers ’n Pors aanwys as hul beste motor van die jaar, is die land ongelukkig. Dis elitisties. Wat van die Polo? Niemand kan tog daai Pors bekostig nie.

  • Nou wonder Knormoer: Is dit nie maar dieselfde geval nie? Almal eet by die Wimpy. Dis volksbesit, en bekostigbaar – nes die Polo. Waarom kla niemand oor kosskrywers wat uit voeling met die res van die publiek is nie? Is ’n duur, eksklusiewe restaurant wat kenners in diens neem om ’n puik produk aan ryk klante voor te lê, “anders”?

Goin’, goin’, Ghosn

In 2016 was die groot skandaal die sogenaamde Dieselgate. Vanjaar se groot nuus sal sekerlik die verwagte afdanking van Carlos Ghosn, grootbaas van Nissan, Renault en Mitsubishi, wees.

Ghosn was vir jare ’n geliefde in die motorbedryf nadat hy in die 1990’s die bankrot Nissan van ondergang gered het.

So goed was sy taak oor die jare, dat Nissan selfs die toptwee, Volkswagen en General Motors, op die verkopefront begin uitdaag het.

Nissan het Maandag in ’n kort verklaring gesê Ghosn is in hegtenis geneem vir beweerde bedrog met sy geldsake. Hy het glo onder meer maatskappygeld vir eie gewin gebruik.

Die saak moet nog voorkom, maar Le Cost Killer se dae in die bedryf is eintlik maar getel.

  • Die man wie se omdraaistrategie as voorbeeld by Harvard se sakeskool gebruik is, se loopbaan het self ’n omdraaipunt bereik. Dis jammer as die hoogste bome val. Knormoer was ’n fên.

Wat ruik so?

Die reuk van ’n nuwe motor mag dalk die grootste rede vir jou wees om daai blink wiele aan te skaf. Maar in China verpes kopers glo dié einste reuk.

Soveel so dat Ford nou 18 witjasse aangesê het om uit te vind waar kom dit vandaan, en hoe om dit te stop.

  • Gewapen met 18 vergrootglase is daar toe gesoek en geruik, en bevind dis al die plastieke, as dit warm bak. O, sê Knormoer. Nou om dit te stop, kêrels.
Meer oor:  Renault  |  Mitsubishi  |  Mercedes Benz  |  Nissan  |  Carlos Ghosn  |  Rubriek  |  Knormoer  |  Elektriese Motor  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.