Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: Mooi sit, Sarie, as jy gaan saamry

Goeie nuus vir Volksie-aanhangers is dat die troue tussen die volgende Ford Ranger en Volkswagen Amarok ’n gawe model-dividend vir VW mag oplewer.

Knormoer hoor daar word hard agter die skerms in Duitsland gewerk om ’n verrigtings-weergawe van die Amarok die lig te laat sien. ’n Lekker warm bakkie dus soos die Ranger Raptor.

Dit was nog altyd iets wat die huidige Amarok makeer het. Ford het ’n unieke model na die mark gebring toe hy sy Raptor hier kom bekend stel het. Tot op hede het ons net bakkie-reekse met al mooier en deftiger afwerkings gehad. Maar nie ’n verrigtingsbakkie nie.

Oulik, ja, maar daardie mooi bene gaan flenters gestamp wees as die lugsak ontplooi in ’n botsing.

’n Mens kan dit ook ’n speelbakkie noem. Want met sy spe­siale agtervering, kragtiger remme en fris biturbodiesel-enjin – om nie van die Baja-ritmodus te praat nie – beloof die Raptor heelwat speeltyd agter die stuur.

Die volgende Amarok gaan ’n Ranger wees met ’n Amarok-binneruim en VW-rooster voor. Tegnies sal VW dus nie te veel moeite hê om die Ranger Raptor se DNS oor te neem nie.

Maar dalk wil VW eerder sy eie enjin benut. Dit is glo nou wat die ingenieurs toets, en dan moet daar ’n paar somme gemaak word om te sien of die hele oefening die moeite werd is.

  • Hoewel ’n warm Amarok gaaf klink, is Knormoer meer geïnteresseerd in ’n Amarok-Everest – die Toyota Fortuner-mededinger. Dit sal nou ’n gawe Volksie wees.

Hoe maak mens? So maak mens

Tannie Esmé Euvrard sou in haar noppies wees met Knormoer. Vandag gaan hy vertel hoe ’n mens moet en nié moet sit nie in die motor. Gratis en verniet.

Die slim ouens sê daar is glo vyf maniere waarop jy glad nie in die motor moet sit nie. Dit kan lewensgevaarlik wees.

Dit sluit in om jou voete op die instrumentpaneel te rus; om nie jou gordel te dra nie; en om te lê agter die stuur.

As jy lê, kan jy onderdeur die gordel gly, sou jy in ’n botsing betrokke wees. Sit jy met jou voete op die instrumentpaneel, sal die lugsak se ontploffing jou bene morsaf breek.

En laastens, om bloot net nie jou gordel vas te knip nie, beteken die lugsak het nie tyd om te ontplooi voordat jy dit tref nie.

  • Knormoer weet dit is vreeslik oulik as die asters hul rooi tone so wikkel op die dêsj. Maar speel eerder voetjie-voetjie by jou bestemming as wat jy slim wil wees in die motor.

Slim, die Europeërs

Knormoer sien die Europese Motor van die Jaar-kompetisie is pas afgehandel, met die klein Toyota Yaris wat as wenner aangewys is.

’n Paar goed het vir Knormoer uitgestaan. Eerstens, die Europese media manipuleer hul kortlys finaliste om slegs voertuie te hê wat bekostigbaar is. Dus, klein gesinsmotors. Alledaagse rygoed.

Tegnies is daar veel beter aanspraakmakers op die titel as wat in die handvol finaliste gereflekteer is. Maar baie van dié voertuie is peperduur. Of eksklusief (’n klein produksie-oplaag). Of nis-modelle, soos sportmotors.

Die Europese media kies grootliks goed soos die Yaris, ’n Skoda en ’n Seat en ’n luikrug-Citroën. Dis als Jan Alleman se rygoed daai. Slegs die nuwe Land Rover Defender was ’n miljoenrand-motor.

Suid-Afrika kan doen met so ’n benadering. Ons kompetisies moet enersyds uitnemendheid beloon. Maar ook ’n voet in die werklikheid hê, waar almal kan vereenselwig met die wenner.

  • Kom ons hoop Suid-Afrika se Motor van die Jaar-kompetisie, wat later die jaar aangebied word, gaan hierdie keer hierdie balans regkry.
Meer oor:  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.