Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer
Knormoer: ’n Zol het owerhede op hol

Knormoer sal sy bes probeer om kalm soos ’n walm te bly. Maar hier is nou ’n interessante ding aan’t uitbroei.

’n Kanadese navorsingsgroep van die McGill-Universiteit in Montreal het glo namens hul nasionale vervoerowerhede gaan uitvind wat die uitwerking van daggagebruik op bestuursgedrag kan wees.

Die span Kanadese witjasse kom toe op ’n onlangse Amerikaanse navorsingstuk af wat sê padongelukke wat direk aan die bestuurder se gebruik van dagga toegeskryf kan word, het merkbaar toegeneem sedert dagga wettig tuis gebruik kan word.

Die Yank-studie sê die persentasie is “klein, maar betekenisvol”. Dit het die Kanadese groep laat besluit om aan hul regering voor te stel dat wette sodanig aangepas word dat jy eers ses uur moet wag nadat jy ’n skyf gevat het voor jy in jou bakkie klim.

* Knormoer weet nou nie wat die gebruikskoers in Suid-Afrika is nie. Maar as hy soggens so na ons spitsverkeer op die snelweë kyk, vermoed hy daar’s ’n beduidende troppie landgenote wat ’n “blaaskans” op die stoep geneem het. Gelukkig is ou Fiks, ons minister van vervoer, mos ’n wakker ou. As hy bestuurders met ’n bier agter die blad so fluks kan aankeer, dink net hoe ywerig gaan die spietkops daggarokers opsoek. Droom ons.

Vlammesee vir ekstra kykers

DJ Opperman het destyds in sy Joernaal van Jorik al daarna verwys: Sit net ’n mooi aster op die voorblad en kyk hoe jou verkope galop.

Vandag se heilige graal vir bemarkers is kykers op TV en trefslae op sosiale media. Hoe meer, hoe beter.

Maar hoe om dit te kry? Ver- al as jy ook jonger kykers wil lok? Want dan gaan Ma en Pa nie daarvan hou dat klein Frik na skamel geklede dames op Kimi Raikkönen se F1-enjinkap kyk nie.

Dit lyk nou of F1 inderdaad ’n doelbewuste strategie het om nuwe kykers na sy sosialemediaplatforms te lok, en nie almal is ewe gelukkig hiermee nie.

Knormoer is nie seker wat hy van hierdie enetjie moet maak nie. Dis Citroën se nuwe C5 X – ’n stasiewa, sportnuts of langerige luikrug?

Die Australiese McLaren-jaer Daniel Ricciardo het pas in ’n onderhoud met ’n Britse tydskrif gesê hy dink die F1-bestuur is ’n klomp malles en dat hulle net ’n slag moet groot word.

Uitgesproke en reguit, ja.

Maar straks het hy ’n punt beet. Verlede jaar het Ricciardo gal gebraak toe F1 die Romain Grosjean-ongeluk by Bahrein oor en oor op TV gewys het.

* Onlangs, sê hy, het hul sosialemediaplatforms ’n toptien-lys gehad van verlede jaar se hoogtepunte. Agt hiervan was ongelukke. Maar die kliks word meer en die TV-syfers styg. Geld en sport was nog altyd moeilike bedmaats, sê Knormoer. Net soos met rofstoei en rugby en Rome se gladiators wil ons heimlik monstermense sien in mekaar in vashardloop. Die uitsaaier is net so skuldig soos die honger kyker.

Die magtige Agt

Knormoer wil graag ’n lansie breek vir ’n onbesonge held in die internasionale motorlandskap: die ZF-agtgang- outomatiese ratkas.

Soos die naam sê, is dit ’n produk van die Duitse ZF-ingenieursgroep. Maar moenie so frons nie. Kans is goed dat jy, sou jy ’n redelik onlangse BMW, Volksie of selfs Jaguar en Land Rover ry, al met hom bekend is.

Die ratkas is al meer as ’n dekade in die bedryf. Knormoer het hom destyds met die bekendstelling van die Amarok-bakkie die eerste keer leer ken. Sedertdien is hy mildelik in die VW-groep ingespan. Van Audi’s en Volksies tot Seats en Skodas.

Deesdae ry Volvo’s ook met die ZF-’kas. En die BMW M4.

* Jip, jou Amarok het dieselfde ratkas as ’n M4. Dink daaraan. BMW se ingenieurs sê verlede maand uit München dis bloot hoe goed die ratkas is. Kan ons ’n virtuele vat-vyf vir die ratkas kry, asseblief?

Meer oor:  Knormoer  |  Dagga  |  Owerhede  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.