Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: Nore het ’n gróót aptyt vir e-voertuie

Wie was nou weer daai snaar wat gedoem was om ’n klip teen die berg vir ewig uit te stoot? Nou ja, dis hoe Knormoer voel.

Dit nou nadat hy pas Noorweë se verkoopsyfers vir 2020 gade geslaan het. Mense, mede-petrolkoppe en ander ginnegapers, die eerste domino het geval.

Volgens die haringjagters se data was 2020 die eerste jaar waarin meer e-voertuie verkoop is as wat gewone petrol- en dieselvoertuie kon vermag.

Lancia se pragtige Groep B-tydrenmotor van die vroeë 1980’s wat met die Audi Quattro’s meegeding het, die 037.

Vir ’n volk wat dwarsoor die Atlantiese Oseaan in platboomskuite gevaar het met wind- en mensekrag alleen, was dit seker te wagte. Die ouens hou van dinge op die natuurlike manier doen. Maar nietemin.

Noorweë het in 2020 ’n skrale 141 412 voertuie verkoop. Vergelyk dit met ons 350 000, byvoorbeeld. Maar van daardie 140 000 was 76 789 voertuie heeltemal elektries.

Nou, die Noorweegse owerhede benut natuurlik die wortel-en-stok metode. Daar’s belastingstrawwe vir binnebrandenjins, en belastingvrye aanspo­rings vir e-voertuie. Dit is dus ’n ekonomiese besluit eerder as ’n groen besluit wat kopers neem.

Olaf en vrinne koop nie e-voertuie omdat dit lekkerder of beter ry nie. Dis goedkoper.

Maar tog, dit maak van Noorweë die eerste land ter wêreld waar e-voertuie – oor ’n jaar – beter verkoop het as petrol- en dieselvoertuie.

  • As jy Knormoer soek, sal jy hom opgekrul onder sy lessenaar met ’n opgefrommelde Hägar-strokie vind, besig om sagte snikgeluidjies te maak.

Ciao, Lancia

Terwyl Knormoer nou die Briels op die langspeler het, hier is sommer nog ’n tranetrekker vir jou Donderdag-koffie.

Die raadsaalskuiwe in die motorlandskap kan die einde beteken van nog ’n paar ikoniese handelsname. Knormoer gryp sommer self ’n viool en stryk hom ekstra stadig.

Eers het Peugeot en Citroën saamgesmelt. Toe sluk die PSA-groep (dis nou die Franse) ’n jaar of drie gelede sommer vir Opel ook in, toe dié deur General Motors van die hand gesit is.

En nou is die jongste gesprekke tussen Peugeot en Fiat Chrysler (FCA) glo ook al in die pylvak. Soos jy uit die naam kan aflei, bestaan Fiat Chrysler alreeds uit die Italiaanse nywerheidsreus Fiat (Alfa, Maserati, Ferrari, Fiat en Lancia) en die eens groterige Yank-vervaardiger Chrysler (wat Jeep en Dodge insluit).

Mense in die binnekring sê nou dat sou die PSA- en FCA-groep saamsmelt, daar noodwendig oorvleueling sal wees wat uitgeskakel moet word. Dit nou om bedrywighede gestroomlyn te kry, en kostes te besnoei.

Tussen al die blink MBA-terminologie egter is die harde waarheid dat Chrysler enersyds aan Yank-kant, en Lancia aan Europese kant, in dié nuwe huwelik kan sneuwel.

Dis baie hartseer vir Knormoer. Veral die moontlike afsterwe van Lancia.

Goed, die huidige Lancias van die afgelope twee dekades is nie vergelykbaar met die voertuie van die vorige eeu nie. Dis bloot klein Fiats met ’n nuwe bakwerk en ’n vreemde naam. Soos Ypsilon. Of Thesis.

Maar in die 1980’s was daar verruklik mooie rygoed soos die Delta Integrale, die Gamma en die klein Beta. Nog vroeër was daar die sjarmante Fulvia. En teen die laat 1980’s het ons die treffende 037-tydrenmotor gehad.

En nou? Koebaai. Dis al.

  • Mag Seppi, Peppi en Luigi sitplek kry op Maserati se drietandvurk in daai nuwe raadsaal.

Dis ’n biltong-Dakar

Stoot jou bors trots uit, want doer bo in die Arabiese woestyn is ’n paar Suid-Afrikaners besig om ons naam hoog te hou.

Dis nou die Suid-Afrikaans geboude Hilux-bakkie en die Century Racing-duinebesie wat so ligvoets soos ’n gemsbok oor die duine seil wat ons – en die wêreld – beïndruk.

  • Netjies, kêrels. So wys ons die res wat in ons steek.
Meer oor:  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.