Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: Nuwe straler: Sny ’n lyn, Dok

Vir vandeesweek se uitgawe van “Wilde Waarhede” het Knormoer ’n juweel gevind. ’n Kosmetiese chirurg (van Pretoria, nogal) wil die wêreld se eerste privaat straler bou wat soos ’n helikopter kan opstyg en land, en teen 800 km/h kan vlieg as hy eers in die lug is.

’n Groep Suid-Afrikaanse ingenieurs wil die wêreld se eerste privaat straler bou wat vertikaal kan opstyg en land.

Hoe’s daai, Amerika, Europa en Japan?

Volgens die dokter sal dit die eerste privaat straler wees wat dit kan doen. Daai Learjet agter sy sakepraktyk kan net vanaf ’n aanloopbaan opstyg.

Verloop sy toetssessie volgens plan, sal jy voortaan op die kantoor se dak kan land. Of by die hotel se landingsdek hoog op die 54ste vloer. Of wat van op jou privaat jag neffens Monaco?

Die dokter het grootse planne. Tans is hy besig om R30 miljoen in te samel om ’n toetsmodel te bou (hy trek al halfpad).

As die toetsmodel suksesvol kan opstyg en land (hy hoef nog nie ver of vinnig te kan vlieg nie, dit kom eers later), wil hy dit aan potensiële beleggers gaan wys – om die laaste R6 miljard in te samel wat dit gaan kos om een werkende model te bou.

Knormoer verstaan die Suid-Afrikaans geboude hopvliegtuig gaan effens anders as die Britte se Harrier werk.

Waar die Harrier sy spuitenjins se uitlaatstukke kan roteer om óf afwaarts te blaas (as jy vertikaal wil opstyg) óf horisontaal (vir vorentoe stukrag), gaan die Suid-Afrikaanse vliegtuig vier “waaiers” onder sy vlerke hê. Twee links, en twee regs.

Slim elektronika gaan die stukrag wissel tussen die waaiers onder die vlerke as jy wil opstyg, en die stert se uitlaatpunte as jy vorentoe-stukrag wil hê.

  • Bekommerd? Nie die dok van Pretoria nie. Hy kén van fyn sny.

Waar kan ek tjaarts?

Vandeesweek het ’n klomp elektriese voertuie by die Waterfront in Kaapstad aangekom nadat hulle verlede week in Pretoria met ’n epiese bemarkingstoer weggespring het.

Verskillende vervaardigers het elkeen hul eie batterymotor vir dié langpad-reis deur die land ingeskryf, wat meestal deur motorjoernaliste bestuur is.

Knormoer was nie deel van die slakkepas-avontuur nie. Maar hy is wel die een laatmiddag opgebel deur ’n deelnemer. “Ons is nou in die Oos-Kaap,” het die man gesê. “Maar dit gaan nog ’n lang dag word. Ons moet vanaand in Jeffreysbaai slaap, maar die karre word nou eers gelaai.”

Dit was dan ook heelwat se opinie op sosiale media, die afgelope tien dae. Wat’s die nut van die oefening? is gevra. Die voertuie het ’n week nodig om van Snorstad na Slaapstad te ry. Hoe prakties kan dit nou wees?

Knormoer het simpatie met die deelnemers se lang, geduldige dae agter die stuur waar jy met ’n matige regtervoet en ’n dik leesboek by ’n kragsok moet ry. Dié karre is nog spesiaal.

Maar Knormoer vermoed die gedagte met die langpadtoer was juis om aan die Suid-Afrikaanse publiek te wys waarheen die tegnologie op pad is. Daar gaan ál meer e-voertuie kom. Om dus vandag oor hul kort reikafstand en lang herlaaitye te kla, mis die punt. Of ons vuil steenkoolkrag.

  • Knormoer hoop net daar sal eendag ook ’n e-voertuig met ’n V8-klankboks ingebou te kry wees. As jy jou wenkbroue met jou pinkie en wysvinger wil kam, ek sê.

Saab is baas

As ’n Saab-liefhebber is dit vir Knormoer ’n hartseer affêre om te moet toekyk hoe die laaste Saab wat van die groep se produksielyn in 2012 gerol het, vandeesweek onder die hamer gekom het.

Die Sweedse groep is in 2012 deur die Chinese vervaardiger NEVS oorgeneem, waar hy steeds voortgaan om 9-3’s in China te bou, maar met ’n elektriese enjin en onder sy eie naam.

  • Die Saab-museum bestaan steeds in Trolhättan, Swede. Besoek dit gerus, Knormoer kan dit aanbeveel.
Meer oor:  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.