Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer
Knormoer: O aarde, Yanks bloos oor VW se Aprilgrap

Dit lyk vir Knormoer of Volkswagen maar net nie die hart kan wen van die Amerikaners nie. Is dit die oorlog wat nog te vlak in die geheue lê? Of ’n heimlike jaloesie?

Verlede week, drie dae voor 1 April, kondig VW se Amerikaanse afdeling in ’n mediaverkaring aan dat hy sy naam na Voltswagen vir al sy e-voertuie gaan verander.

Volt, en Volkswagen, jy snap dit, Herklaas?

Wat gee jy die man wat reeds ’n Nissan GT-R het? ’n Patrol Nismo, natuurlik. Daar’s 2,7 ton van 5.6-liter-V8-krag vir jou om te bemeester, as jy wil.

Die gedagte van die Duitsers was dat hulle op 1 April, wat wêreldwyd as Gekkedag gevier word, dan die bemarkingsfoefie van die gewaande naamsverandering sou aankondig.

Maar nie voordat hulle ’n bietjie aandag kon trek en bemarkingsmateriaal oor hul nuwe e-voertuig, die ID.4, wat eersdaags in Amerika bekend gestel word, sou kon uitstuur nie.

Ongelukkig vir die ou wie se plan hierdie was, snap die Amerikaners toe glad nie dat dit als net ’n grap is nie. Hulle neem die “naamsverandering” ernstig op.

Selfs Wall Street, waar die VW-aandeelprys op die New Yorkse aandelebeurs (NYSE) binne ure met ’n massiewe 10% styg.

Dis daar waar dinge lelik geraak het. Toe VW besef die poets loop skeef, krabbel hy terug. Twee verklarings is uitgestuur, maar die Yanks het bloed geruik. Daar word nou hard gevra vir ’n ondersoek deur die NYSE se owerheid weens die beweerde uitreiking van vals inligting wat die aandeelprys kon beïnvloed.

Knormoer besef die bedoelings was goed. En wie sou kon raai die Yanks is so liggelowig? Maar dit het ook nie gehelp dat die aankondiging op 29 Maart plaasgevind het nie – drie dae voor Gekkedag.

Dit klink nogal slim om jou e-voertuie so te herdoop, dan nie?
  • Intussen is Knormoer seker iemand by bemarking en straks ook op die direksie is sy of haar werk nie meer seker nie. Wolfsburg sou nie van dié petalje gehou het nie. Maar tog, “Voltswagen”: Dit klink nogal slim om jou e-voertuie so te herdoop, dan nie?

Die laksman by Nissan

Vir die meeste mense het die bisarre sage ’n jaar gelede, toe Nissan se glansryke grootbaas Carlos Ghosn soos in ’n Hollywood-aksiefliek in ’n musiektas uit Tokio gesmokkel is en na Libanon gevlug het, al verdwyn in die vergetelheid.

Maar nou het die Japanse vervaardiger se hoogste regs-amptenaar, Ravinder Passi, met ’n reeks dramatiese onthullings oor ’n beweerde mafia-kultuur vorendag gekom.

Passi sê in ’n onderhoud verlede week dat hy as’t ware deur Nissan gedwing is om uit Tokio weg te trek, en dat hy gedemoveer is toe hy bepaalde grysgebiede in die ondersoek na Ghosn begin uitlig het aan onafhanklike direkteure.

Ghosn se ontsnapping het juis gekom nadat daar klagtes was dat hy groot dele van sy inkomste nie aan die staat verklaar het nie. Passi, as hoof-regsman by Nissan in Tokio, moes die bewyse daarvoor vind.

Passi beweer hy is agtervolg en sy gesin geïntimideer.

Toe hy daarop wys ander baadjiedraers het ook skynbaar buite die kantlyn gespeel, is hy van sy rol gestroop. Van ’n oorsigrol oor Nissan se hele regspan van 200 lede oor die wêreld heen is hy na Londen gestuur as projekhoof, met ’n span van drie.

Passi beweer hy is agtervolg en sy gesin geïntimideer.

  • Ghosn, intussen, woon in vrede in Libanon, sy geboorteland. Libanon het nie ’n uitlweringsooreenkoms met Japan nie, dus is hy veilig van die Japanse howe. Iets is vir Knormoer vreemd aan die sakekultuur by Nissan in Japan. Dalk moet die groep konsentreer op motors bou?

Franse vorder fluks

Die Stellantis-groep, wat bestaan uit Peugeot, Citroën, Opel en Fiat, het ’n goeie Januarie en Februarie agter die blad. Met sowat 480 000 verkope was hulle ’n kortkop voor Europa se tweede beste, Volkswagen, met 452 000.

  • Dis glo veral die 208 en 2008 waarvoor die Europeërs so oor hul voete val. Knormoer vermoed VW se e-motor-aanslag mag dalk net die skaal terug in sy guns swaai.
Meer oor:  Vw  |  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.