Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer
Knormoer: Ons paaie is in ligte laaie

Noudat jou wyn warm en die winkels vol is, wil Knormoer net nog ’n kerf tot jou knormeter voeg.

So gaan klap Knormoer toe ’n tekkie op die land se hoofpaaie om by ’n familietroue in die Noorde ’n draai te gaan maak.

Wel, hoofpaaie, maar ook ’n paar afdraaipaaie. Want dis mos deel van ’n langpad-vakansie.

Fantasties. Behalwe dat Knormoer hom lanklaas in die ou Wes-Transvaal en Noord-Kaap bevind het. Mense, wie van julle was onlangs in plekke soos Kimberley, Klerksdorp en Wolmaransstad?

Kimberley was seker Knormoer se grootste skok. Want dit maak ’n mens hartseer om te sien hoe ’n plek waardeur jy as kind nog gery het (wie onthou Diggie die delwer) vandag soos ’n moeë rusbank by die pandjieswinkel lyk.

Stukkend, gate, tooiings oral.

Die skok is groter as jy besef Kimberley is die provinsie se hoofstad. Al sy amptenare, munisipaal en provinsiaal, woon daar. Hul raadslede ry in sy strate. Waar daar meer gate as teeroppervlak is. Sypaadjies wat oorgroei is. Stene wat opgelig staan. Randstene wat ongeverf is, net soos die strepe op die deurpad.

Knormoer sien dat 81% van alle voertuie wat in 2020 verkoop is, was wit, swart, grys of silwer. Audi se pragtige Tioman-groen is egter ’n raps meer eksklusief. Slegs 50 R8’s (foto) sal met dié spesiale kleur pryk.

Knormoer het ’n verkeerde afdraai geneem, en toe neem die GPS-stelsel hom verby die Groot Gat. Maar daardie pad is nog slegter. Bykans onrybaar.

Klerksdorp lyk soos ’n Lagos-donkiemark. Mense en diere in die hoofstraat. Gate en slote wat almal al ken, sodat daar sulke uitgetrapte paaie om dit is. Alles lyk moeg, vuil, jare laas in stand gehou, en net so laat gaan.

Wolmaransstad en Bloemhof het ook die stryd gewonne gegee.

Waar gaan die geld heen? Is daar nie ’n begroting vir instandhouding nie? Die een straat in Kimberley lyk asof dit volstruiseiers gehael het op ’n stuk deeg. Gate orals. Wat toe met ’n bietjie warm teer opgevul is. Nou lyk daai straat soos ’n swart-wit-prent van Andy Warhol, met duisende kolletjies swart teer bespikkel.

Knormoer wonder: Ry hierdie amptenare dan nie self op hierdie strate nie? Ry hulle gemaklik? Stamp hul voertuie nie? Gaan jou ekonomie nie beter vaar as jy jou paaie ordentlik herstel nie?

  • Maar veral, is jy as miljoenrandse-salaris-amptenaar trots op hoe jou paaie lyk?

Mik en indruk op die snelweg

Noudat Knormoer in vyfde rat is, hier’s nog ’n paar waarnemings.

Wanneer laas het jy oor die Kerstyd op die N1 tussen Worcester en Beaufort-Wes gery?

Spesifiek hierdie gedeelte, want dit is die roete wat al die taxi’s neem as hulle tussen die Wes- en die Oos-Kaap ry. Saam met die feestyd se miljoen ekstra taxi’s op die pad, kry jy ook die gewone rits vragmotors. Ook ’n miljoen sterk op die pad, voel dit vir Knormoer.

Hier’s die probleem. Die N1 deur die Karoo is nie vir hierdie volume verkeer gebou nie. Dit is net een rybaan in elke rigting. Beland ’n vragmotor wat 80 km/h handhaaf agter nog een wat 75 ry, sit hulle vas. Plus die res van ons agter hulle.

Veral die taxi’s dra verder tot die probleem by. Hulle is volgelaai, en sleep ’n Venter saam waarvan die klap nie eens kan toeslaan nie, so vol is hy gepak met tasse. Die taxi kan nie gou genoeg versnel om by die een of twee lorries verby te kom nie. Dus vorm dit ’n trein voertuie wat 80 ry. Selfs ’n kilometer lank.

Dis dan wat mense ongeduldig raak, kanse waag, en botsings reg van voor plaasvind.

  • Die spoorweë moet dringend opgeknap word. Kry minder vragmotors op die paaie, en meer mense in treine. Ons sit op ’n tydbom.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.