Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: Pla iets? Skoda het ’n plan . . .

Knormoer is eintlik verras dit het so lank geneem om gepatenteer te word. Dis nou die nuwe sitplekgordel van Skoda wat saans rooi gloei as jy inklim.

Sê Skoda, te lank het ons gesukkel om in die donker na die knip onder by jou heup te soek waar die gespe ingedruk moet word. Nou, met die rooi gloed, is dit makliker om dit te sien.

Die rooi gloeiende knip wys ook in ’n kits dat jou gordel nog nie behoorlik ingedruk is nie. Eers as die gespe vas is, sal die knip vir ’n paar tellings groen gloei voordat dit met ’n wit lig skyn vir die res van die rit. Dis nou sodat jy met die uitklimslag weer maklik die knip kan vind.

Die Tsjeggiese vervaardiger (deel van die VW-stal) is glad nie skaam om nuwe patente te registreer nie. Daar’s byvoorbeeld ’n slang-kontrepsie vir die bagasiebak wat jy op allerhande maniere kan krink en knak om te keer dat los items in die bak rondrol.

  • Knormoer dink ’n gloeiende gespe is ’n wonderlike gedagte. Nou moet die gespe se vervaardigers net ’n plastiekgeut tussen jou sitplek en die middelkonsole ook prakseer, sodat jou sente en selfoon nie elke keer daar kan inval nie.

Links? Regs? vra Sven

So van slim planne vir alledaagse lastighede gepraat. Volvo het verlede maand met ’n eie plan vir ’n eeu-oue dilemma vorendag gekom. ’n Stuurwiel wat heen en weer oor die instrumentpaneel gegly kan word.

Jip, dis eintlik maar ’n oplossing vir vervaardigers, deur vervaardigers. Want ons, die verbruikers, koop net die kar met die stuurwiel alreeds aan die regte kant van die voertuig.

Die vervaardigers sit egter met hierdie duur probleem van sommige lande wat regterstuur is. Soos ons, Japan, Brittanje en Australië.

Knormoer het al van ’n gemoedelike motorverkoopsman gehoor. Maar ’n gratis 911 Turbo S is nogal ’n ongewone transaksie-versoeter.

’n Voertuig word tradisioneel as linkerstuur ontwerp en gebou, waarna die ingenieurs moet moue oprol, ses maande werskaf aan die drade en stange, voordat die stuurwiel aan die regterkant ingepas kan word.

Dis tydrowend, duur, en net baie lastig. ’n Oorblyfsel van ons ou-tegnologie-wêreld toe kommunikasie skraps was. Vandag word vinnig ’n universele protokol uitgeklaar vir enigiets van selfone tot USB-sokke wat vir alle markte sal werk.

Volvo het egter nou ’n patent geregistreer waar die stuurwiel heen en weer oor die instrumentpaneel gegly kan word. Dus, dit kan regs sit vir ons mark, en heel links sit vir die Europese markte.

Die patent maak ook voorsiening vir ’n paar wisselings. In een geval bestaan die instrumentpaneel uit ’n vollengte digitale skerm. Watter kant die stuurwiel opeindig, daardie area sal dan as instrumente verhelder.

In ’n ander geval is die instrumente aan die stuurwiel vasgemaak, en gly dit saam daarmee oor die paneel heen.

En wat van die pedale? Ook hieraan het Jonson, Svenson en Erikson gedink. Onder die vloermatjie is drukplate wat geaktiveer word sodra die stuurwiel bokant dit in posisie is. Pleks van ’n pedaal, trap-trap jy net so op die matjie as ’n takbok of rooi slee skielik voor jou inbeweeg.

  • Knormoer is opgewonde hieroor. Nou kan jy, kort duskant Laingsburg as die pad lank raak, die stuur net oorskuif na vroulief se kant en sê: Dè, liefie, jou beurt. Dankie, Sven.

Iets vir die Kerskous

Wat gee jy die man wat alles het? Sy eie privaat straler, natuurlik. Maar hier’s nou ’n gawe winskopie wat Knormoer op die interwebs raakgeloop het. Koop jy ’n nuwe Embraer Phenom 300E (dis ’n vliegtuig, Kerneels), kry jy sommer ’n nuwe Porsche 911 Turbo S gratis ingesluit.

Hoe’s daai? Nou kan jy oor die aarde en deur die lug vlieg.

Knormoer sien die ouens by Porsche is ook nie links nie en beloof ’n gratis stel reistasse – uniek deur Porsche Design ontwerp – vir jou reis aan.

  • Bonus? Dit pas ook in die straler se bêrekissie bo jou kop.
Meer oor:  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.