Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: Porsche trek briek op vir dieselkrag

Dit voel straks al soos ’n Ryk Kolwer-strokiesnovelle wat net nooit end kry nie. Maar steeds is die nagevolge van die 2015-dieselskandaal besig om sy kartetse oor die motorlandskap te werp.

Die jongste opskuddinkie kom uit die bunkers van Stuttgart. Daar waar Porsche in Zuffenhausen sy hoofkantoor het.

Toyota wil sy MR2 laat herleef, maar sal so ’n projek met ’n ander vervaardiger moet aanpak om kostes te deel – soos met die nuwe Supra en Z4.

Knormoer sien Oliver Blume het ook sy bloemers in ’n knoop oor sy groep se naam deur die dieselmodder gesleep is. Blume, grootbaas van Porsche, het die naweek aan Bild am Sonntag gesê diesel is nou verboten in Porsche-land.

“Daar gaan nooit weer ’n Porsche met ’n dieselenjin verkoop word nie,” het Blume gestoom. “Ons het nooit eens die enjins self ontwerp of gebou nie. Maar steeds moes ons toekyk hoe ons beeld skade berokken word.”

Ander Duitse vervaardigers het so pas hul lojaliteite opnuut aan diesel toegesê. Maar Porsche het ander uitdagings. Slegs 15% van sy verkope is diesels – Cayennes, Macans en Panameras.

Maar ’n groter aansporing vir Blume se tirade kan wees die feit dat al hoe meer stede ’n e-modus gaan verlang vir voertuie wat hul middestede wil binnery.

Porsche het natuurlik sy 3.0-liter-dieselenjins by Volkswagen en Audi gekry, wat saam met die VW-groep se 2.0-literdiesel met kul-sagteware toegerus was om toetssessies te fnuik.

  • Ja-nee, duidelik wil Blume voortaan net blomme ruik.

Horch deur die takke

Knormoer onthou hierdie praatjies al ’n dekade gelede, maar nou het dit weer opgevlam.

Dis nou die gerugte dat Audi van plan is om sy Horch-handelsmerk weer te laat herleef. Horch, as jy reg sal onthou, was natuurlik in die 1930’s alombekend as groot, kragtige en deftige voertuie in die Duitse Ryk.

August Horch, na wie die voertuie genoem is, was ook die vaderfiguur van die latere Audi-groep. Horch het in 1904 sy eie motorgroep onder die Horch-naam begin, maar het gou met rooi ink in sy boeke gesit. Twee dekades later het die Horch-handelsmerk ’n hoogtepunt bereik, waarna dit ná die oorlog met DKW en Wanderer saamgesmelt het om Auto Union te vorm – vandag se Audi.

So tien of 15 jaar gelede, toe Mercedes effense vastrap met sy ultraluukse en groot Maybach-motors behaal het, het Audi gedreig om ’n soortgelyke roete te volg, met sy unieke weeldewaens wat onder die Horch-naam verkoop sou word.

Dié planne het met die 2008- finansiële krisis gesneuwel, maar nou is die wêreldekonomie weer aan’t galop.

Audi se planne hierdie keer is glo egter om bloot ’n A8 te neem, en ’n limousine-weergawe van hom op te dollie met Horch-embleme op die C-pilare en unieke sierwiele. Hy sal ook toegerus wees met ’n fris enjin uit die Bentley-stal, ’n W12-silinder van 6.0-liter groot en met twee turbo’s vasgebout.

  • Knormoer sê solank dié Horch nie ’n gedrog raak nie, sal hy sy spaargeldjies eenkant hou.

Toyota se reddingsboei na BMW

Dit klink dalk soos iets volksvreemds soos konfyt op braaibroodjies, maar Toyota reken as dit nie vir sy inmenging was nie, sou BMW nie vandag ’n nuwe Z4 kon bekend stel nie.

BMW en Toyota het enkele jare gelede ooreengekom om saam aan die nuwe Z4- en Supra-projek te werk. Dit word in Oostenryk gebou, met klein bakwerkverskille wat die Toyota van die Beemer sal onderskei.

’n Toyota-ingenieur het verlede week opgemerk as die Japanners nie met hul volume-aankope toegetree het nie, sou BMW nie op eie houtjie die projek aan die gang kon kry nie.

Sportmotors het talle unieke onderdele wat nie met gesinsmodelle gedeel kan word nie, en benodig ook unieke drukperse.

  • Knormoer is seker elke Z4-eienaar sal voortaan ’n glas saki na Tokio lig as hy agter die stuur inskuif.
Meer oor:  Porsche  |  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.