Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
KNORMOER: ‘Pst, Jean-Pierre, jy ry ’n bietjie hard’

Daar’s weer nuwe lewe in Motor City, Milwaukee. In ’n era waar verkope van nuwe motorfietse in Amerika deurlopend daal, het Harley-Davidson nou sy geld verwed op ’n fiets wat die ganse antitese is van wat Harleys nog altyd was. ’n Elektriese Harley. Sonder die grom.

Die LiveWire is van vandeesmaand in Amerika te kry, maar Knormoer sien teen sowat $30 000-stuk gaan dit meer as net ’n wilde baard, swart leeronderbaadjie en rooi kopdoek verg om jong millenniërs na dié speelding te lok.

Harley se nuwe hoofstuk: ’n Elektriese fiets. Sonder die grom en spoeg, maar met die nodige chroom by die enjin.

Dis die mark waarop Harley sy oog het. Die babyboomers – sy grootste ondersteunersbasis – tree deesdae af, dus moet hy ’n nuwe segment lok. Maar millenniërs stel nie juis in raserige, brute tweewielponies belang soos hul voorgangers nie.

Knormoer het simpatie met Milwaukee. Jy moet eenvoudig ’n skuif maak. Om dieselfde ding oor en oor te doen, gaan nie jou verkope weer laat styg nie.

In Europa is e-trapfietse tans groot nuus, maar ook dit is vyf keer duurder as ’n ekwivalente bergfiets. Prys, net soos met die LiveWire Harley, gaan dus altyd ’n probleem bly.

Knormoer reken Motor City moet elders kyk, na kleiner, ligter leefstylfietse.

  • En dan moet jy ook duim vashou dat batterykostes gou begin daal. Want anders sit jy in ’n doodloopstraat. Aan weerskante.

Wie torring aan ’n wenresep?

Knormoer herinner homself aan ’n gewilde popliedjie van langer gelede as wat Riaan Cruywagen nuus gelees het – “Juke Box Hero”.

Dit het onwillekeurig by hom opgekom toe hy vroeër die week Nissan se nuwe Juke gewaar het. Jip, daar is nou (eindelik) weer ’n Juke vers 2 te kry. Maar jy gaan moet mooi kyk om hom sommer maklik van sy voorganger te onderskei.

Kyk, ’n mens moet die hoed lig vir die mense van Nissan. Op sy dag, meer as ’n dekade gelede, was die Juke die baanbreker in ’n nuwe segment wat niemand wou glo ooit sou werk nie. ’n Klein, spelerige sportnuts? Pft.

Maar ja, 15 jaar later en hier sit ons dan vandag. Die mark boordens toe vol met allerhande klein sportnutsies, waarvan die een meer ougat en prettiger as die volgende een probeer lyk.

En gewild. Kyk, jy moet net by die skool se oueraand uitroep “Iemand se sportnuts brand!” dan vlieg al wat Mamma is op en gaan kyk eers of haar CX-3, Captur, XC40 of Q2 nog staan waar hy moet.

Maar terug na die Juke. Lig die hoed vir ’n dapper poging van Nissan se ontwerpers om destyds met iets vorendag te gekom het wat vandag steeds relevant is, en sommer ’n nuwe segment ingelui het.

Knormoer is net nie heeltemal seker of die tweede generasie so watwonders is nie. Nissan het werklik veilig gespeel met sy ontwerp en min aan ’n bewese suksesresep verander.

Hier’s ’n kultuurles, gratis uit die pen van Knormoer. Vir al hul frilletjies van hul skrif en hul komieklike beleefdheidsmanerismes, is die Japanners eintlik ’n baie konserwatiewe volk.

  • Gits, dat ’n onhebbelike ding soos die uitheemse Juke dit nou onder ’n mens se aandag moes bring.

‘Sê weer, ’Sant, ek raas?’

Parys, daardie bastion van avant garde-nuwighede soos ’n massiewe ystertoring en die verbanning van dieselvoertuie, het pas op ’n nuwe front weer die toon aangegee.

Die stadsvaders wil raserige voertuie vasvat, en vir dié doel word paaltjies nou oor die hele stad – gelaai met vier mikrofone elk – op die sypaadjies geplant.

Sê Jean-Louis dié stelsel is so flink dit kan ’n raserige Ferrari dadelik opspoor, waarna ’n CCTV-kamera hom afneem en die boete per pos stuur. Voila!

  • Knormoer is bly sy Frans is vrot. As jy nie eens meer jou V8 by die verkeerslig kan rev nie. Pah! Die Franse raak nou Brits.
Meer oor:  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.