Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: Taai besluite? Maklik, sê GM
Die Holden-bakkie van die vorige eeu. Detroit het besluit om dié ikoniese naam graf toe te stuur.

In hierdie dae waar die Prez op hete kole sit om die werkerunies nie te vies met enige afdankings te maak nie, wys die privaat sektor in Amerika hoe dit gedoen moet word.

General Motors het pas bekend gemaak dat hy sy Holden-handelsmerk gaan nekomdraai.

Die ikoniese Australiese motorvervaardiger bou al van 1917 motors, met die Generaal wat dit in 1931 oorgekoop het.

Sedertdien het Holden (en rondom die 1960’s ook in Suid-Afrika) ’n gevestigde naam geword as ’n bekostigbare, eerlike voertuig vir die middelklas.

Benewens ’n fabriek in Ade­laide het die Aussies ook ’n ontwerp- en ingenieursentrum gehad. Trouens, die Holden Commodore van die vroeë 2000’s, wat by ons as die Chev Lumina verkoop is, is grootliks deur die Aussies self ontwerp en ontwikkel: Die V8 en agterwiel-aandrywing verklap die geheim.

Die sakewêreld kan kil wees. In dieselfde tyd wat GM die Holden-fabriek in 2017 gesluit het, het hy ook sy fabriek in Port Elizabeth toegemaak. Gelukkig het Isuzu van Japan dit oorgekoop, en bou hy nou die D-Max-bakkie daar.

Vir GM se baadjiedraers was die besluit ’n rasionele balansstaat-verhaal. Dit het nie meer finansieel sin gemaak om die Holden-handelsmerk aan die lewe te hou nie. Eers die fabriek in 2017, en nou drie jaar later die handelsmerk ook.

Trouens, GM wil ook aanlegte in Europa toemaak, om dieselfde redes: Dit slurp geld.

Sosialiste sal sê dis die wrede sy van die kapitalisme. Feit is, die maatskappy bly voortleef. Sou Holden-verliese hom help sink, het nog meer mense op straat gesit.

* Dalk moet die SA kabinet die Aussie-dagblaaie lees.

Diesel is dood . . . rêrig?

Dit was met amusante nuuskierigheid wat Knormoer die jongste verwikkelinge rondom die Geneefse Motorskou oor twee weke in Switserland gadegeslaan het.

Daar kondig Volkswagen – hy van Dieselgate-faam – aan dat hy sy nuwe Golf GTD by die skou gaan onthul.

Nou, as jy kan onthou is die GTD die diesel-nefie van die GTI. Die Duitsers het ’n voorliefde vir die kenmerke van die deesdae gehate dieselenjin, en Knormoer moet saamstem hy is ook ’n fên van diesel.

Maar, jy weet mos, vanuit Amerika word ’n subtiele veldtog geloods om diesel as brandstof swart te smeer. In so ’n mate dat regerings en stede ál vieser word as die D-woord in hul teenwoordigheid gespreek word.

Lande en stede wil so gou moontlik dié enjinvorm van hul paaie verbied.

Nie so haastig nie, sê VW. Sy nuwe GTD gaan weer oor ’n tweeliterturbodiesel beskik, maar dié opgeknapte enjin gaan glo die skoonste diesel ooit wees. En amper die skoonste van enige tipe binnebrand-oond, sê die Duitsers.

Die geheim is onder meer dubbele katalitiese omsetters in die uitlaatstelsel waar twee AdBlue-spuitpunte ingebou gaan word. Dis die chemiese bymiddel wat die uitlaatgas behandel voor dit by die uitlaat uitwarrel.

As jy kan onthou, diesel is skoon wat CO2-gasse betref (wat aardverwarming veroorsaak), maar sukkel met die sogenaamde NOx-gasse (wat giftig vir menslike gesondheid is). Die AdBlue-bymiddel verlaag die NOx-vlakke.

* Knormoer hou nou die Europese en Amerikaanse media fyn dop. As ’n kragtige, sportiewe dieselryding skoner uitlate het as ’n petrolenjin, is die heksejag dan nog geregverdig?

Vinnige feite

Knormoer vind toe uit Renault is tans Suid-Afrika se vierde grootste motorgroep in die land. Hy verkoop selfs meer motors as Ford.

* Nee kwit, dit wys jou die krag wat ’n spotgoedkoop ryding uit Indië kan hê, of hoe?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.