Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: Tesla vlieg, maar vir hoe lank?
Die wêreld se grootste motorgroep? Tesla se aandeelprys het in ’n jaar gespring van $189 tot $969. Foto: AP

Waarheen is die wêreld op pad?

Knormoer kon nie help om sy koffie in sy piering te gooi en dit met slurpgeluide te drink nie: Die moderne kantoorwerker se sponsmuur-kamer in wit afgewerk, as jy gestres voel.

Die rede? ’n Motorvervaardiger wat verlede jaar minder as 400 000 eenhede verkoop het, het pas ’n groter markwaarde behaal as die wêreld se grootste groep wat laas jaar 11 miljoen voertuie van die hand gesit het.

Tesla se aandeelprys het verlede week vinniger opgeskiet as die prys wat ’n tenderpreneur in sy tenderaanbod kan opdis.

Teen ’n hoogtepunt van $969 per aandeel was die klein elektriese vervaardiger wat skaars in 2003 begin voertuie bou het, meer werd as Volkswagen, wat aan ons die Kewer en Golf gegee het.

In Tesla se guns is die verwagting dat e-motors binnekort die enigste toelaatbare voertuie op die pad gaan wees. As markleier het hy die binnebaan om hieruit massiewe wins te slaan.

Maar, dis nog nie uitgemaak dat batterymotors (wat Tesla bou) die toekoms gaan wees nie. Dalk is dit ander tegnologie.

Knormoer herinner homself net aan die dotcom-borrel van twee dekades gelede. Toe is die toekoms ook in net een rigting voorspel.

  • Intussen is daar ’n paar ryk beleggers wat betyds room afgeskep het, terwyl die res maar net sterre in die oë het.
Teen $969 was Tesla meer werd as VW.

Hou vas daai ding

Daar is ietwat van ’n gefladder van jaspante in Detroit, sien Knormoer, noudat een van die Ford-groep se groot baadjiedraers op 53 die trekpas gegee is.

Joe Hinrichs was president van die maatskappy, maar dis onduidelik presies waarom hy so vroeg weg is. Ford het pas swakker as verwagte winssyfers bekend gemaak, wat sommige markontleders aan Hinrichs se toedoen toeskryf.

Daar was glo probleme met die Focus se een outomatiese ratkas, terwyl die groep se Explorer-sportnuts ook vol probleme was toe hy verlede jaar bekend gestel is.

Wat Knormoer eerder opgeval het, is wie in Hinrichs se plek bevorder is.

Hau Thai-Tang gaan voortaan verantwoordelik wees vir kliënttevredenheid.

Jip, Knormoer maak dit nie op nie. Hau Thai-Tang gaan moet seker maak Ford-kopers is gelukkige mense.

  • Ai tog, dat die klein dingetjies ’n mens so kan amuseer. Maar intussen, maak soos Hau Thai-Tang maak en hou vas daai ding.

Hoe gemaak met Passat?

Knormoer sien in Amerika word die oud-Suid-Afrikaner en deesdae grootbaas van VW Noord-Amerika, Johan de Nysschen, aangehaal waar hy sinspeel dat die volgende Passat ’n elektriese ryding kan wees.

Die Passat is ’n kind van sy era. Op sy dag was hy ’n geliefde in Europa vir langafstandryers, soos gesinne wat graag per motor met vakansie wou gaan, verkoopsagente en taxibestuurders.

Selfs in Amerika het hy ’n groot aanhang geniet: Soveel as 100 000 Passats is per jaar nog in 2012 van die hand gesit in dié land alleen.

Maar die tye het verander. Niemand wil rêrig meer ’n sedan hê nie, veral nie as hy nie ’n weeldewa is nie.

De Nysschen het gesê die volgende groot gesinsmodel kan ’n suiwer e-voertuig wees. Wat Knormoer nie betwyfel nie. Of hy gewild gaan wees, is ’n ander saak. ’n Volgelaaide diesel-Passat kon steeds met gemak 600 km aflê. Probeer dit met ’n e-motor en jy is gelukkig om 100 km te haal.

Die doodgewone Passat vergestalt dus die knyptang waarin die bedryf hom bevind. Hy moet oorskakel na nuwe tegnologie, maar dié is nog nie markgereed nie.

  • Intussen, wie kan saam met Knormoer daardie TV-advertensie onthou: “ ’n Passa-a-at, ’n rooi Passa-a-at?”
Meer oor:  Tesla  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.