Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
KNORMOER: Toyoda min gepla oor Tesla

Moet tradisionele motorvervaardigers enigsins bekommerd wees oor die koms van Tesla? Of wat van die gerugte dat Apple sy eie e-voertuig wil bou?

Wat ook al die slim mense sê oor markplein-ontwrigters, dit klink asof die groot spelers nie te veel slapelose nagte het nie.

Toyota se grootbaas, Akio Toyoda, is een van dié wat nie sy toerenaald in die rooi gaan laat hardloop nie. Volgens Bloomberg het die hoof van die wêreld se tweede grootste vervaardiger laas maand aan beleggers gesê Tesla “maak nie eens regte produkte nie”.

Toyoda was duidelik in vyfde rat. Nog ’n aanhaling is dié gevleuelde woorde: “Laat hulle eers 40 jaar in die bedryf aktief wees, waar jy met klante en die opdatering van produkte te kampe het, dan praat ons weer.”

Bentley se jongste model, vir Jongste. Die netjiese driewiel bied ses modusse om hom meer vaartbelyn te maak. Ons hoop Kleinman waardeer dit.

Elon Musk was die vinnigste uit die wegspringblokke toe hy die nuwe groen-golf en swaai na e-voertuie by mekaar uitgebring het. Sy Tesla-handelsmerk het flink veld gewen in Amerika, en nou bedreig dit die groot spelers in konserwatiewer Europa.

Twee goed het in Tesla (en dus Musk) se guns getel. Eerstens, die Dieselgate-skandaal van 2009, en tweedens sy ligging in Amerika. Die Amerikaners is dol oor die sogenaamde selfmade man, mense soos Donald Trump, Bill Gates, Steve Jobs en nou Musk wat uit niks ’n groot sakeryk opbou met ’n slim produk.

Dis een rede waarom Tesla so gewild in Amerika geword het. Die Dieselgate-skandaal kon Musk nie voorspel het nie. Maar dit het gehelp deur verandering vanaf owerheidskant te versnel.

Toyota het wel ’n punt beet. Musk vervaardig eenmalige produkte. Hoe sy maatskappy oor sy produkte se lewensiklusse gaan vaar, moet nog gesien word.

Die een probleem vir die tradisionele vervaardigers is dat die bou van ’n e-voertuig oneindig eenvoudiger is as met ’n binnebrandvoertuig. Dit is dus makliker vir ’n buitestander, soos Apple of Google, om by so ’n proses (met die hulp van verskaffers) betrokke te raak.

  • Knormoer raak meer opgewonde oor Musk se SpaceX-prestasies. Voertuie bly maar ’n ding vir petrolkoppe.

Moenie-worrie, Walker

Vir dekades in die Engelssprekende wêreld was daar een konstante wanneer Formule 1 gebeeldsend is: Die stem van die BBC se Murray Walker.

Walker is Saterdag in die rype ouderdom van 97 oorlede.

Knormoer het ook met Walker se aansteeklike opgewondenheid grootgeword. Sy hart was op sy mou, en hy het altyd gesê presies wat hy dink. Sonder om twee keer te dink.

Dit het verdere rede gegee waarom hy so geliefd geraak het. Want Walker kon met die vreemdste, of dan onlogiesste, sêgoed vorendag kom. Voeg hierby dat hy hiervan bewus was, en met homself gespot het, en hy het dadelik ’n dierbare oom op die TV-kassie geword.

Van Knormoer se gunsteling-opmerkings is dié een: “En Michael Schumacher is reg agter die motor wat voor hom is!”

Dan is daar ook die ietwat vreemde “daar makeer niks met die motor nie, behalwe dat dit aan die brand geslaan het!”

Strykdeur was hy entoesiasties, en altyd met ’n tikkie selfspot byderhand.

  • Ons gaan die oubaas mis.

Iets vir jou, Seuna

Wat gee jy die man wat reeds ’n Bentley het? ’n Bentley-driewiel, natuurlik.

Die gawe mense by Bentley het pas hul amptelike babastootwaentjie, die Trike, met sy eie pedale op die voorwiel, aan snuiters oud en jonk bekend gestel.

Die driewiel bied sitplek vir een kleuter, maar dié se stoel kan omgedraai word om agtertoe te wys. Of jy kan van die kussings en skaduflappe afhaal om hom meer vaartbelyn te kry.

  • Kyk, Knormoer kry ’n traan in die oog. Wie gaan die blyste oor dié Bentley wees, Pa of Kleinboet?
Meer oor:  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.