Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: Tyd vir Isle of Man TT om te gaan?

Knormoer sien die jongste gerugte in Europa is dat die hardnekkige drif van wetmakers om dieselenjins verban te kry, die groot rede was waarom FiatChrysler gaan vlerksleep het by Renault.

Verkope van dieselvoertuie het getuimel vandat stads- en streeksowerhede begin sê het hulle wil dieselvoertuie verban hê.

’n Renjaer in die Isle of Man TT-ren blits wiele in die lug om ’n knopperige draai, met ’n klipmuur langs hom. Nog ’n deelnemer is onlangs dood.

Dit het kopers die skrik op die lyf gejaag sodat niemand meer ’n dieselmotor wil koop nie. Dis egter een ding om grootman te wees met wilde stellings, en nie die gevolge van jou woorde te besef nie.

Die Europese bedryf bied werk aan duisende inwoners, en is ’n sterk belastingbetaler.

Die nuwe maatreëls kan vervaardigers laat sneuwel, wat die owerhede ook nie wil sien nie.

Die dilemma is dat alternatiewe voertuie nog nie markgereed is nie, nes die infrastruktuur.

Dis juis om die ontwikkeling- en boukoste te kan subsidieer dat Fiat by Renault gaan aanklop het.

Intussen hou die Duitse vervaardigers vol hul dieselenjins is nie werklik so sleg nie. Dit lewer ’n laer CO2-lesing as petrolenjins, en met ontwikkeling kan hul hoë stikstofvlakke geneutraliseer word.

  • ’n Lang paadjie lê nog voor. Maar Knormoer hoop net die baba word nie met die badwater uitgegooi deur kortsigtige politici met ’n oog op ’n slagspreuk nie.

Moderne speelgoed op ou bane

Dis die soort hartseer nuus wat niemand wil hoor nie. Maandag is ’n Britse renjaer dood terwyl hy aan die historiese Isle of Man TT-ren deelgeneem het.

Daley Mathison (27) was ervare met drie podiumplekke in vorige TT’s. Maar steeds het die roete al buite om die eiland tussen Engeland en Ierland sy tande gewys.

Die TT is ’n anachronisme in die 21ste eeu. Sedert die ren in 1907 aangebied is, het jong mans die geleentheid gehad om met oop krane op openbare paaie te jaag.

Die oppervlak is dié van gewone paaie – knopperig, wat teen 300 km/h ’n lelike kombinasie verskaf. Trouens, verlede jaar is twee renjaers dood.

Is daar nog plek vir ’n ren op openbare paaie? Aanvanklik was dié renne ’n algemene gesig. Maar soos wat voertuie al vinniger geword het, het die ongelukke ook toegeneem. Later is al dié renne gestop, soos die Panamericana (1955) in Mexiko en die Targa Florio (1971) in Sicilië.

  • Knormoer voorspel die TT gaan nie lank meer in sy huidige gedaante voortleef nie. Die tegnologie het die drome van 1907 ontgroei.
Meer oor:  Motors  |  Rubriek  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.