Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
KNORMOER: Wie’s jou wabbel-joe-zet?

Knormoer moes eers ’n skuins oog na die almanak gooi nadat hy van Porsche se jongste planne gehoor het, maar klaarblyklik is dit nog nie 1 April nie.

Die beeld is maar dof, maar dis ’n voorsmaak van hoe Porsche en Boeing se kortafstand-vliegtuig kan lyk. Ideaal vir die haastige sakeman in jou midde.

Sien, die Duitse bouer van prestigeryke sportmotors het nou sy visier ’n raps hoër gestel – lugruim hoog.

Porsche en Boeing het pas ’n verklaring uitgereik waarin hulle hul planne uiteensit om ’n selfvliegtaxi te bou.

Jy weet, daardie nuwe goed waaraan ’n klomp entrepreneurs werk maar wat niemand nog markgereed kon kry nie.

Die plan is glo om ’n klein, elektriese vliegtuig te bou wat soos ’n wafferse helikopter van jou huis se agterplaas na jou kantoor se dak self kan vlieg. Ideaal vir die besige sakeman met ’n afkeer aan spitsverkeer.

Die twee groepe se ingenieurs gaan saam aan die prototipe werk. Porsche sê sy navorsing wys dié nuwe tipe privaat mobiliteit gaan oor skaars vyf jaar die mark oorstroom. Dan wil hy sy voet- en vlerkwerk gereed hê.

Dis werklik interessante tye vir die motorbedryf. Vervaardigers sien nou reeds hoedat e-voertuie en gedeelde dienste hul mark en rol gaan wegvreet. Dis waarom hulle aan nuwe produkte en inkomstestrome dink.

  • Nou wonder Knormoer net wat ’n mens so ’n tuig gaan kan noem. Die Porsche Copter? Die Boeing Mini-Max? As jy ’n voorstel het, laat ons hoor.

Wat’s in ’n naam?

So van Porsche gepraat, Knormoer kan natuurlik net nie hierdie geleentheid laat verbygaan sonder om ’n oorveeg aan Stuttgart se bemarkers te gee nie.

Knormoer praat nou hier van die nuwe Taycan, die groep se eerste elektriese motor. Porsche het in sy alwysheid besluit om sy bestaande naamgee-stelsel, wat hy vir sy petrolvoertuie benut, ook vir sy nuwe gesin van e-voertuie in te span.

Die topmodel in die Taycan-reeks heet daarom nou die Turbo en Turbo S, en die middelslagmodel die bekende 4S-benaming.

Sien, dis ook wat enige gewone Porsche se naam sou gewees het. Die Turbo verwys na die turbo-enjin. Maar hier’s die haakplek: ’n Elektriese motor het nie ’n turbo nie. Die middelslag-4S se naam maak meer sin. Porsche gebruik nog altyd die “4”- en “4S”-name om na sy vierwielgedrewe modelle te verwys, wat die Taycan inderdaad is.

  • Maar dalk moet die bemarkers weer gaan sit en dink oor hul Turbo-benaming. In die elektriese era sal ons iets anders moet kry om na topverrigting te verwys.

Môre, my Citroën-sonskyn

Knormoer is net so opgewonde oor die Franse se terugkeer na die land as sy 17 oorblywende eienaars.

Ag, skuus, dit was ’n lae hou.

Maar tog, is dit nie die kern van die hele dilemma waarom Citroën oorspronklik die land twee jaar gelede verlaat het nie?

Al minder Suid-Afrikaners was bereid om hul geld op dié handelsmerk te waag. Reg of verkeerd, dit was die realiteit.

Knormoer hou van die handelsmerk en sy aweregsheid. Maar dit bly ’n saketransaksie. Jy bied ’n produk aan, en jy hoop dat baie mense dit gaan koop.

Maar wag, gepraat van aweregs en sulke vreemde dinge. Knormoer sien die nuwe modelle sal in Feel- en Shine-afwerkings te kry wees.

Karamba! Hoe’s daai vir die millenniër se goedvoel-benaming van die dag? Niks ge-GTS of wabbel-joe-zet vir hulle nie.

  • Knormoer wens nou net die SA kopers ruil hul pretzels vir ’n paar croissants, vir ’n slag. Dis net soveel meer stylvol om in Frans op die motoris voor jou te vloek.
Meer oor:  Porsche  |  Boeing  |  Knormoer  |  Motors  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.