Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Knormoer: X-klas makeer toe die X-faktor

Knormoer wil hom nie verlekker in ’n ander se skade nie. Maar hierdie gat wat Mercedes vir homself gegrawe het met sy X-klas-bakkie was darem heel voorspelbaar, of hoe?

Toe die eerste foto’s van Stuttgart se nuwe bakkie in 2017 die kuberruim ingestuur is, het die wêreld omtrent tot stilstand gekom. Lanklaas was daar sulke afwagting vir ’n nuwe model. En dit boonop ’n bakkie.

Een van die gewildste nuusbrokkies op die internet tydens sy bekendstelling in 2017, maar drie jaar se pap verkope later gaan Merc sy X-klas staak.

Maar dalk was dit juis omdat dit ’n bakkie was. Want Mercedes, as die maker van weeldevoertuie, is eerder bekend vir sagte leersitplekke en laeprofielbande wat teen 250 op die autobahn blits.

Nie ’n eentonner waarmee jy skaap kraal toe vat nie.

Toe kom die realiteitsbesef. Pleks van self ’n eie bakkie te ontwerp, soos Volkswagen met sy Amarok gedoen het, gaan Merc ’n kortpad neem. Hy gaan Nissan se Navara-bakkie vat en net hier en daar ’n paar aanpassings aanbring, en siedaar, met die driepuntster op die neus en ’n peperduur prys het jy ’n nuwe “Mercedes”-bakkie.

Niemand het hiervoor geval nie. Dit is veral vreemd dat Stuttgart gereken het hy kan met so iets wegkom in hierdie moderne era van blitskommunikasie. Die wêreld was honger vir ’n Merc-bakkie, maar dan moes hy Mercedes s’n wees en nie ’n ster geplak op ’n Japanse bakkie nie.

Die tweede voetfout was die prysstrategie. Die Merc-bakkies was in markte oor die wêreld heen merkbaar duurder geprys as die ekwivalente Nissan Navara waarop hy gebaseer is.

Waarom sou iemand duurder wou betaal net vir ’n ander kenteken? Dit ruik na arrogansie.

By Knormoer se plaaslike Merc-handelaar het die X-klas-bakkies op ’n streep gestaan. Pragtig en blinkend, maar onverkoop.

  • MBA-dosente, hier’s nou ’n goue les vir jou studente hoe om ’n puik sakegeleentheid bokveld toe te skiet. Die naaste is VWSA se Seat-fiasko, en dit was vrot.

Intussen, in Durban

By verlede week se beleggingspraatjie in Johannesburg het Toyota SA se grootbaas, Andrew Kirby, laat val dat die maatskappy R2,3 miljard belê het in die bou van ’n nuwe produksielyn vir ’n nuwe voertuig by sy aanleg in Durban.

Dus, Toyota wil ’n nuwe voertuig in Durban bou. Tans word die elfde-geslag-Corolla daar gebou (saam met die Hilux en Sesfikile-minibustaxi), waarna dié elfde geslag eersdaags gaan plek maak vir die twaalfde-geslag-Corolla wat plaaslik as die Quest verkoop gaan word.

Die nuwe, ekstra voertuig op die produksielyn is egter groot nuus. Meer nog, niemand behalwe Toyota weet presies watter model dit gaan wees nie.

Knormoer vermoed dit kan óf ’n klein Yaris-tipe ryding wees, óf ’n klein sportnuts wat met die Volkswagen T-Cross en Ford EcoSport kan meeding.

Albei soorte voertuie maak baie sin vir die Suid-Afrikaanse mark, asook vir potensiële uitvoer na Afrika.

Knormoer hoop net Toyota kry hierdie keer sy planne agtermekaar, en nie so verkeerdom soos met sy Rush nie. Die Rush is ’n sakpas-sewesitplekker met ’n sportnuts se lyf. Maar sy enjin-en-ratkas-kombinasie laat veel te wense oor.

  • Geen wonder die Rush haas homself nie juis uit toonlokale nie.

Koop sommer die span, Pa

Daar is koel pa’s, en dan is daar Lawrence Stroll-koel wat ’n Formule Een-span aanskaf en dit herdoop tot die Aston Martin-F1-span. Waarin jou seun kan ry.

Stroll, pa van Racing Point se Lance Stroll, is die miljardêr-sakeman agter modename soos Tommy Hilfiger en Michael Kors. Die Kanadees het pas ’n 17%-aandeel in Aston Martin bekom deur R3,5 miljard daarvoor te hoes. Hy is darem nou ook die grootbaas van die direksie.

  • Knormoer wonder nou net. Gaan ons volgende James Bond ’n 21-jarige renjaer wees?
Meer oor:  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.