Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Koebaai vir eers vir die Elantra?

Sê vaarwel aan ’n geliefde handelsnaam op ons paaie. Ná drie dekades of wat is dit die einde van die pad vir Hyundai se klein gesinsmotor in Suid-Afrika, die Elantra.

Hyundai se jongste Elantra het skerp aksentlyne by die flanke.

Die Koreaanse groep het pas sy nuwe sewendegeslag-Elantra onthul wat binnekort Europa se sjiek strate gaan binnevaar, gereed om ander gesinsmotors soos die Toyota Corolla en Volkswagen Jetta aan te vat.

Maar tuis gaan dié nuweling nie meer sy weg na ons waters vind nie. Dis oor en uit vir die Elantra, soos ons hom ken.

Dis hartseer, want ’n mens raak mos maar geheg aan bekende handelsname. Trouens, dit geld ook vir die Koreaanse motorreus se direksie self.

Toe die Hyundai-direksie in Seoel enkele jare gelede op ’n nuwe nomenklatuur vir sy portefeulje motors besluit het – die luikrûe is as die i10, i20 en i30 herdoop, terwyl sy sportnutse ix35 en ix25 genoem is – het die direksie die Elantra sy naam laat behou. Dit was suiwer om nostalgiese redes, want die Elantra was die model wat Hyundai oor die wêreld heen sy deurbraak gegee het.

In sy huidige voorkoms is die langerige Elantra ’n lieflike gesinsedan. Sy vloeiende lyne gee hom ’n moderne aanslag terwyl die binneruim skoon afgewerk en ergonomies puik is.

Die huidige Elantra het self ’n lieflike profiel en moderne binneruim. Klein sedans is egter tans glad nie meer gewild nie.

Die model wat nou oorsee gewys is, is volgens die vervaardiger bedoel om dié ontwerp ’n tree vorentoe te neem. Ons reken sy ontwerpers het net hier en daar daarin geslaag. Kyk na die mooi, langer en meer gepunte neus. Of daardie skuins stert met die al groter wordende C-pilaar. Ons hou ook van die skerp plooilyne by die flanke.

Hyundai Suid-Afrika moes egter ’n moeilike besluit neem gegrond op suiwer sakebeginsels, en nie sentiment nie. Almal weet die Elantra is ’n diepgewortelde sedan in ons mark, maar die sedan-mark vir klein gesinsvoertuie het vir alle praktiese doeleindes verdwyn.

Kopers kies nou eerder ’n klein sportnuts. En hiervan het Hyundai vandag reeds ’n goeie aanbod op sy boeke.

Die middelslag-Tucson is gewild, terwyl die Creta met sy kombinasie van goeie ruimte maar ’n sakpas prys, gou ’n raakvat-keuse geword het. Hyundai het einde verlede jaar sy sportnuts plaaslik bekend gestel, die Venue. Met sy 1.0-liter-turbo-enjintjie is hy gaaf in die dorp, bied ’n ligte verbruiksyfer en parkeer op ’n tiekie danksy die stomp afmetings.

Daar is later die jaar ’n nuwe Creta op pad en dié het ’n moderner voorkoms binne én buite. As jy ’n Elantra na die land bring sonder dat jy hom billik geprys op die mark kan plaas (weens die swak wisselkoers), gaan jy nie net in die verkeerde segment speel nie, jy gaan jouself ook uit die mark uit prys.

Enigiets kan egter vorentoe verander. Die mark se smaak kan swaai, of die wisselkoers kan versterk. Maar voorlopig is dit gegroet aan ’n staatmaker in die Suid-Afrikaanse motorlandskap.

Meer oor:  Hyundai  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.