Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Koelkomkomper op die langpad
Padlangs

In ’n begeesterde oomblik in 1962 spring die Britse rolprentmaker Tony Richardson agter die kameras in en maak ’n stylvolle kunsprent met die dramatiese, dog melancholiese naam The Loneliness of the Long Distance Runner.

Dankie tog vir tegnologie. Toe jy oor die Kerstyd die langpad alleen moes aandurf vir ’n familiesaamtrek in die Vrystaatse platteland, verdoof jy die wit stippelstreep-reëlmaat en grys klankloosheid van die Karoo-vlaktes met die enkele druk van ’n knop: die klankstokkie, gelaai met ure se selfgekose luister­genot.

Ja, die somervakansie. Daardie een geleentheid in die jaar waar jy saam met die volk, Gauteng se swaarvragmotors en ’n handvol dienders van die gereg ’n stewige langpadtoer kan aanpak.

Mercedes se spesiale selfrymotor waarmee hy pas in groot wêreldstede toetslopies in alledaagse omstandighede gedoen het.

My laaste mediageleentheid in Desember was ’n aanbod vanuit Stuttgart om ’n dag saam met ingenieurs in die vervaardiger se nuwe selfry-Mercedes in Kaapstad deur te bring.

Die Duitsers was besig met ’n wêreldtoer. Die swart linkerstuur-S-klas met sy string kameras aan die voorruit gegom en ’n bagasiebak gevul met een groot rekenaar, word tans reg rondom die wêreld gevlieg.

In Duitsland het hy kilometers op die spoedgrenslose snelweë kafgedraf. In Shanghai moes hy chaotiese verkeerskruisings en padtekens met ’n vreemde skrif baasraak.

In Australië is die rekenaar se taaiheid in 40 °C beproef. Die ingenieurs moes die lugversorging afsit, want die battery kon nie voorbly nie.

En toe land Klaus, Fritz en Zitzewitz op O.R. Tambo.

Toe die slap Merc self sy weg N1-snelweg toe vind, tik die ingenieurs net “Kaapstad” in, en sink terug. Terwyl ’n GPS-kamera sagkens rol.

Die witjasse het my ’n paar videogrepe van hul toer gewys. Nou, hier sal jy jou verbeelding moet gebruik. Hierdie ouens het nog nooit in Suid-Afrika bestuur nie. Ook, hulle is Duitsers, waar padreëls en logiese bestuurders in perfekte simbiose saamleef.

Plus, Klaus-hulle is ingenieurs en IT-boffins. Mense met die humorsin van ’n Oos-Berlynse grenswag – en sy soldy is ’n maand laat.

Die konsep “minibustaxi” was ’n stewige hekkie. Ja, die S-klas kan homself bestuur. Maar soms, as die rekenaar se tera­greep-per-sekonde-verwerkingspoed steeds nie kan uitpluis wat ’n taxi se volgende beweging gaan wees nie, vra hy die menslike hand om oor te neem. Verkieslik Suid-Afrikaans, vermoed Klaus, Fritz en Zitzewitz.

Ander videogrepe het daardie eg Suid-Afrikaanse gewoonte uitgewys om, as iemand jou wil verbysteek, jou motor se linkerwiele net so ’n tree oor die geel lyn te beweeg. Dít nou sodat die taxi steeds by jou kan verbyskuur aangesien daar vorentoe twee vragmotors langs mekaar aangery kom.

Dus, binne ’n samelewing waar reëls nagevolg word, voel hierdie nuwerwetse voertuie veilig, gemaklik en inderdaad vertrouenswaardig.

Die rekenaar is geprogrammeer om nie verkeersreëls te oortree nie. Dus, sou die voertuig voor jou sy linkerwiele oor die geel lyn stuur, sal jou kragtige komper vinniger omval as ’n geheelonthouer by Oktoberfest.

Rekenaars werk met reëls. Dus, binne ’n samelewing waar reëls nagevolg word, voel hierdie nuwerwetse voertuie veilig, gemaklik en inderdaad vertrouenswaardig.

Maar hoe programmeer jy ’n selfrymotor vir Suid-Afrika se bestuursgedrag? Fritz boor sy toon in die S se pluispool-tapyt. Klaus raak byna onsedelik met sy wurst. Die teragreep-bielie kou soos biltongsening aan die probleem.

Ek kan myself sien terugsit in ’n selfrymotor, besig om e-posse na te gaan terwyl die motor self worstel met stop-en-ry-verkeer. Minder werktyd gaan verlore en jy kom seebries-vars by die kantoor aan.

’n Week nadat die slim Mercedes vort is, durf ek die einste langpad op eie houtjie aan. Die taxi’s druk verby. Die lorries kom twee-twee aangedreun.

Jy sê dankie met jou noodligte as ek oorbeweeg het. Ek flits ’n dankie terug met my hoofligte. Jy waai met die hand om dankie vir my dankie vir jou dankie te sê. Ons ry langpad. Alleen soos die langpaddrawwer. Maar, man, dit voel mos na familie.

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Motors  |  Padlangs  |  Rubriek  |  Langpad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.