Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Komaan, bring E-rakker SA toe

Honda is stadigaan besig om al hoe meer feite oor sy nuwe stadsrakker, die Honda E, bekend te maak. Die E is die Japanse vervaardiger se ougat e-voertuig wat aan die Mini van ouds herinner.

Honda se opwindende klein E, sy nuwe stadsmotor wat net met batterykrag werk, is vroeg volgende jaar markgereed. Hoe lyk dit, Honda SA?

Voorlopig gaan die knapie slegs in Europa verkoop word, met verkope wat vir Maart aanstaande jaar beplan word. Maar, as gerugte geglo kan word, gaan Honda reeds vroeg aanstaande maand op die Goodwood Festival of Speed ’n prototipe op die renbaan laat ry.

Die groep het verlede week ook meer feite oor sy aandryfstelsel bekend gemaak. Die klein stadsryding word deur ’n litiumioon-battery van krag voorsien met ’n kragsyfer van 35 kW/uur.

Die battery, die swaarste enkele voorwerp in die motortjie, word plat in die vloer gesit om uit die pad te wees en ook die swaartepunt so laag moontlik te hou vir beter hantering.

Onafhanklike vering op elke hoek behoort ’n gemaklike, soepel rit te verskaf met Honda wat glo selfs sommige onderdele van aluminium laat maak het om gewig te help bespaar.

Die E is ’n klein ryding en het in sy skou-weergawe (wat in 2017 op die Geneefse skou gewys is) slegs twee deure gehad. Ons vermoed egter vir ’n meer praktiese aanslag sal die produksieweergawe vier deure hê, met die handvatsels vir die agterste deure wat bo in die C-pilaar weggesteek sal wees om steeds die illusie van ’n koepee te skep.

Ondanks die klein battery help die motor se klein afmetings dat Honda ’n reikafstand van 200 km vir hom kon neerpen. Jy kan hom by die huis met ’n gewone muursok oornag herlaai, of by ’n snelpunt wat jou in ’n halfuur tot by 80% vol sal bring.

Die sok is voor in die middel van die neus aangebring, en nie aan die kant soos waaraan ons met ’n petrolflap gewoond is nie. Honda sê die voordeel van ’n sentrale punt in die neus is dat hy dan van drie kante af ewe gemaklik by ’n herlaaipunt kan aansluit.

Ondanks die klein battery help die motor se klein afmetings dat Honda ’n reikafstand van 200 km vir hom kon neerpen.

Honda het nog geen planne om hom na ander markte te neem nie, maar ons sou reken vir ons Suid-Afrikaanse toestande sou so ’n stadsrakker perfek pas. Die reikafstand is goed vir ’n paar dae se kantoor toe en terug pendel, of om winkels en skool toe mee te ry.

Kom ons kyk wat besluit Honda Suid-Afrika.

Meer oor:  Elektriese Motor  |  Motors  |  Honda  |  Japan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.