Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Kompakte lyf maak klein GS ’n bielie
BMW se nuwe baba-GS, die G310 GS. Hy’s nie ’n ekspedisiefiets nie, maar ry besonder gemaklik op die oop pad ten spyte van sy kleinerige enjin.

Hier is die drie groot vrae: Is hierdie fiets hanteerbaar genoeg vir beginners? Is ’n motorfiets met ’n 313 cc-enjin sterk genoeg vir ’n dag- of naweekrit buite die stad? Robuus genoeg vir grondpaaie?

Mens se eerste indruk van die BMW G310 GS is feitlik eenparig. Dis groter as wat jy verwag het, maar ligter as wat dit lyk.

Een groot lastigheid van avontuurfietse is dat korter of kleiner ryers nie hul voete plat op die grond kan neersit wanneer hulle stilhou nie en dan maklik op ’n skuinste omkantel – ’n groot verleentheid, al kry dit nogal baie klieks op YouTube. Die 310 GS staan hoog, maar jy sit laag en die vering laat sak jou ’n verdere duim of twee. En as jy steeds sukkel om jou voete te plant, is daar ’n laer saal wat jy kan opsit (en ook ’n hoër een vir langer mense).

Teen 170 kg is die GS ook ’n goeie 20 kg ligter as byvoorbeeld die GS 650. Jy vóél daardie verskil wanneer jy die fiets parkeer en as jy ry.

Die klein digitale inligtingskerm is straks nuut vir ouskoolryers, maar bied steeds al die nodige inligting plus ’n rataanwyser en horlosie op die koop toe.

Wanneer jy die sleutel draai, hoor jy so ’n effense brrrm-grassnyerklankie onder jou. Gaan hierdie enjin iemand van 6 voet 2 en 100 kg met gemak teen die Montagupas se grondpaadjie tot op die kruin van die Outeniquaberge dra, wonder jy wanneer jy buite George oor die Keurrivier se bruggie ry.

Verby Die Noute en Moertjiesklip ry jy, deur Haarkantdraai en Remskoendraai, verby Regoptrek, links by Hotkantdraai en dan verby Stinkhoutdraai . . . bo!

Glo my, hierdie is meer as ’n weed eater met ’n tuinstoel. Dit is ’n regte motorfiets. Daar is lekker wringkrag in elk van sy ses ratte. Op die reguit stukke grondpad haal jy moeiteloos 100 km/h, en teen 6 000 toere is jy en die fiets op jul gemak.

Die skermplaat onder die enjin is van plastiek, maar stewig genoeg om die klippe te keer. Jy hoor net nie daardie lekker “klang!” wat jou laat glo jy sou nou vir Alfie Cox kon injaag as jy regtig wou nie. Deur die draaie van die Outeniqua-teerpadpas is die fiets in alle opsigte gehoorsaam. Daar is weinig vibrasies, veral vir ’n eensilinderfiets. Jy sal gemaklik werk toe kan pendel hiermee en daar is selfs sluitweerremme.

Sal jy op die oop pad kan saamdraf met die groter honde bo 500 cc? Uiteraard nie. Die 310 GS loop (en klink) op sy lekkerste tussen 100 en 110 km/h, ook bult-op. Bokant 120 km/h raak dinge ultrasonies. Die amptelike topsnelheid is 143 km/h. Net honde gaan jou hoor kom.

BMW se mense beklemtoon dat die 310 GS nie ’n volbloed veld- of ekspedisiefiets is nie en ook nie soos een mishandel word nie. “Dit is nie iets waarmee jy om die wêreld gaan toer nie,” sê Edgar Kleinbergen, hoof van BMW Motorrad in Suid-Afrika. “Dit is een waarmee jy op die ingewing van die oomblik iewers heen ry en dan sommer ook kortpad met ’n paar grondpaaie kan vat.”

Op nuweling-ryers wat ervaring wil opdoen, op ouer ryers wat nie met ’n swaar fiets wil sukkel nie, op jou lewensmaat wat lus is om self te ry.

Edgar is onnodig beskeie. Ek sal sonder om te wyfel wyd gaan toer met ’n fiets soos hierdie. Tankwa toe, Sederberge toe, oor die Swartbergpas na Die Hel en selfs deur Baviaanskloof as die waters daar laag genoeg is.

Toer saam met rustige reisigers en moenie soos ’n skollie ry waar die grondpad sleg raak nie.

Op wie is hierdie fiets dus gemik? Op nuweling-ryers wat ervaring wil opdoen, op ouer ryers wat nie met ’n swaar fiets wil sukkel nie, op jou lewensmaat wat lus is om self te ry. Op, wel, eintlik enigiemand. Klim op hierdie begeesterde klein motorfiets en mik vir die horison.

Meer oor:  Motorfiets  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.