Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Kona kry ’n nuwe jas

In Hawaii is Kona ’n plek waar die branderplanke baljaar en die somerlywe nog meer. In Suid-Afrika is dit Hyundai se klein luikrug-met-vellies, die Kona-sportnuts, wat iets tussen ’n Tucson­ en ’n i30 versinnebeeld.

Teen sowat die halfmiljoenrand-kerf is die Kona nie sommer enigeen se kleinlyf-speelding nie. Daarvoor bied die Koreaanse vervaardiger sy groter Creta aan die mark, waar jy meer ruimte (en veldvernuf) vir minder rande uit jou sak kan kry. Maar die Creta lyk voorstedelik. Klim jy agter die stuur, verwag jy die gejil­ van peuters en kleuters agter­ jou rug.

Die Kona bied jou op sy beurt kits-mejuffrou-status. Belofte van aande se uitgaan-pret en ’n knipoog raaksien in jou hupse ryding. Hy lyk vrolik, jonk en modern met sy tweekleur-afwerking, spleet-LED-ligte voor en daardie drie riffel-inlate op die enjinkap.

Hyundai se swierige klein nuts lyk nou nog meer windmaker met sy skreefoë en bultende enjinkap. ’n Warm Kona N is oor ses maande ook op pad.

Die goeie nuus is dat sedert die Kona in 2018 hier bekend gestel is, het Hyundai hom pas ’n opknapping gegee. En as jy die soort is wat die petroljoggie klokslag vra of hy nie dalk 100-oktaan iewers het nie, is die goeie nuus die warm Kona N is vroeg volgende jaar op pad. Net reg om ’n oorblufte GTI-bestuurder in sy Starbucks-koffie te laat stik.

Wat’s nuut?

Vir die opknapping het Hyundai met ’n paar enkele hale heelwat vermag op die modefront. Die enjinkap is langer en bied ’n mooi boog wat hom lekker aggressief laat voorkom. Die rooster is breër en op die hoeke is ekstra splete vir beter lugvloei na die remme.

Agter is die remligte breër gemaak en die vet lugsnoer is, wel, vetter gemaak as vantevore. Die twee topmodelle (Executive en N Line) kan verder met ’n gawe tweekleur-voorkoms bestel word (die dak is swart). Al die modelle kom met 16-duimers geskoei, maar vir ’n paar rand ekstra kan jy 17’s of 18’s laat opsit, wat beslis beter lyk.

Dit als laat die Kona soos ’n ongepoetste vulkaan tussen die res van die gesinsvriendelike sportnutse uitstaan.

Binnelangs is die raakskerm nou ’n groter paneel, terwyl leerbekleedsel, ’n tru-kamera, koordlose herlaai-vakkie en koordlose koppeling van jou slimfoon met die radio als standaard ingesluit is.

Topmodelle kry ’n digitale instrumentpaneel, die res het nog ouskool-analoog-wysers. Die kajuit is netjies afgewerk en bied ’n stil rit, selfs op spoed.

Visueel en wat toerusting betref, lyk die nuwe topmodel, die N Line, die treffendste. Die groot, swart plastiekskermpanele by die wielboë maak nou plek vir meer subtiele stroke wat in dieselfde kleur as die bakwerk geverf is. Die N Line kry ook ’n rits veiligheidstelsels standaard ingesluit, soos ’n blindekolgonser, ’n selfstopfunksie in stadsverkeer, ’n terugdu-funksie as jy uit jou baan uit sou dwaal, ’n dwarskyk-kamera as jy tru uit ’n parkeerruimte stoot, en slim spoed- en volgbeheer.

Gooi kole

Daar is twee enjins in die reeks om van te kies. Die 1.0-liter-petrolturbo van vroeër val weg en tans kan jy net kies uit ’n 2.0-liter- natuurlik geaspireerde petrol as intreemodel (110 kW, 179 Nm), en die wakker 1.6-liter-petrolturbo (146 kW, 265 Nm). Eersgenoemde is met ’n sesgang-outomaties gekoppel, terwyl die turbo Hyundai sewegang-outomaties kry (dubbelkoppelaar-soort).

Die turbo-model is lekker lewendig as jy die voet plant en reageer byna oombliklik. Teen kruipspoed in verkeer het die ratkas soms gehik-hik – hy wil óf stilstaan óf teen ’n pas beweeg – maar verder is die skakeling seepglad.

Die rit is lekker stil in die kajuit en die vering aan die sagte kant. Ek het die Kona terpentyn gegee op ’n knopperige pad en die meegee van die vering vir ’n sagte rit was opvallend.

Sou jy iets stywers in die heup wou hê, is ons seker die warm Kona N wat vroeg volgende jaar hier is, sal daaraan voldoen. Ek reken as jy jonk en suksesvol is, en die buitelewe geniet, sal die netjiese Kona soos ’n energiejel in jou heupsak inglip. Stywe prys en al.

Meer oor:  Kona  |  Hyundai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.