Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Koning Carlos se Groot Systap

Knormoer dink hy gaan maar wag vir Hollywood se weergawe van wat als laatnag op 29 Desember in Tokio gebeur het.

Carlos Ghosn, oudgrootbaas van Nissan, het op 29 Desember in ’n dramatiese vlugpoging uit huisarres in Japan na Libanon ontsnap.

ulle sê mos ’n motorverkoopsman is ’n vreemde spesie. Maar dié ontsnappingsverhaal van die voormalige Nissan-grootbaas Carlos Ghosn, om vanuit sy huisarres in Japan in die geheim na Libanon gesmokkel te word, is net fassinerend.

Dis inderdaad iets wat jy net in ’n aksiefliek sou verwag. Die storie het al die regte elemente. Daar is die ryk sakemagnaat (Ghosn, op sy dag die baas van die vierde grootste motormaatskappy ter wêreld), die kultuurverskille tussen die Weste en Ooste, en ’n geldskandaal van miljoene dollar.

Om nie van die beweerde skewe regsproses te praat nie – Hollywood se gunsteling-leitmotief: Ek is vals beskuldig.

En dan natuurlik die middernagtelike ontsnappoging in ’n musiek-tas, eers per sneltrein na Osaka, en toe per private vliegtuig na Turkye en daarna na sy eindbestemming in Libanon.

Die groot, wetlike gestoei het nou maar eers begin, vermoed Knormoer. Want nou is regerings ook betrokke. Maar voorlopig verloor Japan se beeldpoetsers die stryd. Met ’n behoorlike regsproses in plek, sou enige direkteur dit nodig ag om so drasties op te tree?

  • Knormoer kan nie wag om te sien hoe dié sakie gaan ontvou nie. En jy’t gedink motors verkoop is ’n maklike affêre?

Voet in die hoek

Van haastig wegkom gepraat, Knormoer sien twee ander wegkomvoertuie staan op die punt om eindelik met die nodige kreatienpille toegerus te word wat dit nog altyd makeer het.

In Japan is daar geluide dat Toyota sy klein sportmotor, die GT86, van ’n turbo-enjin wil voorsien. En in Australië is Ford se ingenieurs glo besig om ’n vet V8 te maak pas in die Ranger Raptor se neus waar ’n tweeliter tans diens doen.

Knormoer verstaan dat eindelose krag en liters slagvolume nie almal se biersmaak is nie. Die ding is egter dat as jy ’n verrigtingsmodel bou, skep jy bepaalde verwagtings.

Die GT86 lyk soos ’n sportmotor, hy hanteer soos ’n sportmotor, maar hy ry met die verrigting van ’n Yaris. Dit pas nie.

Turbokrag is wat hy nog altyd nodig gehad het. Soos wat al die klein, warm luikrûe soos die Polo GTI en dies meer het.

Dieselfde geld Ford se Ranger Raptor. Die Raptor is die groep se vlagskip-bakkie. Rowwer as Jan Wilkens en frisser as Rocky ná ’n gim-sessie. Maar met sy huidige 2.0-liter-diesel klink sy spanlys soos die o.9’s wanneer die buurskool die Cravenweek-span vorentoe stoot.

Waarom moet ’n mens altyd eers wag voordat die direksie die gloeilamp sien aangaan? Koste, sou Knormoer raai, maar dis ook al waaraan hy kan dink.

  • Kom ons hoop die gerugte is waar. Dalk kry daardie drukvlerk agterop die GT86 se stert eindelik iets om te doen.

Uh-hum, uh-hum, uh-Hummer

Knormoer weet nie wat die rap­sanger-brigade hiervan gaan dink nie. Maar klaarblyklik gaan die Amerikaanse weermag-geïnspireerde Hummer-sportnuts ’n nuwe lewe kry – maar dié slag as ’n elektriese voertuig.

Op sy dag was die Humvee – swart, met donker getinte vensters – ’n geliefde agtergrondstuk tot enige rap-musiekvideo. Verkieslik met die nodige goue kettings om die sanger se nek gedraai, en so sewe of agt stuks meisies in swemdrag.

Maar dan het hy ook darem ’n V8 gehad.

Sedertdien het die Hummer (met sy V8) verdwyn. Maar nou wil ’n groep hom laat herleef, as ’n groen voertuig.

  • Als wel, sê Knormoer. Jy gaan net ’n lywige battery nodig hê om daardie grote lyf oor die weg te kry. En ’n ekstra battery om die boombox te laat werk.
Meer oor:  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.