Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Kopkrapper: Kan ons ou krieketspelers ook inruil?

Knormoer sien die AA het ’n rustig beredeneerde brief aan Fikile Mbalula, die nuwe minister van vervoer, gestuur as verwelkoming in sy pos.

Knormoer is heel beïndruk. In die brief lig die AA vyf aspekte uit waarop die minister kan fokus om padveiligheid en wetstoepassing op te knap.

Nie jou gewone gesig op pad skool toe nie. ’n Gautengse entoesias het dié netjiese Le Mans-replika gebou wat die internet aan die gons het.

Sonder om by elkeen stil te staan, net kortliks dít wat vir Knormoer uitgestaan het.

Eerstens wys die AA hoe erg die situasie tans is: 13 500 mense sterf elke jaar in motorongelukke, en dit kos die ekonomie R163 miljard. Nie heeltemal genoeg om Eskom te red nie. Maar jy kan ’n paar skole daarmee bou.

Dan wys die AA op nog ’n skrikwekkende – maar voorkombare – statistiek: Bykans elke tweede persoon wat in ’n pad­ongeluk sterf, is ’n voetganger.

Stappe so eenvoudig as opvoedingsprogramme by laerskole sal alreeds dié syfer verminder.

’n Ander aspek wat die AA aangeraak het, is die nuwe Aarto-puntestelsel wat ons wil implementeer. Dis als pragtig, sê die AA. Maar die fokus het sedertdien geskuif van doeltreffender polisiëring na doeltreffender geldinsameling.

Trouens, algemene verkeers­polisiëring moet dringend aandag kry. Kyk net na die wintervakansie se padongelukke in die Noorde. Dis bestuurders wat nalatig ry, soos verbysteek waar hulle nie moet nie, of net reëls ignoreer.

En dan word die minister gevra of dit nie tyd is dat ons ons minimum veiligheidsvereistes in motors verhoog nie. Dinge soos lugsakke, ABS-remme en stabiliteitstelsels kan help om padsterftes te verminder.

* ’n Klop op die skouer vir ’n moedige AA. Dis die rykes wat ongeskonde in hul Beemers bly sit, en die arm voetgangers wat maar bly aftjop.

Skop die ligte uit

Knormoer het al voorheen ’n verwysing hierna gesien, toe sake nog in die beplanningsfase was. Maar nou blyk dit handtekeninge is al op papier gesit.

Dis nou die vindingryke plan van ’n Amerikaanse ingenieursgroep, Eaton, wat ou e-voertuie se batterye vir nuwe doeleindes wil inspan. Soos om ’n sokkerstadion se spreiligte krag te gee.

Eaton het glo reeds die kontrak ontvang om ou Nissan Leafs se batterye te mag gebruik. Elke Lea­f bied glo vier bruikbare selle, en dit word dan saam met nog ander selle gebondel totdat ’n groot genoeg “versoolde” battery geskep is.

Die stelsel werk gewoonlik saam met sonpanele, sê Eaton. Dit stoor die krag bedags waarna dit saans die spreiligte kan aktiveer. Die Johan Cruijff-stadion, waar Ajax sy tuiswedstryde in Nederland speel, is een stadion wat dié stelsel reeds benut. Nog een is die Bislett-atletiekstadion in Oslo, Noorweë.

Dis dalk vandag nog ’n minimale affêre. Maar as jy dink dat binnebrandvoertuie al hoe meer met e-voertuie vervang gaan word, gaan ons gou met tonne gebruikte batterye sit.

Dit is dus goed dat ’n tweede rakleeftyd te vinde is.

* Nou wonder Knormoer of daar nie ’n tweede, beter gebruik vir ou krieketspelers is nie.

Le Mans, Spa, Pretoria!

Dis dalk nie jou gewone manier om ’n dagdroom te verwesenlik nie. Maar toe Johan Ackermann van Gauteng besluit het hy wil ’n (onbekostigbare) Le Mans Groep C-wenner hê, toe bou hy sommer een.

Sy replika van Mercedes se C9 wat in 1989 die Le Mans-uithouren oor 24 uur oorheers het, het vandeesweek die internet aan die brand gehad. Só getrou is sy silwer sportmotor aan die oorspronklike. Die voertuig is met verskillende Mercedes-onderdele gebou, het ’n buisraamwerk vir ’n lyf en ’n dop van glasvesel. Selfs oorsese webwerwe is gaande oor sy handewerk.

* Knormoer moet erken, vir Snorstad is dit netjiese kamwerk.

Meer oor:  Aa  |  Fikile Mbalula  |  Knormoer  |  Motors  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.