Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Korea bult sy tegno-spiere

Kia het so stilweg sy voetwerk in die wêreldmark begin verander en die jongste voorbeeld hiervan is sy nuwe EV6, die Koreaanse vervaardiger se eerste hoofstroom-e-voertuig.

Sedert Kia so twee dekades gelede deel van die Hyundai-konglomeraat geword het, moes hy ietwat tweede viool speel in dié huwelik. Hy het sy eie ontwerpspan gehad en kon die platforms en meganika van Hyundai benut, maar moes die sportiewe of meer sakpas modelle aan die mark bied. Dit terwyl Hyundai die blink Stefaans in die gesin was.

Deesdae is Kia onafhankliker. Die groep wil homself nou as ’n speler in die weeldesegment van die wêreldmotormark posisioneer en daarom sal jy sien dat sy voertuie enersyds deftiger afgewerk gaan wees, maar andersyds ook duurder gaan raak. Die dae van ’n sakpas stadsnuts uit Asië is voorlopig verby.

Ons het dit reeds met die Sportage gesien, wat ’n deftige gesinsvoertuig is en wat nie bang is om sy prys te vra vir wat hy voel hy werd is nie.

Die nuwe EV6 is egter die duidelikste stap in hierdie nuwe rigting vorentoe.

Ons is werklik beïndruk met wat Kia reggekry het met sy eerste hoofstroom-e-motor, die EV6 – hy kon dalk net meer moeite met die benaming gedoen het. Die slanke voertuig is gelaai met nuwerwetse tegnologie.

Die batterygedrewe luikrug loop oor van nuwerwetse tegnologie wat min ander (selfs Europese) vervaardigers bied, en sy afwerkings is eersteklas.

Die voertuig self is ’n mengsel tussen ’n luikrug, ’n stasiewa en ’n veeldoeler. Trouens, hy herinner ons nogal aan Volkswagen se ID.3 en die Jaguar i-Pace. Die EV6 bied sitplek aan vyf volwassenes en benut Kia se nuwe, doelgeboude platform vir elektriese motors.

Kopers sal uit verskeie modelle kan kies. Daar is tweewiel- en vierwielaandrywing, maar ook ’n lang reikafstand en gewone reikafstand-opsie. En laastens, vir die spoedvrate, bied Kia ook ’n GT as die topmodel.

Verskeie modelle

Die lang reikafstandmodel benut ’n 77 kWh-battery met die keuse van agterwiel- of vierwielaandrywing. Die tweewieldryf-weergawe sorg natuurlik vir die langste reikafstand – ’n stewige 510 km volgens die Europese WLTP-standaard.

Die battery dryf ’n elektriese motor op die agteras aan, en verskaf 168 kW krag aan die agterwiele.

Kies jy die vierwielgedrewe model, kry jy ’n e-motor op altwee die asse geposisioneer met ’n totale kraglewering van 239 kW en 605 Nm wringkrag. Kia sê versnelling sal danksy die beter vierwielvastrap in ’n flukse 5.2 sekondes afgehandel word.

Goedkoper modelle sal met die kleiner 58 kWh-battery toegerus wees, weer met die keuse van ’n enkele 125 kW-e-motor op die agteras vir tweewielaandrywing, of twee motore (voor en agter) wat 173 kW in kombinasie vir die voertuig sal bied.

En laastens sal spoedvrate die GT-model wil nader sleep. Die GT kry die frisser 77 kWh-battery, maar met kragtiger e-motors op die voor- en agteras wat 430 kW en 740 Nm wringkrag uitstoot, sorg hy vir ’n Ferrari-tipe versnelling van net 3.5 sek en ’n topspoed van 260 km/h.

Puik tegnologie

Wat ons egter werklik nuuskierig maak, is Kia se rits nuwe tegnologieë wat hulle in die voertuig ingebou het.

Die kajuit bevat ’n breë, onafgebroke paneelskerm, boonop met ’n kurwe.

Benewens die verwagte blindekolgonsers, trukamera en selfstop-funksie, asook terugdu-funksie en selfstuur-vermoëns op die snelweg, het die kajuit ’n massiewe glaspaneel voor wat strek van die bestuurder tot in die middel van die instrumentpaneel.

Waar voertuie dus vandag ’n digitale inligtingskerm voor die bestuurder en ’n tweede, aparte skerm in die middel het vir nutsfunksies, het die Kia een, breë, aaneenlopende paneel.

Dit is nuut in die bedryf, want almal sukkel nog om ’n geboë oppervlak vir die inligtingskerms daar te stel. Kyk maar, alle skerms is plat soos ’n vloerteël.

Die EV6 se groot skerm bied dus ’n aaneenlopende glasoppervlak, met voor die bestuurder die ritinligting wat hy verlang, en in die middel van die kajuit die nutsinligting en tru-kamera.

Voor die bestuurder, laag op die voorruit, is daar nou ook ’n verbeterde en driedimensionele beeld wat jou spoed, satnav-instruksies en waarsku-beelde vertoon.

’n Verdere slimmigheid van die EV6 is sy vermoë om in ’n kits herlaai te word. Kia benut hier dieselfde tegniese aspekte as wat Porsche in sy Taycan inspan, naamlik dat die EV6 met sowel ’n kragtige 400 V-sok as ’n nog sterker 800 V-sok herlaai kan word. Jou herlaaipunt moet hierdie kragtige stroom dus magtig wees, maar die punt is die voertuig beskik oor die vermoë om so ’n stelsel te kan benut.

Kia sê as jy byvoorbeeld die 800 V-sok gebruik, kan jy jou voertuig vanaf 10% tot 80% herlaai in net 18 minute.

Afsaal

Die EV6 word nogal vir Suid-Afrika oorweeg. Een model is binnekort in die land om vir ’n tyd lank vir evaluering gebruik te word. Hier’s Kia SA se dilemma: As hulle hom gaan inbring, gaan hy maklik R2 miljoen kos. Is Suid-Afrikaners vandag bereid om soveel vir ’n EV – en ’n Kia – op te dok? Kom ons kyk.

Meer oor:  Kia  |  Korea  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.