SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Motors
Voet in die hoek:
Lank lewe die 9-uur!

Die adrenalien en aksie het verlede naweek op Kyalami gepomp toe Porsche verstommende seges in die Intercontinental GT Challenge-wedrenreeks behaal het. Egmont Sippel was daar.

Die Porsche 911 GT3 R tydens kwalifisering.

Vrydagmiddag 22 November 2019. Kyalami het amper twee-vyfdes van ’n eeu hiervoor gewag, vir die spoed en klank waarvoor die 9-uur-uithouren eens so geroemd en geliefd was.

Nou’t die skouspel ná ’n stilte van 37 jaar teruggekeer.

En om halfvier, op daai Vrydag, toe reën dit.

Nick Tandy was die eerste slagoffer. Vyf minute voor die einde van die kwalifiseringsuur parkeer hy sy glyende Porsche 911 GT3 R teen die muur buite-om Clubhouse, ’n 90-grade-draai na links.

Team Motul se Honda Acura was die tweede slagoffer. Die NSX GT3 is deur die nat baan geneutraliseer, enersyds op hanteringsvlak, andersyds op kragvlak; ’n Hoëveldse donderstorm is jaer- én in ’n mate turbo-onvriendelik.

Die eerste vyf motors op die wegspringrooster vir vanjaar se 9-uur het dus uit onaangejaagde enjins gedryf: die Audi R8 LMS GT3 in tweede, die Mercedes-AMG GT3 in derde en ’n Porsche 911 GT3 R in vierde en vyfde, asook op die troon.

Dit te danke aan Tandy se skitterende laaste ronde tydens die tweede kwalifiseringsessie van 15 minute, waaraan net die tien vinnigstes van die eerste sessie sou deelneem.

Die wenmotor skiet oor die eindstreep.

Nick Tandy se invloed

Synde dat Tandy vir die Frikadelli-renspan jaag, het hy sy kanse vir die finale toptien-skietgeveg ’n uur vantevore skynbaar gefrikkadel.

Maar die Brit ken van. Hy’t spoed afgeskraap en die muur getref met die impak van ’n vrou wat haar wange poeier.

Noem dit dus ’n kus, eerder as wat die Porsche gekis is.

En toe dit tel, toe plant Tandy – nogmaals op ’n nat baan – sy Frikadelli-911 aan’t spits van sake.

En toe dit wéér sou tel, in die ren selwers, met net minder as ’n halfuur oor – nogmaals op ’n sopnat baan voordat Kyalami se hergebore 9-uur laas Saterdagaand om 10-uur ten einde sou loop – het Tandy opnuut ’n bres tussen hom en sy agtervolgers geslaan.

Dit ná sy kwalifisering-blaps, ná ’n ren-onderonsie waarin hy van die baan sou tol en ná ’n strafrit deur die kuipe vir sý aandeel aan hierdie walsie.

En Tandy stuur steeds die Frikadelli-911 eerste oor die wenstreep. Frikan amazing.

Die reën se rol

Saterdagoggend 23 November breek vroeg en helder en warm. Reën lyk ’n miljoen myl ver.

Maar dis die Hoëveld. Die hitte bou van sonsopkoms om teen die middaguur dik en rustend soos ’n volgevrete leeu te lê, wagtend op skitterwit kumuluskomberse wat koolkop die hoogtes sou inbol.

Dan kom die gryses om ’n reëndans te stook en uiteindelik is die hele trans swart gerook, ’n natuurteater vir kluise vol klank en skagte vol lig. Dit rommel en druis en die hemele skeur oop sodat dik blitse aarde toe kan flits. Op ander geleenthede ontplof die weerlig soos spinnekoppote in alle rigtings oor die dreigende donkerdoek.

En dan daai knal wat die firmament in twee ruk, gevolg deur reën. Baie reën.

Dis waarvoor ons op hierdie Saterdagmiddag wag, om Kyalami se hergebore 9-uur op te klits. Verskillende kuipestop-strategieë maak dit moeilik om die ware renorde te peil, maar die voorlopers word deurentyd met net ’n paar sekondes van mekaar geskei.

Dit nou weens verstommende eenparige motorverrigting plus min ware verbysteekpunte, selfs op die nuwe baanuitleg wat ontwikkel is sedert Porsche se grootbaas, Toby Venter, die eiendom vyf jaar gelede gekoop het.

Die ren kort dus ’n joker sodat die beste jaers ’n bres tussen hulle en die res kan slaan.

Maar die reën wag rustend.

Die motors wat deelneem, is warmgemaakte GT3-weergawes van padvaardige topwiele.

Wie sou die titels wen?

Daar’s baie op die spel. Oor die afgelope vier jaar het die Stéphane Ratel Organisation (SRO) die Intercontinental GT Challenge ontwikkel vir motors wat aan die FIA (Fédération Internationale de l’Automobile) se regulasies vir GT3-motors voldoen.

Kyalami was die vyfde en laaste wedren in vanjaar se reeks wat in Februarie reeds met die beroemde Bathurst 12 Hour (in Australië) afgeskop het. Daarna het die California 8 Hours, die 24 Hours of Spa (in België) en die Suzuka 10 Hours (in Japan) gevolg.

Die motors wat deelneem is warmgemaakte GT3-weergawes van padvaardige topwiele. Haal ’n “3” of “R” of “GT3” (en ’n paar enjin- en bakwerkmodifikasies, soos 2 m breë agterste drukvlerke) uit die nomenklatuur, en dis masjiene wat jy self as daaglikse rygoed kan aanskaf, indien jou beursie so breed soos renbande is.

So daag Mercedes met ’n 22-punt-voorsprong in die vervaardigerswedloop by Kyalami op, asook met drie jaers in die topvier. Die bes-geplaasde Porsche-jokkie is Dennis Olsen.

Hy’s vyfde op die puntelys, tien punte agter Merc se Maxi Buhk.

Die kanse vir Porsche-louere is skraal.

Maar watwo, Tandy (saam met Mathieu Jaminet in Olsen se span) plant die Frikadelli stewig op troon. Maxi se heldergeel Merc met slangskubbe rondom sy ligte geverf lê derde.

Kan die Frikadelli-jaers Buhk se geelslang-Merc op die punteleer vang en verbysteek sodat Olsen kampioenjaer word? En kan die ren se vier topkategorie-Porsches die drie Mercs diep genoeg in ’n blik druk om die vervaardigerstitel te buit?

Merc-AMG
’n Merc-AMG in die kleure van Suid-Afrika se vlag.

Renmotorklanke tydens die 9-uur

Die antwoord begin vroeg vorm aanneem toe Buhk se GruppeM-Merc op die eerste rondte met enjinprobleme onttrek.

Dis alom ’n verlies. Die geelslang is by uitstek iets om na te kyk en te luister, maar die ander Mercs skeur ’n ewe diepe dreuning uit hul 6.2-liter-V8’s los. Dis die klank van enorme wring, eerder as ’n fyn hoogtoerende keelskrou soos die Ferrari 3.9-liter-dubbelturbo-V8 s’n.

Dis asof die AMG GT3 ’n ploegskaar agter hom aansleep. Die Merc bulder soos Don Panoz se Le Mans-motors van ouds.

Ditto die Bentley, wat skynbaar ’n pad deur die Onstille Oseaan moet beur. Dis ’n laefrekwensie-kakofonie wat jou aan die laaste reël van Matthew Arnold se “Dover Beach” laat dink. “Where ignorant armies clash by night,” het Arnold gedig. Dis nag as die Bentley verbyboender. Dis oorlog.

So ook die Astons. Sowel die Vantage AMR GT3 as die Continental GT3 dryf uit ’n 4.0-liter-V8 met dubbelturbo’s, maar waar die Bentley die dag swart verf, kleur die Aston dit donkergrys. Daar’s ’n gerf minder geweld in sy donker donder.

Nog iets wat die Bentley en veral die Nissan GT-R se 3.8-liter-dubbelturbo-V6 doen is om geweerskote tydens ratverwisselings te knal.

’n Sweepklap op steroïede sou net die helfte wees van wat jy uit dié twee motors hoor, of sien, want die Bentley blaas boonop oranje vlamme by sy sy-pype uit. Bwaam!

Dis ’n deur-die-muur-sny-klank. Dink net wat dit aan jou ore doen.

Die goue klankmedalje

Die BMW is weer baas as die turbo se afvalklep oopmaak om oortollige druk met ’n pop-pop-pop en tjie-tjie-tjie weg te blaas soos jaers draai-in van die versneller klim. In ’n mate red dit die oudio-ervaring want van alle enjins klink die Beemer se 4.4-liter-dubbelturbo-V8 die meeste na ’n standaard-padmotor s’n.

Die Honda NSX se brul uit ’n 3.5-liter-biturbo-V6 vaar nie veel beter nie. Die klank is puur genoeg, indien nie heeltemal so warm en intiem soos die BMW s’n nie, maar in hierdie soort geselskap kort die NSX iets meer om siele te roer.

Die waarlike hoëfrekwensie-skroue kom almal uit VW-groepmotors. Die Lamborghini se gil is klassieke V10, skerp en priemend, maar interessant genoeg sny die Porsche se 4.0-liter-plat-ses nog dringender deur die Kyalami-lug.

Dis nie ’n muur-platry-klank soos die Merc of Bentley s’n nie. Dis ’n deur-die-muur-sny-klank. Dink net wat dit aan jou ore doen.

En tog gaan die goue medalje vir oudio aan Audi. Dis dieselfde onaangejaagde 5.2-liter-V10 as die Lambo s’n, maar dalk met ’n ander uitlaatstelsel, want die R8 GT3 skrou die heelal met ’n unieke klankkombinasie aan’t skerwe; ’n mengsel van gil, bulder, bars en brul, alles in een.

In die opperregisters is daar selfs ’n nasmaakloei wat agter die Audi aan boor.

bentley
’n Bentley ruil bande om.

Kalmte voor die storm

Mens weet van die oorlog wat kom. Dit gaan op die baan donder, én in die hemel.

Tog is dit vroegoggend amper ondenkbaar. Alles is so rustig en stil. ’n Paar mense drentel deur die kuipe, tussen die werktuigkundiges se gereedskapkaste deur.

Pirelli het 4 000 P Zero-bande ingevlieg en altesaam 70 000 liter se 102-oktaan word in houers agter die kuipe gestoor. In elke kuip hang dosyne oorfone en handradio’s, ry op ry.

Motorsport is veel meer van ’n spansport as wat mense besef.

Buite, in die kuipelaan, is daar om half-agt in die oggend reeds werktuigkundiges wat gekleurde kleeflintstroke met ’n sagte hamer op die teer vaskap om hul span-areas duidelik te merk sodat jaers presies kan sien waar om te stop.

Daarna word die stroke kleeflint elke halfmeter of so met ’n Stanley-mes deurgesny, sodat die span nie ’n volle strooklengte hoef te vervang as die lint ná ’n kuipestop deur die bande van ’n wegvlieënde monster losgeruk en verfrommel word nie.

Daar is ook veel meer finesse in motorsport as wat mense sou dink.

Van buite lyk alles so rof en bruut, maar net die ontwerp van ’n wielmoerboor is ’n ingewikkelde stukkie kuns wat nie uit die haastige, wilde “zzzrriieeee” van sy luggedrewe werking afgelei kan word nie.

’n Kaleidoskoop van ervaringe

Die dag ontvou. Toeka se oornagkampering en dop en tjop het in die slag gebly. Nou’s daar helikoptervlugte. Akrobatiese vliegtuigvlugte. VW Polo-voorwedrenne. Renstelwedrenne vir kinders. Soweto-spinners wat hul BMW 325iS “Gusheshes” in sirkels rook. Klassieke motors van elke kleur en geur. Musiekkonserte ná die renne.

Kaartjieverkope dui op ’n bywoningsyfer van net 12 000 mense, maar diegene wat om die baan gestap het sou verbaas kon wees oor hoe volgepak elke toeskouer-area was – en Kyalami bied vele goeie kykpunte, soos op die wal langs die kort pylvak wat die Esse binnestoom, waarvandaan mens presies kan sien watter lyn en korreksies elke motor deur die eerste es volg.

En dan daai 9-uur-lange klankkokon reg om Kyalami, van Crowthorne deur die Jukskei-swiep en Barbeque, Sunset, Clubhouse, die Esse, Leeukop, af in die Mynskag, deur die Krokodille en Cheetah tot by Ingwe.

Op ons wandelinge ontmoet ek en kollegas Stuart Johnston en Denis Droppa die sportmotorlegende David Piper, 89 jaar oud maar skynbaar met geen geheueverlies as hy toeka se dae tot in die fynste besonderhede herroep. Op ’n ander geleentheid praat ek met die oudjaer John Watson, een van die renwêreld se vername geeste en nou ’n vooraanstaande kommentator.

Fangio, reken hy, bly die groot meester.

En almaardeur wag ons op die reën, wat eers om kwart voor agt uitsak; een storting, en toe ’n tweede om kwart oor nege, wat net minder as ’n halfuur oorlaat toe die pasmotor uiteindelik kuip.

Dis ’n halfuur waarin Nick Tandy die opposisie frikkadel. Hy maalvleis hulle. Frikadelli wen die ren, Dennis Olsen wen die jaerstitel en Porsche wen die vervaardigerstitel.

Wat ’n heuglike dag is dit nie, in die annale van ’n baan wat nou deur die baas van Porsche SA besit word.

Maar wat bowenal bybly, is die atmosfeer, die kleure, die klanke, die spoed en die spektakel – plus ’n aptyt om dit volgende jaar weer te beleef.

Kyalami is terug. Lank lewe die 9-uur!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.