Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Lauda se veggees was onblusbaar

Die voormalige F1-kampioen en gerespekteerde in F1-kringe Niki Lauda (70) is Maandagaand in Oostenryk oorlede nadat hy die afgelope paar maande ál meer met sy gesondheid gesukkel het.

Lauda het in Augustus verlede jaar ’n longoorplanting gekry, maar is twee weke gelede weer in die hospitaal weens longontsteking opgeneem.

Niki Lauda (70) was een van die mees gerespekteerde mense in F1-kringe.Foto’s: AP

Sedert sy groot ongeluk in die Duitse Grand Prix in 1976 op die Nürburgring het hierdie gewilde oudrenjaer nog altyd met sy longe gesukkel. Sy Ferrari het op die renbaan aan die brand geslaan ná ’n ongeluk terwyl hy nog in die motor was. Hy kon nie uit die motor kom nie en moes wag tot hulp eers opgedaag het.

Hy het derdegraadse brandwonde aan sy gesig en kop opgedoen en rook ingeasem. Die dokters het gedurende die operasie nie gedink dat hulle hom meer kon red nie. Tog het Lauda se hart bly klop en hulle kon die operasie voltooi.

Hy het 40 dae later met sy kop steeds in verbande teruggeklim in sy motor en die res van die seisoen voltooi.

Sy sukses as F1-renjaer sou hom alreeds in die annale verewig het: Hy was in 1975 en 1977 die kampioen vir Ferrari, en later in 1984 weer agter die stuur van ’n McLaren. Maar dit was sy kenmerkende voorkoms (sy ore was grootliks weggebrand) en kanniedood-karakter wat aan hom legende-status besorg het.

Plastiese chirurgie was in die 1970’s nie naby wat dit vandag is nie. Ná sy brandwonde het Lauda ’n kenmerkende gesig in die renwêreld gebly.

Gevolglik het hy in ’n sport, wat bekend is vir glansryke karakters met flambojante leefstyle, een van die min mense geword wat deur almal vir sy karakter, persoonlikheid en vernuf gerespekteer was.

Lauda is in 1949 gebore en het op jong ouderdom teen sy ouers se wense aan motorsport begin deelneem. Hy het later ’n lening aangegaan om sy sportloopbaan te verwesenlik en het sy F1-debuut in 1971 eers op March en later op BRM gemaak.

Enzo Ferrari het hom in 1974 gevra om vir sy span te kom jaag. Reeds in sy eerste ren agter die Ferrari het hy met ’n podiumplek teruggekeer, waarna ’n debuut-sege drie renne later in Spanje gevolg het. In 1975 het hy die F1-kroon geneem – die eerste keer vir Ferrari in ’n dekade.

Sy opmars na ’n tweede kroon was die volgende seisoen stewig op pad totdat hy in die Duitse ren die ongeluk gemaak het. Die jaar daarna het hy egter weer eens sy onblusbare veggees en talent gewys deur die titel weer te verower.

In sy loopbaan het hy eindelik aan 171 renne deelgeneem en 25 gewen. Tydens ’n blaaskans van F1 in die vroeë 1980’s het hy ’n eie lugredery, Lauda Air, begin maar dit het nie dieselfde hoogtes as sy F1-loopbaan behaal nie. Hy het later in die 1990’s teruggekeer na F1 in ’n bestuurshoedanigheid, eers by Ferrari en later by Mercedes.

Meer oor:  Niki Lauda  |  Oostenryk  |  Sterfgeval  |  Formule 1-Legende  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.