Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Lekker kampeer, dis nou wors

Waar’s die dae dat jou Jag lank, slap en gevul met die huide van ’n beeskraal vol koeie was?

Die Wienermobile, nou te huur op Airbnb. Vir wanneer daardie kampeergevoel saamval met ’n leë maag.

Deesdae se statussimbole is enorme sportnutse met eksotiese name soos Bentayga, Cullinan of, wel, I-Pace.

Jip, die elektriese I-Pace is Jaguar se jongste sportnuts en teen R1,6 miljoen is hy straks nie die grootste wa voor die Ritz nie, maar gewis in dieselfde liga wat prys betref.

Nou blyk dit Jaguar is van plan om nóg ’n sportnuts tot sy familie van weeldevoertuie toe te voeg. Want sien, dié hoogstaan-voertuie verkoop flinker as emigrasiepakkette in ’n sosialistiese land.

In die nie te verre verlede nie was die gedagte aan ’n Jaguar-sportnuts so vergesog soos ’n kaalnaeler by die opera. Maar vandag is die E-Pace en F-Pace sy beste ver­kopers – met meer as dubbel die verkope van sy XE- en XF-sedan.

Knormoer is daarom glad nie verras om te sien die groen lig is pas gegee vir nóg ’n sportnuts in die Jaguar-stal nie.

Die nuwe J-Pace (hoe lank voordat die alfabet uitgeput gaan wees?) gaan die groep se grootste sportnuts nog wees. Koste, sê Jaguar, kon in toom gehou word deur die nuwe weeldenuts­wa sy meganika te laat deel met Land Rover se volgende Discovery.

Dis natuurlik ’n waagstuk, ’n heel nuwe model, want Jaguar-Land Rover het in die eerste helfte van die jaar finansieel gesukkel. As jy nou vat, moet jy raakvat.

Knormoer sou raai daar is nog twee ander segmente wat Jaguar kan takel: ’n babasportnuts (Merc GLA-gebied), en ’n klein sportmotor, soos die eerste Porsche Boxsters.

  • Dis twee sjiek voertuie wat direk spreek tot jonger vrouekopers , wat tans deur min vervaardigers bereik word. Sê maar net, Jaguar.

Chev se ’Vette pret

Jaloers op jou buurman se ’Stang? Byt vas, liefhebber van die Goue Strikdas. Chevrolet het pas bekend gemaak hy gaan sy nuwe Corvette voortaan ook in regterstuurweergawes bou.

Dis opwindende nuus vir petrolkoppe. Ja, die wêreld van sportmotors word natuurlik deur Europese rygoed soos Porsche, Ferrari, Maserati en Lamborghini oorheers. Met hier en daar ’n Japanner tussenin.

Maar wat vet V8’s betref, en ’n ongekunstelde eerlikheid in hul meganiese eenvoud, gaan jy nie verder hoef te soek as ’n stuk Americana nie.

En hier is die Corvette – saam met die Ford Mustang en Dodge Charger – seker een van die klassiekste name.

Die ’Vette is nou reeds in sy agtste generasie, en die eerste keer gaan Detroit hom nou ook in regterstuurformaat bou. Wat beteken markte soos Brittanje, Australië en Suid-Afrika sal hom wettig mag invoer.

Knormoer reken indien die Corvette hier opeindig, gaan hy beslis in sy eerste paar lewensmaande gewild wees. Daar’s ’n nostalgiese waarde aan die naam wat vervul sal kan word.

Hierna sal die gewone koper steeds sy opsies oorweeg, en feitelik kies tussen ’n 911 en ’n Corvette.

  • Knormoer verneem die gerug dat die ’Vette se bekerhouer ook ’n Big Mac kan inpas, is net fiksie.

Koel in jou warmbrak

Ywerige winskopiejagters op die Airbnb-app sou vandeesweek ’n nota maak agter die jongste toevoeging van obskure verblyfplekke op dié wêreldwye verblyfsoek-app.

In Amerika het die kitskosgroep Oscar Mayer pas een van sy ikoniese promosievoertuie wat soos ’n warmbrak lyk as ’n woonwa ingerig.

Teen R2 000 kan jy nou in jou eie Wienermobile by die musiekfees gaan oorslaap. Worsbroodjies (en memorabilia daarvan) is gratis ingesluit.

  • Knormoer het al op die strand, in ’n konsistorie en ’n (ou) tronk geslaap. Maar ’n warmbrak is straks net die sous werd.
Meer oor:  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.