Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Lewis amper daar

Die kollektiewe gehoor van die internet kon voorverlede week nie anders as om die oë te rol nie ná Lewis Hamilton se Instagram-boodskap aan sy 13 miljoen volgelinge dat “die enigste manier om die planeet werklik te red is as almal vegans raak”.

Dit is opgevolg met kwasi-selfondersoekende “noodkrete” waarin die amper-sesmalige F1-kampioen en Brittanje se hoogs betaalde sportman die sin van sy eie lewe bevraagteken; en ’n roubekla oor wat die moderne mens vir sy omgewing voel.

Lewis Hamilton het in ’n chaotiese Mexikaanse Grand Prix Sondag net genoeg gedoen om uit die moeilikheid te bly en sy kanse op ’n volgende F1-titel so te sê vas te messel. Foto: Reuters

Dié skynheilige gesanik, met ’n soortgelyke sensasionele smaak soos die Cool Aid wat die Sweedse groenwas-tieneraktivis Gretha Thunberg gorrel en met fanfare uitdeel, is mettertyd van sy Instagram-rekening verwyder.

“Erger” nog: Tien dae later, ná sy soveelste vlug in eersteklas vanaf sy tuiste in Monaco (F1-jaers vlieg gemiddeld 200 keer per jaar), triomfeer hy in die Mexi­kaanse Grand Prix onder die onmoontlikste omstandighede, danksy die sinlose, selfsugtige (dog dodelik doeltreffende vernietiging) van rubber, olie en osoonpartikels in sy Mercedes W10.

Hoe moes hy Maandagoggend gevoel het? Eintlik blerrie goed.

Teen 2 285 meter bo seespieël is die Hermanos Rodriguez-renbaan in Mexikostad die hoogste van enige op die F1-kalender en eiesoortig aan die eise wat hy aan die motors stel. Die lugdruk is ’n kwart dunner as op seevlak, wat op sy beurt verreikende kompromieë van die kraglewering, hitte-wegleiding van die enjin en remme, sowel as die doeltreffendheid van die motors se aërodinamika vereis.

En natuurlik ook die baan se pylvakke, waarmee dié lugkasteel vir die sesde opeenvolgende ren vir die lighoofdige Ferrari-span as gunstelinge met die voorste wegspringposisie gesalf het. Hamilton, wat derde sou aantree, moes 14 punte meer as sy spanmaat, Valtteri Bottas (sesde), verdien om vanjaar se jaers­kroon te verower.

Maar wat begin het as ’n jakkalsdraf van die vleiseters – gelei deur die selferkende beeshaas-bobaas (só tot vervelens gepeper deur die media), Charles Leclerc, sy spanmaat Sebastian Vettel (’n schnitzel-smulpaap) en die burger-booswig, Red Bull se Max Verstappen, met laasgenoemde wat met die biesies-en-blare-Hamilton deur die eerste draai verstrik geraak het – sou gou ontrafel in ’n wals tussen Pirelli en onderskeie spanne se strateë, met baardvrywery oor dié rubber se lewensverwagting as hooftema.

Mercedes, Red Bull en Ferrari was almal onseker of selfs die hardste beskikbare band die volle renafstand sou hou. Laasgenoemde twee spanne het onderskeidelik Alexander Albon en Leclerc voorkomend en strategies vir dubbele kuipestoppe ingeroep.

Met Verstappen wat reeds in die vyfde rondte kuipe toe is weens ’n pap band ná kontak met Bottas en sy pad van agter moes oopveg, was die ren ’n voldonge vierstryd tussen die Mercedes- en Ferrari-jaers.

Die 47 rondtes wat Hamilton ná sy enkele kuipestop van sy harde Pirelli’s verwag het, is aanvanklik en herhaaldelik as onuitvoerbaar afgemaak, maar dié vrees is mettertyd tussen die see van Mexikaanse doodsmaskers ontlont as ’n koue pampoen.

Teen die tyd dat Vettel (selfs met bande wat 13 rondtes varser was) dit besef het, was Hamilton se beeld bloot ’n hersenskim op die horison, met sy bande wat, danksy die warm baanoppervlak, ongeag hul ouderdom voortdurend en verbluffend identiese rondtetye teenoor Vettel s’n gelewer het.

Ten eerste was hierdie verskynsel opsigself ’n vloek teen die status quo van Formule 1 en sy mandaat teenoor Pirelli, waarin die behaal van sukses bepaal word – lankal nie meer deur enjinkrag of tegniese vindingrykheid nie, maar kwansuis deur die voorspelbaarheid van bandverrigting en die vermoë om dit te antisipeer – en hierdie obsessie in Mexiko op die spits gedryf is.

Bygesê het Hamilton niks gehad om vanaf sy derde wegspringplek te verloor nie, maar dit bly onbetwisbaar dat die F1-spanne se voorspellings, simulasie-slimhede, en ’n arsenaal van die wêreld se slimste superrekenaars, lanklaas die bal só erg misgeslaan het in hul wanvoorspelling van hoe ’n beperkende faktor bande in ’n resies gaan wees – of nie.

Aan die ander kant was dit fassinerend dat enige van die topvier, wat almal op verskillende tye vir hul kuipestoppe aangedoen het, kon wen. Minder onvoorspelbaar was die feit dat die beste motor, bestuur deur die beste jaer, met die beste bandverbruik uiteindelik met die louere weggestap (en waarskynlik geëet) het, en sy spanmaat van sesde tot derde kon verbeter het.

Met ’n skamele vier punte wat tussen Hamilton en sy vyfde opeenvolgende jaerskroon staan, is dit ’n uitgemaakte saak dat hy dit Sondag in Amerika syne gaan maak.

Die ironie dat hy hierdie mylpaal gaan behaal in ’n verbruiksugtige land wat onder die heethoofdige Donald Trump brand om hom so gou moontlik uit die Parys-ooreenkoms vir klimaatsbeheer te haas, is ewe onmiskenbaar. Weet dus egter een ding: Lewis Hamilton gaan nié Sondagaand sy nuwe rekord met braaivleis vier nie.

  • Die Amerikaanse Grand Prix vind Sondag in Austin op die Circuit of the Americas plaas.
Meer oor:  Lewis Hamilton  |  Motors  |  Formule 1  |  Motorsport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.