Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Lewis ís goed, maar iets pla

Daar is leuens, infame leuens – en dan is daar Formule Een-statistieke.

Op 12 Julie het die Mercedes-jaer en sesmalige, verdedigende wêreldkampioen, die 35-jarige Lewis Hamilton, slegs die tweede jaer in die geskiedenis geword wat ’n Formule Een-sege in drie afsonderlike dekades kon beklink: ’n Mylpaal wat slegs drie huidige F1-jaers – Daniel Ricciardo, Max Verstappen en Charles Leclerc – op die vroegste teen 2030 sal kan haal.

Geeneen van hulle sal egter ooit Hamilton se welslae van 96 voorste wegspringposisies of 51 vinnigste rondtes in hul leeftyd oortref nie. En in Sondag se Eifel Grand Prix in Duitsland het die Brit ’n verdere mikpunt bereik deur Michael Schumacher se loopbaanrekord van 91 oorwinnings te ewenaar wat hom, statisties gesproke, die mees bekroonde jaer in F1-geskiedenis maak; en daarmee saam kom die voorveronderstelling dat hy die koning van die konings is.

Maar is hy werklik?

In sulke gesprekke is die waninterpretasie van prestasie kennelik die teelaarde van vooroordeel. Hoewel van Hamilton se suksesse uitstaan as die hoogste bome in ’n oerwoud van soms oorbeklemtoonde mylpale, steek daar meer in sy CV as net oorbeklemtoonde mylpale.

Niemand kan stry teen sy wenrekord van 9,85 seges per seisoen of minstens een oorwinning in elke jaar van F1-deelname nie.

Die Eifel Grand Prix is die naweek op die Nürburgring in Duitsland beslis. Wat ’n vervelige prosessie van jaers kon wees, is opgehelder danksy die veiligheidsmotor se tussentrede wat enkele jaers bevoordeel het. Foto: AP

Maar aan die ander kant kan ’n matador se grootheid uitsluitlik gemeet word aan die felheid van die bulle wat hy die stryd aansê.

Tesame met Hamilton het sy mede- veelvoudige wêreldkampioene van die afgelope twee dekades – Michael Schumacher, Fernando Alonso en Sebastian Vettel – ook almal ten minste een jaerskroon verower in die afwesigheid van kranige mededingers.

Heel boaan dié groepie allerheiligstes staan Schumacher, wat voor die vestiging van die huidige Mercedes-dinastie sekerlik die swaarste gedra het aan die kruis van belaglik maklik gewonne jaerskrone danksy ’n era van ongesonde oorheersing deur sy Ferrari-span.

Ondanks gerugte van knoeiery was sy debuuttitel in 1994 met sy Benetton-Ford welverdiend vanweë die taktiese uitoorlê van sy mededingers in kwalik die vinnigste motor van daardie jaar, met slegs burokratiese beuselagtigheid teenoor Schumacher wat die kampioenskapstryd kunsmatig tot die jaareinde verleng het.

Daarna het die Duitser as Ferrari-jaer die (destyds) magtige McLaren-span by die horings gepak – en in 1998 en 1999 tweede gekom teen die vlieënde Fin Mika Häkkinen.

Die Rooi Baron se eerste Ferrari-jaerskroon is egter senutergend bemeester toe hy vir Häkkinen ná ’n naelbytstryd met ’n beter berekende kuipestop in die laaste ronde van die 2000-seisoen op ’n smerige Suzuka-baan uitgestof het.

Van 2001 tot 2004 het die Schumacher-Ferrari-kragkombinasie ongekende hoogtes bereik (met ’n amper identiese jaarlikse ren-tot-wen-verhouding van 9,28 per jaar teenoor Hamilton s’n); terwyl Schumacher die voorreg en voorrang geniet het van ’n plooibare spanmaat – op dieselfde wyse dat Valtteri Bottas in diens van Hamilton staan. Tesame met ’n afwesigheid van enige noemenswaardige mededinging.

Alonso kon eindelik in 2005 Ferrari se houvas op F1 verbreek. Bygesê, dit was met die hulp van FIA-intervensies, wat in daardie jaar bepaal het dat bande ’n volle renafstand moes hou, spesifiek om die spanne op Bridgestone (eintlik net Ferrari) te beteuel.

Maar in 2006 het hy en Schumacher soos kat en hond baklei en het die Spanjaard verrys as F1 se nuwe messias.

Toe volg Vettel, wie se viertal wêreldtitels van 2010 tot 2013 slegs gestuit kon word deur ’n verandering in die enjinregulasies van 2014, toe die huidige en gehate turbo-hibried-era begin het.

Spesifiek was sy 2010- en 2012-titel die resultaat van ’n bitter stryd met Alonso, wat bomenslike vertonings uit sy tweederangse Ferrari gewurg het, terwyl die oorblywende twee veldtogte amper pogingloos was toe die Ferrari’s kranksinnige kortasems was en Vettel se spanmaat, Mark Webber, te stadig of te wisselvallig was om ’n kroon-knoop deurgehaak te kry.

En Hamilton?

Ná ’n seisoen lange stryd met die Ferrari van Felipe Massa het eersgenoemde sy debuuttitel in 2008 skouspelagtig in die laaste draai van die laaste rondte in die chaos van ’n nat Brasiliaanse Grand Prix verower.

Maar nadat eersgenoemde McLaren vir Mercedes in 2013 verruil het, en die Silwerpyle die nuwe, ingewikkelde 1.6-liter-turbohibried-V6-enjins die gouste bemeester het, het sy wenstatistieke stellig minder oortuigend geword – en al hoe meer tekenend van absolute oorheersing.

In 2014 het Hamilton sy spanmaat en naaste titelaanspraakmaker, Nico Rosberg, met 384 punte teenoor 317 geklop en in 2015 met 381-322.

Rosberg het in 2016 teruggeveg, geseëvier en dadelik uitgetree, waarna Hamilton Vettel met 363-317 in 2017 gelooi het, gevolg deur ’n nóg bloediger loesing van 408-320 vir Vettel in 2018; en 413-326 se streepsuiker vir Bottas in 2019.

Die punt is dat Hamilton kampioenskappe sy eie gemaak het in ’n tydperk wat aanvanklik gedefinieer is deur die meganiese uitdagings van die nuwe enjins (2014 en 2015), en toe deur een sonder strawwe mededinging (van 2017 tot op hede); bes moontlik danksy die betroubaarste en blitsigste motor, skaamtelose bevoordeling deur sy span – en wat weerspieël word deur sy perkelose seëpraal.

Wat onvermydelik vrae oor sy goud se glans opper.

Ter versagting staan die geskiedenisboeke onverskillig teenoor die graad van mededinging en kan nóg Schumacher nóg Hamilton pa staan vir minder vaardige mededingers in hul gloriejare.

Bygesê, Häkkinen en Alonso het albei ’n vuurdoop teen Schumacher oorleef – en getriomfeer, terwyl Hamilton vir slegs een jaar (2007) ’n gelyke in Alonso gehad het; en daardie seisoen met ’n identiese puntetal afgesluit het.

  • Dis duidelik dat Hamilton danksy sy onoortreflike rekord in die geskiedenisboeke verhef sal word tot die beste jaer van alle tye. Wat egter altyd sal ontbreek is die asterisk daarby. Die Portugese Grand Prix vind volgende Sondag by Portimão plaas.
Meer oor:  Lewis Hamilton  |  Formule Een  |  Statistieke  |  Wêreldkampioen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.